Mej. SA 2021: Hier is alles wat jy moet weet

Die nuwe mej. Suid-Afrika word Saterdag in Kaapstad gekroon en vanjaar se geleentheid beloof om een te wees wat lank in mense se geheue geëts sal bly.

Hier is alles wat jy oor vanjaar se geleentheid moet weet.

Huidige koninginne

Chanique Rabe van Namibië. (Foto: Sweetness Mootseng/Facebook)

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gaan vanjaar geskiedenis maak wanneer die huidige titelhouers van die mej. Wêreld-, mej. Heelal- en mej. Supranasionaal-kompetisie die geleentheid Saterdag bywoon.

Toni-Ann Singh van Jamaika, wat tans die mej. Wêreld-kroon dra, sal saam met Mej. Supranasionaal, Chanique Rabe van Namibië, en mej. Heelal, Andrea Meza van Mexiko, in Kaapstad teenwoordig wees wanneer Mej. SA 2021 by die Grand Arena by die GrandWest Casino gekroon word.

“Ons is vasbeslote om die wêreld te wys dat die Mej. SA-kompetisie die gees van ubuntu omarm. Ons het dié drie skoonheidskoninginne genooi om mej. SA, Shudufhadzo Musida, te ontmoet, voordat sy in November op die Mej. Wêreld-verhoog deelneem en te sien wie haar troonopvolger gaan wees,” het Stephanie Weil, hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, gesê.

“Die wêreld maak oop vir plaaslike en internasionale toeriste en Suid-Afrika is weer oop vir sake. Ons is verheug om die land se skoonheid aan ʼn internasionale gehoor te wys.”

Vermaak

Die Ndlovu-jeugkoor. (Foto: Skermgreep uit video)

Die Ndlovu-jeugkoor, wat die VSA stormgeloop het toe hulle die eerste koor geword het wat die finale ronde van die talentsoekreeks America’s Got Talent gehaal het, asook die bekroonde gospelsanger Ntokozo Mbambo en musiekvervaardiger Zakes Bantwini, gaan tydens die geleentheid die gehoor vermaak.

“Die koor gaan drie liedjies sing tydens die kompetisie, twee oorspronklike liedjies en ʼn nuwe weergawe van ʼn liedjie uit die musiekblyspel The Greatest Showman. Al die liedjies het kragtige, opbouende boodskappe wat handel oor om teenspoed te oorkom en in jou drome te glo,” sê koorbestuurder Josh Georgiou.

“Die koorlede is baie opgewonde en geëerd om deel te wees van so ʼn glansryke en gesogte geleentheid. Hulle beplan om hul harte uit te sing en sal die wenner van die aand luid toejuig.”

Mode-ontwerpers

Tracy Efstathiou van Tracy B. (Foto: Verskaf)

Vanjaar is ʼn hele rits top-Suid-Afrikaanse mode-ontwerpers weer deel van die geleentheid. Tracy B sal weer vir die swemdrag verantwoordelik wees, terwyl vyf van Suid-Afrika se voorste ontwerpers, Georges Malelu, Iman Itumeleng Mtshali, Jolandie Fouché, Lena-Lisa Retief en Sello Medupe, die deelnemers se ander uitrustings ontwerp het.

“Omdat die geleentheid so kompeterend is, moet jy seker maak jou rokke laat ʼn blywende indruk op die beoordelaars om al die regte redes terwyl dit die deelnemer komplementeer en haar skoonheid en persoonlikheid na vore bring,” sê Jolandie Fouché, stigter en hoofontwerper by Jolache Couture.

Die kleure van die uitrustings gaan helder wees en sal kenmerkende Afrika-ontwerpe wees. “Ons doel vanjaar is om plaaslike talent te vier op die beste manier moontlik,” sê Werner Wessels, kreatiewe direkteur van mej. SA.

Keuringspaneel

Andrea Meza van Mexiko. (Foto: Rodrigo Varela/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die keuringspaneel bestaan vanjaar net uit vroue en is die huidige mej. Heelal, Andrea Meza, ʼn voormalige mej. Heelal, Pia Alonzo Wurtzbach (2015), twee voormalige mej. SA’s, Basetsana Kumalo (1994) en Tamaryn Green (2018), die aktrise Shannon Esra, vise-kansellier van die Universiteit van Kaapstad, Mamokgethi Phakeng, en radio- en televisieaanbieder Dineo Ranaka.

“Ek is opgewonde om besoek aan Suid-Afrika af te lê. Ek wil graag al die tradisionele kosse probeer en Robbeneiland besoek. Ek is ook opgewonde om op die keuringspaneel van mej. SA te dien en die deelnemers se persoonlikhede en houding te leer ken,” sê Meza.

