Menings verskil diep oor Ramaphosa se sukseskanse

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die hare het Maandag by die Woordfees in Stellenbosch gewaai toe die politieke analiste Moeletsi Mbeki, Piet Croucamp en Prince Mashele erg verskil het oor of pres. Cyril Ramaphosa suksesvol gaan wees as staatshoof.

Mbeki het gesê in wese is Ramaphosa nie president van die land of leier van die ANC nie. Hy is maar net in die posisie danksy en op die genade van adjunkpresident David Mabuza.

“Hy is soos ‘n vrou in ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n getroude man – geen mag nie, totaal afhanklik. Is hy werklik president? Het hy mag? Is dit hy of Mabuza?” het Mbeki aan die ietwat verraste, groot gehoor gevra.

Croucamp het Mbeki van selektiewe argumentering beskuldig. Hy meen Ramaphosa tree allermins op soos ‘n afhanklike vrou; Ramaphosa bou flink aan ‘n ondersteuningskorps in KwaZulu-Natal, en is uiters populêr – selfs meer so as die ANC.

Mashele het aangevoer dis presies waar Croucamp die pot mis sit – dat Ramaphosa meer gewild as die ANC is, is sy swakheid, nie sy krag nie.

“Cyril is baie swak in die ANC. Wie in die ANC ondersteun Cyril? Waar is sy basis? Daar is geen provinsie of ondersteuningsbasis vir hom nie. Nee, die sterkste leier in die ANC bly oudpres. Jacob Zuma, want hy het KwaZulu-Natal in die sakkie.

“Buitendien, hoe stem jy vir Cyril sonder om vir die ANC-skurke te stem?” wou Mashele weet.

Volgens Mbeki is die probleem dat Ramaphosa alles vir almal probeer wees.

Croucamp het teen hierdie tyd ietwat gefrustreerd oorgekom en aan die gehoor verduidelik dat Ramaphosa na sy mening die stelsels slim gebruik om ander sy vuil werk te laat doen, en dat Zuma geen steun oor het nie.

Mbeki en Mashele het Croucamp vervolgens getakel.

Mashele meen dat Ramaphosa dieselfde fout maak as oudpres. Thabo Mbeki: hy gebruik die staatsmasjinerie soos die Nasionale Vervolgingsgesag en kommissies van ondersoek om sy teenstanders in die ANC lam te lê.

Dit sal volgens Mashele tot Ramaphosa se ondergang lei, soos destyds met oudpres. Mbeki.

Moeletsi Mbeki het die debat bietjie weggekeer van sy broer af deur te wys daarop dat die ANC uit kompeterende faksies bestaan wat elkeen om eie gewin meeding eerder as om die land se grootste uitdagings, naamlik ongelykheid en werkloosheid, te takel.

Buitendien meen hy nie die daarstel van kommissies dui op goeie bestuur nie – hy meen dis wat Britse politici doen as hulle nie weet hoe om ‘n probleem op te los nie. Hy het ook aangevoer Ramaphosa het nooit sy stem teen Zuma verhef toe dit nodig was nie.

Croucamp se volgende aanvalstaktiek was om te vra waar Suid-Afrika sou wees as Ramaphosa gekies het om wel teen Zuma op te staan. Volgens Croucamp sou dit beteken minister Nkosazana Dlamini-Zuma was president en die graderingsagentskap Moody’s het ons lankal finaal na die rommelhoop verban.

“Ek kry hoop, Cyril speel die langtermynspel. As hy die skip sou verlaat, wat bly van die skip oor?” het Croucamp aangevoer.

Mashele en Mbeki het vervolgens saamgestem dat die land se probleme eerstens ekonomies is, en dat die oplossing nie van ‘n enkele leier sal kom nie, maar as die bevolking elkeen verantwoordelikheid sal neem – spesifiek ook die universiteite wat na hul mening gerus met ‘n paar oplossings vorendag kan kom.

Nou was Croucamp behoorlik moedeloos met Mbeki en Mashele se gebrekkige krediet aan Ramaphosa.

“Twee jaar gelede kon jy nie praat oor grondoordrag met kaart en transport nie. Nou kan jy – danksy Cyril. Die ANC is nie meer inherent sosialisties georiënteerd nie – danksy Cyril. Rampokkerleiers word in plakkerskampe vasgevat sodat hulle nie buitensporige huur kan vra nie – danksy Cyril,” aldus Croucamp.

Daardie bewerings het nie goed afgegaan nie.

