Mej. SA-naaswenner gaan meeding vir Supranasionaal-titel

Ayanda Thabethe, Mej. SA 2022-naaswenner. (Foto: Verskaf)

Ayanda Thabethe, die Mej. SA 2022-naaswenner, gaan in Julie poog om die derde Afrikaan in ʼn ry te wees wat die gesogte Mej. Supranasionaal-titel verower.

Die Mej. SA-organisasie het Dinsdag aangekondig dat Thabethe Suid-Afrika by dié kompetisie – wat op 14 Julie in Pole gehou word – sal verteenwoordig.

Lalela Mswane, Mej. SA 2021, is tans die heersende Mej. Supranasionaal nadat sy dié titel verlede jaar by Chanique Rabe van Namibië oorgeneem het.

“Ek het ’n paar groot skoene om te vul, maar ek sien uit na hierdie volgende stap in my reis,” het die 23-jarige Thabethe oor die aankondiging gesê.

Die Mej. SA-kompetisie het vanjaar teruggekeer na hul ouer formaat waar die naaswenners by internasionale skoonheidskompetisies soos Mej. Heelal, Mej. Wêreld, Mej. Supranasionaal en Mej. Aarde, slegs intree indien die wenner nie kan deelneem nie.

Dit is nie bekend waarom Thabethe vir Mej. SA 2022, Ndavi Nokeri, by dié kompetisie gaan instaan nie. Nokeri het wel Suid-Afrika se naam hoog gehou tydens vanjaar se Mej. Heelal-kompetisie in New Orleans, Louisiana, in die VSA waar sy die top-16 gehaal het.

Voedselsekerheid lê Ayanda na aan die hart

Die Mej. SA-naaswenner het in aanloop tot Wêreldvetsugdag haar bewusmakingsveldtog, Project Khulisa van stapel stuur. “Khulisa” is die isiZulu-woord vir “groei”.

Dié inisiatief is daarop gemik om gemeenskappe te help wat met voedselonsekerheid sukkel en terselfdertyd diepgaande gesprekke oor voeding, sowel as die land se dubbele las van wanvoeding en vetsug te fasiliteer.

Sy vertel dat sy nog altyd passievol oor voedselsekerheid en voeding was en haar deel wil doen om wanvoeding en hongerte te help bekamp.

Ndavi Nokeri, Mej. Suid-Afrika 2022, en Ayanda. (Foto: Yolanda van der Stoep)

Die Suid-Afrikaanse skoonheid was in haar finale jaar as ’n BSc-student in Dieetkunde en Menslike Voeding aan die Universiteit van KwaZulu Natal toe sy verlede jaar vir die Mej. SA-kompetisie ingeskryf het.

“Ek glo goeie kos is die begin van ’n beter lewe vir almal en voeding is die hoeksteen. My doelwit is om die toekoms van alle Suid-Afrikaners te verbeter deur voedseloplossings te mobiliseer met inisiatiewe soos gemeenskapsgroentetuine en opvoeding oor gebalanseerde diëte.”

Hoewel dit nie maklike gesprekke is om te voer nie, meen Thabethe dat verskeie wanpersepsies daaroor bespreek moet word om oplossings te vind.

“Vetsug is nie ’n simptoom van luiheid of ’n gebrek aan selfbeheersing, soos sommige mense verkeerdelik glo, nie. Gene, geestesgesondheid en veral finansies speel ʼn groot rol in die kos wat ons eet. Daarom moet ons vetsug en wanvoeding soos enige ander gesondheidsprobleem op ʼn mediese, maar ook ʼn gemeenskapsgeoriënteerde wyse takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mnr De Beer ·

Al die beste vir Mev Ayanda. Gaan maak Suid Afrika trots.

Realis Thailand ·

Ek het voorspel dat Nokeri nie onder die top tien sal wees en ek voorspel weer dat die meisie nie die top tien sal haal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.