Mej. SA wél op pad na Israel ondanks ‘fopnuus’

Lalela Mswane is as Mej. Suid-Afrika 2021 gekroon. (Foto: Verskaf)

Lalela Mswane, die nuwe Mej. Suid-Afrika, gaan wel vanjaar aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem.

Só sê Stephanie Weil, hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, wat Dinsdag gerugte in die kiem gesmoor het dat Mswane nie aan die kompetisie wat op 13 Desember in Eilat, Israel, plaasvind gaan deelneem nie.

“’n Baie, baie klein maar uiters uitgesproke groep het probeer, maar gefaal, om Lalela se kanse by dié gesogte internasionale kompetisie in die wiele te ry. As die huidige Mej. SA sal sy egter by 70 deelnemers van ander lande aansluit om Suid-Afrika tot die beste van haar vermoë te verteenwoordig,” sê Weil.

Dit kom nadat die drukgroep Africa 4 Palestine Dinsdag ʼn verklaring uitgereik het waarin dié groep die nuus “verwelkom” dat Mswane besluit het om haar aan die kompetisie te onttrek.

Luidens Africa 4 Palestine se verklaring het die groep gewag op ʼn formele aankondiging dat Mswane nie aan die skoonheidskompetisie gaan deelneem nie.

Weil benadruk egter dat die Mej. SA-organisasie nie ʼn politieke organisasie is nie en dat die Mej. Heelal-kompetisie nie ʼn politiek-gedrewe kompetisie is nie.

“Enigiemand wat Lalela van haar oomblik in die kollig wil beroof, is onhartlik en kortsigtig. Sy is ʼn blink baken vir jong mense oral en bewys dat jy beeldskoon kan wees terwyl jy ook slim en opgevoed kan wees.”

Lalela Mswane. (Foto: Hanri Human)

Africa 4 Palestine voer aan die redes vir Mswane om haar te onttrek aan dié gesogte kompetisie, waarop Andrea Meza van Mexiko verlede jaar as wenner gekroon is, is “so duidelik soos daglig”.

“Israel se apartheidsbeleid is goed gedokumenteer deur Amnestie Internasionaal, Human Rights Watch, verskeie liggame van die Verenigde Nasies en Israel se eie menseregtegroepe soos Btselem,” lui Africa 4 Palestine se verklaring.

“Vanjaar alleen is 80 Palestynse kinders onder leiding van die Israeli-regime vermoor. Dit is gemiddeld een kind elke drie dae. In Mei vanjaar, in minder as twee weke, is meer as 230 Palestyne vermoor, insluitend meer as 60 kinders en drie swanger vroue. Dit is nie ʼn regime wat aanskoulik is nie en geen persoon behoort sulke aakligheid te normaliseer nie.”

Die groep het voorts gesê hy het “inligting ontvang” van Mswane se onttrekking nadat talle lede van die publiek, insluitend wyle pres. Nelson Mandela se kleinseun, Zwelivelile “Mandla” Mandela en ander bekende openbare figure ʼn beroep gedoen het dat Mswane haar aan die Mej. Heelal-kompetisie onttrek.

Weil hou egter vol dat Mswane wel die land en Afrika as vasteland op dié kompetisie sal verteenwoordig.

“[Africa 4 Palestine se verklaring] is heeltemal onwaar en ongegrond. Met al die fopnuus wat die rondte doen is dit vir ons organisasie belangrik om Lalela se kinderdroom – om ʼn kroon te dra terwyl sy haar land op ʼn internasionale platform verteenwoordig – te bewaarheid.

“Lalela sê openlik dat sy as kind geboelie is en sal as volwassene nie geboelie word om nié haar lewenslange ambisie te vervul nie.”

Mswane (24), ʼn danser en model van KwaSokhulu, Richardsbaai in KwaZulu-Natal, is op 16 Oktober tydens ʼn glansgeleentheid in die Grand Arena by die GrandWest Casino in Kaapstad as die nuwe Mej. Suid-Afrika gekroon.

Sy het ʼn regsgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Agh word groot man! Soe siek, sat en dik vir ANC aanvalle op Israel. Kan nie eers die ligte aanhou nie, maar Israel het water uit die woestyn getrek, en soeveel water dat hulle nou vir hulle bure voorsien. Daai mense werk hard en is trots op hulle land. Hulle universiteite is van die beste ter wereld. Vir ‘n nasie wat Hitler amper van die aarde gewee het, is ek ‘n groot bewonderaar.

Blomme

Ag tog Asb nie alweer die uitgedroogde en afgewaterde rassestorie nie!!!!

Rupert Ashford

Stadig oor die klippe mensies, hier kom heel moontlik weer ‘n Quinton de Kock. Die aktiviste is verseker nog nie klaar hier nie…

Hoop ek is verkeerd en sy gaan Israel toe en doen baie goed…

Lindi

Sy is in elk geval nie Mej Wereld gehalte nie, so maak nie saak waar sy deelneem nie