Mej. SA se top-3 verteenwoordig hiér internasionaal

Mej. SA se top-3: Thato, Shudufhadzo, en Natasha (Foto: Mej. SA Organisasie)

Mej. Suid-Afrika se topdrie finaliste sal vir die eerste keer Suid-Afrika by drie eerder as slegs twee internasionale skoonheidskompetisies verteenwoordig.

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het in die verlede slegs die wenner en die naaswenner na Mej. Heelal en Mej. Wêreld gestuur, na gelang van waar hulle die beste inpas. Vanjaar sal ʼn derde wenner egter ook na die Mej. Supranasionaal-kompetisie gestuur word.

Mej. Suid-Afrika 2020, Shudufhadzo Musida, sal Suid-Afrika op die Mej. Wêreld-verhoog verteenwoordig. Die Mej. Suid-Afrika-organisasie hoop dat sy in die voetspore van Rolene Strauss, Anneline Kriel en Penelope Coelen sal trap, wat die gesogte titelkroon in 2014, 1974 en 1958 gedra het.

Die naaswenner, Thato Mosehle, sal aan die Mej. Supranasionaal-kompetisie deelneem en só die eerste deelnemer onder die amptelike Mej. Suid-Afrika-vaandel word om dit te doen.

Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, as Mej. Heelal. (Foto: Miss SA/Instagram)

Natasha Joubert, wat derde geëindig het, sal deelneem aan die Mej. Heelal-kompetisie, waar Suid-Afrika ʼn baie goeie naam het.

Zozibini Tunzi, Mej. Suid-Afrika 2019, is as verlede jaar se Mej. Heelal aangewys en Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018, was die vorige jaar die naaswenner by die Mej. Heelal-kompetisie. Demi-Leigh Nel-Peters het ook in 2017 met die Mej. Suid-Afrika- en daarna die Mej. Heelal-titel gespog.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê hulle glo vanjaar se drie kandidate gaan hulle goed van hul taak kwyt.

“Ons is verheug om hierdie drie pragtige vroue te sien skitter. Ons glo dat ons die perfekte kandidate vir elke kompetisie gekies het en dat hulle besonder goed gaan vaar. Ons hoop vir meer as een titel,” sê sy.

In normale omstandighede sou die kompetisies vanjaar reeds plaasgevind het, maar weens die Covid-19-pandemie is al die kompetisies tot 2021 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mickey ·

Wow, dus so goed om iets te lees wat nie moord, roof insluit nie. Glo en vertrou die dames gaan Suid Afrika trots maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.