“My raad aan hulle sal wees om in die oomblik te leef aangesien hierdie ʼn eens in ʼn leeftyd geleentheid is. Doen wat vir jou reg voel, moenie verander wie jy is nie en omarm jou uniekheid.”

Pryse

Die uitsig vanuit mej. SA se nuwe woonstel. (Foto: Indirect Media)

Die wenner van Mej. SA sal ʼn pryspakket en borgskappe ter waarde van meer as R4 miljoen huis toe neem.

Sy sal onder meer R1 miljoen in kontant van die Mej. SA-organisasie ontvang sowel as ʼn ten volle gemeubileerde en gediensde woonstel in die luukse Central Square in Sandton, Johannesburg, wat deur die binnehuisversierder Vursa gemeubileer is. Sy sal ook ʼn Mercedes‑Benz C-klas-sedanmotor ontvang om mee rond te rits terwyl sy die kroon dra.

Sy sal ook onder meer ʼn kroon deur American Swiss, haarversorging deur Lajawi Hair, MUK Haircare, Veaudry Global en Strands of Love, velsorg deur Motherkind en Neda Beauty & Healing, skoene deur Steve Madden en vakansieverblyf deur Sun International ontvang.

Die ander twee wenners van die aand sal elkeen R175 000 ontvang.

Agter die skerms

Catriona Gray. (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Twee voormalige mej. Heelal-wenners, Catriona Gray van die Filippyne (2018) en ons eie Zozibini Tunzi (2019), sal vanjaar as aanbieders agter die verhoog optree tydens die regstreekse uitsending van die geleentheid.

Kykers van oor die wêreld heen kan aanlyn na die geleentheid kyk en kaartjies vir sitplekke in die arena is ook beskikbaar gestel. Om die geleentheid in persoon by te woon, moet jy ten volle ingeënt wees en jou inentingsertifikaat kan toon.

Aanbieders

Nico Panagio. (Foto: Verskaf).

Anele Mdoda en Nico Panagio, twee van Suid-Afrika se bekendste glanspersoonlikhede, gaan vanjaar die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie aanbied.

Mdoda is sedert 2013 deel van die Mej. SA-familie sedert sy die eerste keer as beoordelaar van die kompetisie opgetree het. Dit is vanjaar die eerste keer wat sy ʼn aanbieder gaan wees.

Panagio, wat onlangs as aanbieder van die gewilde werklikheidsreeks Survivor SA opgetree het, het een keer tevore die gesogte Mej. SA-kompetisie aangebied.

“Dit is die toptien wat die middelpunt van die aandag gaan wees. Ek is bloot die voertuig wat die aand gaan laat beweeg, met insig in waar die finaliste se gedagtes moet wees en oor wat die beoordelaars sal dink,” sê Mdoda.

Volgens Panagio is hy opgewonde om die rol van seremoniemeester met Mdoda te deel.

“Anele is die toonbeeld van die viering van die lewe. Sy straal passie en vreugde uit en dit is altyd pret om met haar te doen te kry. Ek verkies gewoonlik om alleen te werk, tensy dit saam met iemand soos sy is.

Toptien

Die toptien wat om die kroon sal meeding, is Bianca Bezuidenhout, Catherine Groenewald, Cheneil Hartzenberg, Jeanni Mulder, Kaylan Matthews, Kgothatso Dithebe, Lalela Mswane, Moratwe Masima, Tiffany Francis en Zimi Mabunzi.

Vanjaar se top-10-deelnemers. (Foto: Verskaf)

Die Mej. SA-geleentheid sal Saterdag 16 Oktober vanaf 17:00 regstreeks op M-Net, DStv-kanaal 101, Mzansi Magic, DStv-kanaal 161 en op MissSA.live uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pietertjie ·

Hoekom moet ek dit weet? Wat gaan met my gebeur as ek dit nie weet nie?

Adri ·

Pietertjie, Vreemd dat jy, ten spyte van jou negatiewe gevoel jeens die geleentheid, steeds die moeite gedoen het om te lees en kommentaar te lewer.

Pieter ·

Jy sal moet spuit ou broer. Kry julle nie vax daar in Orania nie?

Adri ·

Die blote feit jy jou verwerdig om kommentaar te lewer wys dat jy wel belangstel. Anders sou jy verby gehou het.

Blomme ·

Ag die wenner gaan in elk geval ń kleur keuse wees! Maak alles wat opwindend moet wees so vanselfsprekend!

Pieter ·

En Toe was dit soos ene “Blomme” se kommentaar hieronder voortydig voorspel het !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.