“Wie het Telkom geprivatiseer? Die ANC – lankal. Wie het die SAL aan SwissAir verkoop? Die ANC – lankal. Dis nie waar dat Cyril privatisering gebring het nie. Bly tog net by die feite,” het Mbeki geknor.

Mashele was ook nie links nie. Aan Croucamp het hy gesê: “Die probleem is dat jy telkens ‘n narratief gaan soek eerder as om jou in realiteit te anker, want narratiewe verander deurgaans – dan het jy telkens iets nuuts om te sê – terwyl die realiteit grootliks dieselfde bly.

Mbeki het die debat afgesluit deur ‘n vraag van Du Plessis oor wie dan nou beter as Ramaphosa sou vaar, herhaal het dat dit nie individuele leiers is wat die land sal red nie, maar elkeen in die bevolking; ook in die gehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Verblyd ·

Viva Moletsi en Prince! Ou Kopdoek.dink altud hy is reg. Hy het in die eerste plek op radio gese Zuma sou nie uitgwerk kon word voor sy termyn amptelik verby is nie. So sit hy aanhoudend die pot mis want realiteit belyn nie met sy wense nie. Plaas luister hy vir ‘n slag na ouens wat wel weet wat in die ANC aangaan. Skrik wakker Croucamp, wat jy se is nie wet nie.

NEVILLE ·

OOM PIET WEET MOOI WAT OOM CYRIL DINK EN DOEN , EK WONDER BAIE HIEROOR

Karlahari ·

Piet Croucamp probeer altyd polities korrek te wees. As hy n slag sy oog klappe afhaal en die “jammer ek is wit” houding laat staan is daar hoop vir hom.

Jerry ·

Croucamp, vanwaar gehasie, dat jy die pot so erg mis sit met sulke onakkurate narratiewe oor Zuma, CR en die ANC. Waar was jy en waar dink jy was CR tydens die 9 verlore jare? Waar jy jouself ookal bevind het, jy moet maar weer teruggaan soontoe vir die 9 maer sosialistiese jare wat voorle onder CR en ANC bewind!

Norman ·

Ditto Jerry. Ek stem saam. Piet Croucamp, Max du Preez en Antjie Krog moet wakker word en besef dat hulle gevry na die goedkeuring van die ANC, hulle nie sal red nie. Hulle maak geluide om populisties te wees en dink dit sal hulle velle red.

Politiek ·

Ek weet nou nie baie van politiek nie, maar Mbeki se stelling dat ‘n vrou wat ‘n buite egtelike verhouding met ‘n man geen mag het nie klink ook nie reg nie. Ek sou dink dis anders om….. Hoop nie hy word eendag uitgevang nie, dink hy gaan sleg tweede kom.

Gert ·

Piet Kopdoek gaan altyd aan oor hoe intellektueel begaafd hy is en hoe hy alles soveel beter verstaan as die agterlike VF+ ondersteuners. Tog het Mbeki hier weer absoluut die vloer gevee met hom. Vir my is Moeletsi se insig altyd baie indrukwekkend.

Koos de Meyer. ·

Kopdoek sê seker, if you can’t win them join them, ja swaer.

Karlien ·

Croucamp sou dalk eerder sy vrees vir die Rooi taal, as die Rooi gevaar, moet bepeins.
Sy Ingils maak mens bang.

Therese van Schalkwyk ·

Jan-Jan Joubert, skitterende beskrywing van die gesprek (geveg!)
“Croucamp behoorlik moedeloos” … die gevolg van gryp na strooihalms, sou dit graag wou aanskou.
Mashele beskryf dit (die gryp na strooihalms) puik met “soek telkens ‘n narratief eerder as om jou in realiteit te anker” …

Danny ·

Mooi !!Kopdoek is n slag behoorlik op sy plek gesit, die twak wat hy darem somtyds kan kwyt raak. Hy was net so deurmekaar destyds met die verkiesing van Trump. Sy groot liefde is juis om strooipoppe op te stel en dan skiet hy hulle self af net om iets te se.

Skroef ·

Moenie die mense se argumente as snert afmaak nie. Hulle het binne kennis. Mabuza die paddaman se baas? Heel raak! Nou eweet ons hoekom mabuza met talle klagyes teen hom hekom het waar hy is.

Dries du Toit ·

Jy is reg SKROEF. Maar Mabuza kan onmoontlik nie soveel mag alleen he nie. Hy het n hele klomp kriminele kaders wat ook magtig is agter hom. Ace Magushule, Zuma, Zwane en al die pocketers by die SAL, Eskom, Prasa,Bossasa en die helfde van die ANC NUK

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.