Mej. SA in Israel wil bydra tot ‘vrede, dialoog’

Lalela Mswane op die OR Tambo-lughawe voordat sy na Israel vertrek het vir die Mej. Heelal-kompetisie. (Foto: Facebook/Official Miss SA)

Lalela Mswane, die huidige Mej. Suid-Afrika, het pas in Israel aangekom om aan die 70ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie deel te neem.

Dít ten spyte van teenkanting van verskeie drukgroepe, politieke partye en selfs die Suid-Afrikaanse regering, wat uiters uitgesproke was daaroor dat Mswane (24) haar behoort te onttrek aan ʼn kompetisie wat in “apartheid-Israel” plaasvind.

Die kompetisie vind op 12 Desember in Eilat plaas. Die Mej. SA-organisasie het egter vroeër vandeesmaand gesê Mswane sal wel aan die kompetisie deelneem ná gerugte dat sy sou onttrek.

Mswane het Saterdag van die OR Tambo-lughawe in Johannesburg vertrek. Sy het voor haar vertrek in ʼn heldergeel broekpak deur Natalia Jefferys met ʼn groot Suid-Afrikaanse vlag poseer om haar aanhangers en landgenote te groet en te bedank vir hulle “volgehoue ondersteuning” die afgelope maand.

“Ek is uiteindelik op pad na Mej. Heelal en ek is opgewonde en dankbaar vir al die liefde en ondersteuning. Ek ontvang dit en voel dit en neem dit saam met my. Hou asseblief aan om my te ondersteun op my reis. Ek is lief vir julle almal,” het Mswane in ʼn video-boodskap op die lughawe gesê.

Die Mej. SA-organisasie het dit ook duidelik gemaak dat hy Mswane se reis na Israel ondersteun.

“’n Baie, baie klein maar uiters uitgesproke groep het probeer, maar misluk, om Lalela se kanse by dié gesogte internasionale kompetisie in die wiele te ry. As die huidige Mej. SA sal sy egter by 70 deelnemers van ander lande aansluit om Suid-Afrika na die beste van haar vermoë te verteenwoordig,” het Stephanie Weil, hoof van die Mej. SA-organisasie, vroeër gesê.

Lalela Mswane op die OR Tambo-lughawe voordat sy na Israel vertrek het vir die Mej. Heelal-kompetisie. (Foto: Facebook/Official Miss SA)

Luidens ʼn verklaring deur Mswane is dit nie net “’n eer en ʼn groot verantwoordelikheid” om Suid-Afrika te verteenwoordig nie, maar is sy ook “vasberade om die land te dien na die beste van my vermoë”.

“Buiten dat ek ʼn nasionale platform gegun is tydens my heerskappy om wyer te kan uitreik wanneer ek die ekonomiese en sosiale kwessies takel waartoe ek myself verbind het, kom die titel ook saam met die geleentheid om ons land op ʼn internasionale platform te verteenwoordig saam met vroue uit alle omstandighede wat almal byeen kom om ʼn positiewe verandering mee te bring in die sake waaroor hulle passievol is,” het Mswane gesê.

“Ek staan vandag as ʼn bemagtigde vrou omdat soveel van my voorgangers geveg het vir ons stemme om gehoor te word. Ek voel dit is my plig om dieselfde te doen vir vroue van die verlede, vroue van vandag en toekomstige vroue.”

Sy het ook gesê daar is “geen beter tyd” om lig te werp op kwessies wat vroue raak nie.

“Ek sien my deelname aan die kompetisie as ʼn unieke geleentheid om by te dra tot ʼn proses van dialoog en vrede.”

Die voormalige Mej. Suid-Afrika, Shudufhadzo Musida, is tans in Puerto Rico om Suid-Afrika in die Mej. Wêreld-kompetisie te verteenwoordig. Die kompetisie is verlede jaar weens Covid-19 uitgestel. Die kompetisie vind op 16 Desember plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Misky ·

Ek kry sommer lekker vir jou part en ek hoop jy wen en wys daardie “ander” klomp ‘n ding of twee en wonder watse deuntjie gaan hulle dang sing…. En wow, daai geel uitrusting lyk fantasties aan haar!!!

Annelize ·

Ek is baie bly jy het jou vrou gestaan teen die druk. Dis per slot van sake ‘n skoonheidskompetisie, nie ‘n politieke byeenkoms nie. Alles wat die politici aan raak verander in elkgeval in ‘n gemors. Mag jy los hande wen!

JohanR ·

Blykbaar nie na Israel toe nie want daai land is die mees ingeente land in die wereld. Miskien moet Lalela Mswane nog geent wees voorday sy kan aan land stap, of sy is daar getoets vir Covid-19. Sy moes ook seker bewys voordat sy SA los dat sy Covid-19 vry is.

annie ·

Ons deelnemers kan nie altyd wen nie. Om so die beoordelaars te beïnvloed is ok nie reg nie. Dit skep ‘n president vir die toekoms. Mind you…

Shakespeare ·

Lalela jy is ‘n vars briesie in RSA se besoedelde ANC/EFF ekonomie. Ek staan bankvas agter jou.

JohanR ·

Hoop jy wen Lalela Mswane. Lalela Mswane 10 ANC,EFF, Cosatu, SAKP -50.

Belinda ·

Trots op haar omdat sy teen politiese besluite gegaan het wat haar wou afraai deel te neem. Good luck dame!

Nico ·

Ek het baie groter respek vir haar as ‘n sekere Quinton de Kok.
Hoop alles wat goed is vir haar.

Estelle ·

Ek respekteer Quinton omdat sport nie sy afgod is nie. Ek sal ook nie vir BLM buig nie.

Estelle ·

Ek hoop jy wen. Jy het nie die knie gebuig voor groepsdruk nie. Waarlik n voorbeeld vir ons jeug.

Owlie ·

Alle voorspoed vir Lalela Stap uit net jou kop omhoog en weet hoeveelste jy ookal kom, jy is reeds n wenner en het nie die politiek of regering nodig om stranded te bly nie

Eden ·

Dit lyk my Lalela ondersteun apartheid. Die Israeli’s (terloops nie my gunsteling nasie nie) beoefen mos apartheid. As Lalela wit was sou die EFF al haar huis afgebrand het en ‘n bekende massamedia instansie reeds 12 artikels geplaas het hoe wittes verlang na “apaatheit”.

Vrijburger ·

“Ek sien my deelname aan die kompetisie as ʼn unieke geleentheid om by te dra tot ʼn proses van dialoog en vrede.”
Dit werk vir my. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.