Mej. Heelal terug in SA

Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, land in Suid-Afrika. (Foto: Kopano Tlape. GCIS)

Suid-Afrika se eie skoonheidskoningin Zozibini Tunzi het Saterdag teruggekeer na eie bodem, nadat sy Desember in Atlanta, Georgia, as die nuwe Mej. Heelal gekroon is.

Suid-Afrikaners het in honderdtalle opgedaag om haar by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg te verwelkom.

Sy het die afgelope week oor haar tuiskoms gesê: “Ek kan nie wag om die energie te beleef wanneer ek terugkeer nie. Hierdie oorwinning gaan nie net oor myself nie. Ek deel dit met alle Suid-Afrikaners en tel die dae totdat ek dit saam met my mense kan vier.” Sy sê ook sy het sonskyn en ryk kultuur van Suid-Afrika gemis terwyl sy in New York was.

Op die vraag wat sy eerste gaan eet terug by die huis, het sy geantwoord: “Definitief Nando’s. Hulle het nie Nando’s daar waar ek in New York gewoon het nie en ek sien so baie uit daarna om dit weer te eet.”

Tunzi sê haar lewe het heeltemal verander vandat sy as Mej. Heelal aangewys is en sy dink nie dit sal ooit weer dieselfde wees nie. “Ek het nog nooit voorheen die geleentheid gehad om in die buiteland te reis nie en sedertdien het ek soveel wonderlike plekke besoek en mense ontmoet wat ek nooit gedroom het ek sal ontmoet nie.”

Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, land in Suid-Afrika. (Foto: Kopano Tlape GCIS)

Daar word verwag dat sy ʼn besoek aan Kaapstad sal aflê en dan na die twee dorpe waar sy grootgeword het, Tsolo en Dutywa in die Oos-Kaap, sal gaan. Hier sal sy haar familie ontmoet, wat volgens Tunzi haar grootste aanhangers is. Sy sal ook haar voormalige laerskool besoek. Tunzi wil ook ʼn nuwe skool hier bou.

Later die week sal sy in ʼn oop bus deur die strate van Johannesburg toer om haar aanhangers hier te groet.

Werner Wessels, Tunzi se kompetisieafrigter, het Saterdag gesê hulle is almal so opgewonde om Tunzi terug te verwelkom. “Dít is so ʼn historiese oorwinning en ons kan nie wag om saam met haar en die hele Suid-Afrika fees te vier nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

sy het baie geld gemaak om sommer net ‘n nuwe skool te bou, waar het dit uitgeval ?

Andries ·

Sy kan nie Mej.Helal wees nie,want om daardie titel te he moes sy teen mense op aarde en op ander planete deelgeneem het.Dit is als die heelal.

Hennie ·

Steeds uit die veld geslaan dat sy die kompetisie gewen het……

MakersMark ·

Universe titel die arm niggie van wereld titel………
.

Realis Thailand ·

Ek moet in my opinie se ek sou haar definitief nie gekies het nie
Daar is vele mooier meisies gewees en ek het die kompetisie gekyk. Ek glo dit was maar politiek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.