Mej. SA vang nóg ’n graad

Shudufhadzo Musida, Mej. Suid-Afrika 2020, het onlangs haar honneursgraad verwerf. (Foto: Yolanda van der Stoep)

Shudufhadzo Musida, Mej. Suid-Afrika 2020, het Dinsdag haar honneursgraad in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand ontvang in dieselfde week waarin sy haar 25ste verjaardag gevier het.

Te midde van die pandemie is die gradeplegtigheid aanlyn gehou. Nietemin was Musida ʼn gas van prof. Zeblon Vilakazi, Wits se visekanselier.

Musida sê die graad is deel van ʼn droom wat haar oumagrootjie vir haar as jong meisie gekoester het.

“Terwyl ek in Ha-Masia, diep in die hartjie van die Vhembe-distrik in Limpopo, grootgeword het, het my gogo altyd die belang van kennis as ʼn stap tot sukses beklemtoon. Ek kan net dink hoe trots sy op haar klein Abi (ek is as kind Abigail genoem) sou wees wat hierdie universiteitsgraad verwerf het.”

Musida het ook reeds ʼn baccalaureus-graad in sosiale wetenskappe met filosofie, politiek en ekonomie as hoofvakke aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Vilakazi het by die gradeplegtigheid Musida oor haar siening oor geestesgesondheid uitgevra. Sy is ʼn kampvegter vir geestesgesondheidsbewustheid en het hierdie jaar haar aanlyn geestesgesondheidsinisiatief, #MindfulMondays, in samewerking met die Suid-Afrikaanse depressie- en angsgroep (SADAG) en Discovery Vitality, op haar Instagram-platform van stapel gestuur.

Musida het ook verduidelik dat bemagtiging en leierskap die hoeksteen vorm van die Mej. Suid-Afrika-organsiasie se werksaamhede.

“Die organisasie lei vroue deur die proses om hul stemme te vind en versterk hulle sodat hulle ander vroue kan bemagtig en leiersposisies kan inneem,” het sy gesê.

Op ʼn vraag oor aktiewe burgerskap het sy beskryf hoe sy onlangs die VN se generasie-gelykheidsforum toegespreek het oor kwessies rakende geestesgesondheid.

Dit was ook die wêreldwye bekendstelling van die “Education Plus”-projek, wat daarop ingestel is om adolessente meisies en jong vroue te bemagtig in Afrika suid van die Sahara om die MIV-pandemie te konfronteer.

“Ons moet almal besig wees met die kwessies wat ons wêreld teister. Ons moet almal aktiewe burgers wees. As óns nie die stryd voer nie, wie sal dit doen?”

Musida sal as die heersende Mej. Suid-Afrika 2020 deelneem aan die 70ste aanbieding van die Mej. Wêreld-kompetisie wat op 16 Desember in San Juan, Puerto Rico, gehou word. Sy hoop om in die voetspore van Rolene Strauss te volg wat die titel in 2014 verower het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Linx ·

Dit laat my altyd net dink dat grade verwerf gouer vir som mense gebeur as vir ander,veral as j die ouderdom kyk,op 18/19 klaar met matriek,6 jaar later het j al wat n graad is en nog n honors ook,ek weet darem nie so mooi nie maar no ja dalk sien ek spoke,geluk sussie next jaar is dit seker nog een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.