Mej. SA skryf kinderboek oor boeliery

Shudufhadzo Musida, Mej. SA 2020, het ‘n kinderboek oor boeliery geskryf. Die boek is in ses tale beskikbaar.

Shudufhadzo Musida, Mej. Suid-Afrika 2020, kan nou die titel van outeur by haar lys van indrukwekkende prestasies voeg.

Musida se Shudu Finds her Magic is in ses tale gepubliseer deur Jacana Media met pragtige illustrasies deur Chantelle en Burgen Thorne.

Die boek sal laat in Augustus vanjaar landwyd op rakke pryk.

Shudu Finds her Magic is geïnspireer deur Musida se eie kindertyd en die boeliery wat sy ervaar het toe sy na ʼn nuwe provinsie verhuis het en ʼn nuwe skool moes bywoon.

Musida is ʼn welbekende aktivis vir geestesgesondheidsbewusmaking. Sy het vanjaar ʼn aanlyn gesondheidsinisiatief, #MindfulMondays, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) en Discovery Vitality op haar Instagram-platform van stapel gestuur.

“Die boek is gemik op kinders tussen die ouderdomme van vier en 12 en handel oor boeliery en die mag van vriendskap. Ek hoop dat jong mense hulself in die storielyn sal sien en iets positiefs daaruit kan neem,” verduidelik Musida.

“Die een les wat ek graag wil oordra is dat wanneer iets sleg met jou gebeur, dit belangrik is om met ʼn volwassene wat jy vertrou daaroor te praat. Dit kan ʼn ouer, familielid of onderwyser wees. Onthou dat boeliery nie jou skuld is nie. Daar is niks fout met jou nie. Niemand behoort deur te maak wat ek deurgemaak het nie.”

Die boek sal te koop wees vir R95 en is beskikbaar in Afrikaans (Shudu vind haar sprankel), Engels (Shudu Finds her Magic), Sesotho (Shudu O Sibolla Boikgetho ba hae), Venda (Shudu u wana Vhuṱolo Hawe), Xhosa (uShudu u Fumanisa ukuba UnoMlingo) en Zoeloe (uShudu Uthola Umlingo Wakhe).

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie en Jacana Media is vasberade om Musida se boek beskikbaar te stel vir alle kinders in die land en eksemplare sal geskenk word aan Childline en SADAG, wat kinders help met kwessies soos boeliery en depressie.

Eksemplare sal ook gegee word aan letterkundeorganisasies soos Biblionef, wat boeke aan skoolbiblioteke skenk om ʼn liefde vir lees te help kweek.

Shudufhadzo Mudisa (Foto: Mej. Suid-Afrika Organisasie)

“Ons is trots op Shudu en wat sy bereik met hierdie boek,” sê Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie.

“Ons hoop dit help kinders leer hoe om boeliery te hanteer asook oor vriendelikheid, medelye en wat dit beteken om ʼn vriend te wees. Shudu wou nog altyd ʼn verskil maak en sy het beslis.”

Musida sal ʼn reeks virtuele skoolpraatjies aanbied oor die publikasie van die boek en sal ʼn landwye toer onderneem om die boek te bemark, onderhewig aan Covid-19-regulasies.

As die heersende Mej. SA 2020 sal Musida op 16 Desember vanjaar aan die 70ste jaarlikse Mej. Wêreld-kompetisie deelneem by die Coca-Cola Music Hall in San Juan, Puerto Rico. Sy hoop om in die voetspore te volg van Rolene Strauss wat die titel in 2014 huis toe gebring het.

Musida het ook Dinsdag haar honneursgraad in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand ontvang in dieselfde week waarin sy haar 25ste verjaardag gevier het.

Musida het ook reeds ʼn baccalaureus-graad in sosiale wetenskappe met filosofie, politiek en ekonomie as hoofvakke aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanniepetoors ·

Wat ‘n pragtige, sprankelende voorbeeld vir ons jeug. Nee, ek is nie ‘n voorstander van skoonheidskompetisies nie, ek gee erkenning waar dit ooglopend verdien word.

Belinda ·

Wow, wel gedaan! Ek is nou nie n groot “beauty pageant fan” nie, maar ek het wel al so hier en daar haar op die tv gesien en sy is n dame wat baie toekoms aspirasies het. Sy het al gese sy sal daarvan hou om president te word, ek hou duim vas vir haar want ek kan sien sy is n dame met groot drome en wie weet, miskien is sy net wat hierdie land nodig het, en ek praat nie net van n mooi gesiggie nie :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.