Melkrivier-plaasaanval: Twee vas; Henrico se toestand ‘nie goed’

Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys. Foto: Via Facebook

Die polisie in Limpopo het Vrydag bevestig dat twee verdagtes in hegtenis geneem is in verband met die plaasaanval op Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys in dié provinsie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het dié nuus bevestig. Ngoepe het gesê die verdagtes is onderskeidelik 32 en 48 jaar oud.

Volgens die Heritage Protection Group (HPG) is die twee mans Vrydag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem.

“HPG het saam met die Lephalale-polisie inligting oor die voorval opgevolg waarna die mans vasgetrek is. Meer inhegtenisnemings word binnekort verwag,” lui ʼn verklaring van die groep.

Chrisna Henrico-Van der Merwe, Henrico se suster, het Vrydag aan Maroela Media gesê dit gaan in dié stadium nie goed met sy gesondheid nie. Volgens haar is daar ontsteking in al die wonde wat vroeër deur mediese personeel met steke toegewerk is.

“Daardie wonde lyk nou selfs slegter as voorheen. Ons is egter net bly dat ons dit gou genoeg opgespoor het dat dit nié sy lewe geëis het nie. Mediese kenners sê altyd dit is die infeksie ná die tyd wat die groot gevaar is. Ons het intussen ook uitgevind dat ʼn deel van sy nekwerwel afgebreek het op die plek waar die koeël verbygeskuur het. Dis nie soseer in dieé stadium ʼn gevaar nie, maar dis wel pynlik.”

Henrico-Van der Merwe sê Henrico gaan elke tweede dag hospitaal toe om die wonde te laat versorg. Hy ontvang ook pynmedikasie, maar geen ander behandeling nie aangesien hy nié ʼn mediese fonds het nie.

“Berdus en Estelle het gister [Donderdag] ʼn berader gesien. Hy praat nie baie oor die voorval nie, maar ons weet hoe dit hom moes ontstel het. Hy het baie pyn en ek dink hy fokus in dié stadium op die seer in plaas daarvan om te probeer verwerk wat met hulle gebeur het,” sê sy.

Berdus Henrico kort ná die aanval in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die twee woon tans by familie in Warmbad. Henrico-Van der Merwe sê hulle gaan wel na die plaas terugkeer. “Hy is nie iemand wat opgee nie. Dis hoekom hy daardie aand so verbete teen die aanvallers baklei het; hy sal nooit opgee nie. Die boerdery is al van kleintyd af sy grooste passie en hy sal weier om van daardie plaas af weg te gaan. Ons het dit nog nie verwerk nie en daar was nog nie baie geleentheid om daaroor te praat nie, maar ten minste is hulle nou buite gevaar.”

Maroela Media het vroeër berig die verloofde paar is deur drie gewapende verdagtes op ʼn plaas buite Vaalwater aangeval. Hulle was alleen in die huis op ʼn plaas in die Melkrivier-omgewing waar Henrico die plaas vir iemand bestuur.

Dit is nie duidelik hoe lank die aanvallers in die huis was nie. Henrico en Nieuwenhuys het in ʼn stadium in ʼn stoeiery met die aanvallers betrokke geraak, waartydens Henrico drie keer geskiet en aangerand is. Die aanvallers het ook op Nieuwenhuys geskiet en haar skrams getref. Die aanvallers het met elektriese ware en ʼn geweer op die vlug geslaan.

Ngoepe sê die twee mans sal Maandag in die Lephalale-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martins ·

Bertus wanner jy gesond word en weer trug trek plaas toe maak asb tog seker dat jou huis behoorlik beveilig word sodat jy nie dieselfde fout maak as wat vorige slagoffers gemaak het nie.
sterkte met die gesond word proses

Boerin ·

Kry vir jou Colloidal Silver salf en smeer dit aan. Bietjie Bactroban daarby sal ook help. Dis nie duur salf nie.

Gesiggie ·

Ek is bly hul het die Skelms gevang? Berdus ek hoop dat jy gou beter sal word, en dat jou wonde gou sal genees… al die pyn kan weggaan,maar wat met jou gebeur het sal jy altyd onthou… dit is beter om n berader te sien, sodat hul jou kan help om van die gebeure te vergeet…. Sterkte en mag als goed gaan

HPV ·

Kla die persone wat hom aanvanklik behandel het vir poging tot moord. Lê ook ‘n klag by die mediese raad om hul opleiding asook bevoegdheid te ondersoek. Moet die saak net nie daar laat nie. Berdus wens jou sterkte toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.