Mej. SA as nuwe Mej. Supranasionaal gekroon

Lalela Mswane is Vrydagaand (SA tyd) gekroon. (Foto: Seweryn Cieślik/Verskaf)

Mej. Suid-Afrika, Lalela Mswane, is laat Vrydagaand (SA tyd) as die nuwe Mej. Supranasionaal gekroon.

Die 24-jarige Mswane het in Nowy Sącz in Pole teen verteenwoordigers van 69 ander lande meegeding vir die Mej. Supranasionaal-titel. Chanique Rabe van Namibië het Mswane aan die einde van die geleentheid as haar opvolger gekroon.

“Ek is heeltemal oorweldig; op die oomblik voel dit nog surrealisties,” het Mswane gesê kort nadat die kroon op haar kop geplaas is.

“Ek is baie dankbaar vir al die wonderlike mense wat my ondersteun het, ek sou dit nie sonder hulle kon doen nie. Hierdie titel is nie net myne nie, dit is Suid-Afrika se oorwinning.”

Mswane was regdeur die kompetisie een van die voorlopers en het die beoordelaars beïndruk met haar nasionale kostuum wat hulde aan haar Zoeloe-erfenis gebring het.

“Ons is ongelooflik trots op Lalela en sy het regtig hierdie oorwinning verdien,” sê Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie.

“Dit is ʼn oorwinning vir haar en Suid-Afrika en ons kan nie wag om te sien wat sy op die internasionale verhoog gaan bereik nie.”

Mswane het verlede jaar derde geëindig in die 70ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie in Eilat, Israel, wat deurtrek was met teenkanting van verskeie drukgroepe, politieke partye en selfs die Suid-Afrikaanse regering oor haar deelname hieraan.

Chanique Rabe van Namibië het Mswane as haar opvolger gekroon. (Foto: Seweryn Cieślik/Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.