Melkrivier-plaasaanval: Wildboer dalk volgende week geopereer

Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys. Foto: Via Facebook

Te danke aan ruim skenkings vanaf die publiek en hulp van private instellings kon Berdus Henrico (39), wat voorverlede week drie keer tydens ʼn plaasaanval in Limpopo geskiet en vir die dood agtergelaat is, nog toetse ondergaan en die nodige behandeling ontvang in die lang pad na sy herstel.

Een van die drie koeëls wat Henrico tydens die aanval getref het, het die hoofslagaar in sy nek skrams gemis. Dié koeël het hom onder sy kaak getref en is agter by sy nek uit, maar het een van sy nekwerwels skrams getref en die puntjie afgebreek. Dit is egter eers verlede week vasgestel nadat X-strale by ʼn private instelling gedoen is.

“Hy het nog die heeltyd ná die aanval gekla van erge pyn in sy nek en skouer. Ek en my ma het besluit daar is nou geld in die rekening wat ons vir hom gestig het om met die mediese uitgawes te help en het hom vir X-strale gestuur waar die gebreekte beentjie in sy nek waargeneem is. Dit ten spyte daarvan dat hy vir skanderings by staatshospitale was ná die aanval,” het Chrisna Henrico-Van der Merwe, Henrico se suster, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Daar word vermoed dat dieselfde koeël wat Henrico in sy nek getref het sy verloofde, Estelle Nieuwenhuys, skrams getref en gewond het. Die ander twee koeëls het in sy skouer vasgesit. Een koeël is eers twee dae ná die aanval by ʼn private instelling in Bela-Bela (Warmbad) verwyder nadat Henrico van bakboord na stuurboord gestuur is by staatshospitale. Sy familie en vriende het saamgespan om geld in te samel om vir Henrico private mediese behandeling te kry aangesien hy nie ʼn mediese fonds het nie.

Henrico en Nieuwenhuys woon tans steeds by familie op Bela-Bela. Henrico ontvang daagliks behandeling by die private instelling. Hy het intussen ontsteking opgedoen in al die wonde wat vroeër deur mediese personeel met steke toegewerk is. Die ontsteking sal eers moet opklaar voor hy ʼn operasie kan ondergaan om die oorblywende koeël in sy skouer te verwyder. Nieuwenhuys is kort ná die aanval ontslaan en staan Henrico by.

“Eerstens wil ek ons Hemelse Vader dank dat Hy my boetie en Estelle beskerm het en nog steeds beskerm. Dit gaan beter met my boetie en Estelle. Sy wonde lyk al baie beter, maar hy het nog baie seer. Ons hoop die infeksie sal teen volgende week opklaar, waarna hy geopereer kan word,” het Van der Merwe gesê.

“Ons wil graag elke liewe persoon bedank wat skenkings gemaak het, bystand verleen het, saam gebid het en boodskappe van bemoediging gestuur het. Dis wonderlik om te sien hoe ons kan saamstaan en mekaar ondersteun.”

Met Henrico se gemoed sê sy gaan dit ook beter. “Hy het die naweek toe ons daar gaan kuier het vir die eerste keer uit sy eie oor die aanval gepraat, waar hy voorheen nie veel daaroor wou uitbrei nie. Hy en Estelle het intussen ook berading ontvang, maar daar is nog ʼn lang pad, fisiek en emosioneel, wat voorlê.”

Sy het gesê haar broer was twee keer weer na die wildsplaas toe ná die aanval om te gaan kyk of alles nog reg is.

Maroela Media het vroeër berig die verloofde paar is op 6 Februarie omstreeks 21:00 deur drie gewapende mans op die plaas buite Vaalwater aangeval. Hulle was alleen in die huis op die wildsplaas in die Melkrivier-omgewing waar Henrico die plaas vir iemand bestuur.

Henrico en Nieuwenhuys het in ʼn stadium in ʼn stoeiery met die aanvallers betrokke geraak, waartydens albei geskiet en aangerand is. Die aanvallers het die paartjie vasgebind en op die vlug geslaan met elektriese ware en ʼn geweer. Henrico is vir die dood agtergelaat, maar kon egter daarin slaag om los te kom, waarna hy Nieuwenhuys losgemaak en hulp ontbied het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die Dorset-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en poging tot moord. Altesaam vyf verdagtes, tussen 20 en 45 jaar oud, is sedert Vrydag in verband met die aanval in hegtenis geneem en die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op vuurwapens en talle selfone.

Die inhegtenisnemings het gevolg ná ʼn gesamentlike poging deur die polisie se trio-taakspan en Heritage Protection Group (HPG). Die verdagtes mag nog nie geïdentifiseer word nie, aangesien ʼn uitkenningparade nog gehou moet word.

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum twee staatshospitale by dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, verkla weens Henrico se beweerde onprofessionele en nalatige behandeling.

In ʼn skrywe aan dr. Motsoaledi het AfriForum onder meer geëis dat ʼn formele ondersoek na die optrede van die personeel by hierdie hospitale van stapel gestuur en dissiplinêre stappe gedoen word, indien nodig, asook dat ʼn formele verskoning aan Henrico en sy geliefdes uitgereik word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alida ·

Die staatshospitale kort DRINGEND opgeleide en professionele personeel. Mense gaan dood en word verkrag onder hierdie monsters se sorg. Dagvaar hulle vir al die uitgawes aa gegaan. Dit is n skande.

Sarel swartbrand ·

Dit is presies waarmee solidariteit hulle moet besighou dagvaar die departemente vir skade wat slagoffers lei agv nalatigheid

Johan. H. ·

Volgende keer dra jou vuurwapen by jou,,, Nie almal kry n tweede kans nie..Bly uit die hospitale uit vandag, gaan soentoe as jy n deathwish het..

Lolla ·

As ek so na daardie staatshospitaal steke kyk, kan ek sweer n veearts sal n beter werk doen. As so iets met my moet gebeur, en ek het nie medies nie, dink ek dis beter om veearts toe te jaag!

HPV ·

Veeartse is baie goeie en hoogs opgeleide dokters! Ja hulle sou beslis beter kon doen.

Asmain ·

Dis tragies dat kriminele in priv hospitale behandel word met belastingbetalers se geld maar onskuldige belastingbetalers wat nie med fonds kan bekostig nie, moet in vervalle staatshospitale behandel word.

Elvira Bothma ·

Berdus. As jy herstel het staan jy op en hou jou kop HOOG en jy dagvaar hierdie Regering dat hulle nie weet wat hulle getref het nie.

Elvira Bothma ·

Mnr Ramaposa ons is bly jy is verkies tot hierdie land se President. Die plaasmoorde en aanvalle op blanke boere is n skreiende skande. Doen asb dringend iets daadwerklik want dit het handuit geruk. Doodstraf terug asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.