Menlyn Maine-skietery: ‘Ek het nog nie eens gehuil nie’

JB Strydom (44). (Foto: Facebook)

Die man wat beskuldig word van JB Strydom se opspraakwekkende skietdood by die Menlyn Maine-winkelsentrum Maandag in Pretoria, verskyn na verwagting later vandag in die landdroshof in die stad.

Strydom (44) het sowat vyf maande gelede saam met sy vrou en twee seuns na Engeland geëmigreer – juis om van die geweld hier weg te kom – en was in Suid-Afrika om te kom kuier en sekere van die gesin se sake uit te sorteer. Hy het Maandagoggend saam met vriende by die sentrum gaan ontbyt eet toe ʼn stryery later in die parkeerterrein ontstaan het.

Strydom het glo bloot die vrede help bewaar, toe hy op ʼn kort afstand geskiet is.

‘n Video van die voorval is op sosiale media versprei. (Skermgreep: Twitter)

Sy moordenaar het oënskynlik doodkalm ʼn vuurwapen uitgehaal en Strydom twee keer in die bors geskiet. Die persoon het na bewering daarna weggestap en glo in sy motor geklim. Hy is daar in hegtenis geneem.

ʼn Video is van die voorval gemaak en het binne minute soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Chantelle Strydom, JB se oudste suster, sê die familie het óók dié video gesien. “Dit was ʼn skok om te sien hoe die man net stap en hom bloot skiet,” het sy gesê.

“Ek het nog nie eens gehuil nie, ek het soveel wraak in my. Hy was iemand se broer, ʼn pa, ʼn man. Al daai goed is van ons weggevat. Hy het ʼn hart van goud gehad.”

Chantelle Strydom het gesê as die voorval nog iets was wat op ʼn manier as “tipiese Suid-Afrikaanse geweld” verduidelik kon word, ʼn kaping of gewapende rooftog wat skeefgeloop het, sou sy dalk makliker berusting kon probeer vind.

“Die ou het geskiet en net kalm daar bly staan. My broer is twéé keer geskiet. Hy was rééds dood. Ek hoop hy [die beskuldigde] kry lewenslange tronkstraf. Dit was niks anders as moord nie.

“Dit gaan ʼn moeilike Kersfees vir ons wees.”

Strydom se vrou, Nina, en seuns, onderskeidelik vyf en 21 jaar oud, het intussen gisteraand in Suid-Afrika aangekom.

Die skietery was in die parkeergebied van die sentrum. (Foto: Twitter)

Behalwe vir Chantelle, het JB ook ʼn suster, Sue-Mari (30), en ʼn broer, Andries (35). Strydom het gesê hulle sukkel nog om die gebeure te verwerk. Sue-Mari moes haar broer se liggaam gaan uitken. Andries sou aanstaande jaar ook na Engeland emigreer. “Die broers was veral na aan mekaar en hulle het soveel planne gemaak vir die toekoms,” het Strydom gesê.

Die broers sou Maandagmiddag saam ʼn tatoeëermerk gaan kry, maar Strydom is dood voordat dit kon gebeur. Chantelle Strydom het gesê die drie sibbe sal nou ieder geval ʼn tatoe kry as ʼn sigbare herinnering aan hul broer.

JB het vantevore sy eie insleeponderneming in Kempton Park besit en was ʼn bekende in die bedryf.

ʼn Gedenkdiens vir sal na verwagting Vrydag in Benoni gehou word.

“My broer was ʼn groot man en hy lyk intimiderend, maar hy het ʼn sagte hart gehad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Arrie ·

Die hof sal seker weer die moordenaar beskerm en hom vrylaat met ‘n R1000 “boete”.

Abe ·

Arrie,
Daar is absoluut geen regverdiging vir hierdie uitspraak van jou nie!

ES ·

Arrie, ek twyfel sterk – die Wet op Vuurwapenhantering is baie duidelik in dat jy slegs ‘n vuurwapen mag gebruik indien jou lewe in gevaar is en indien ander party jou lewe in onmiddelike gevaar stel met ‘n wapen. Hy het die man bloot geskiet en toe weggeloop – daar was geen gevaar nie.

Die staat se saak is sterk en daar is video bewyse. Hierdie was koelbloedige moord – jy kry net net ‘n boete daarvoor nie, maak nie saak wie jy is nie.

Viss ·

Baie waar wat jy sê oor borgtog,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,hoe kan iemand dit kry as hy ‘n moord gepleeg het.

Frank ·

Arrie se opmerking is sekerlik na aanleiding van ‘n ander geval se moordverdagte wat teen R1000 borg vrygelaat is. En nous daar ‘n 100 000 losprys op hom…

Skaap ·

As hy maar net n paar minute laat was…..so dit nooit gebeur het.
Verkeerde plek, Verkeerde tyd.

Boer ·

Arrie weet hoe werk die land se siek reg … entlik weet almal

Regverdig ·

Arrie was reg, hy het borgtog gekry en is op vrye voet tot Maart volgende jaar.

Blaam ·

Hoe op aarde kry hy borgtog en verskyn eers in Maart 2020!?

Santi Neven ·

Dit is skokkend on te sien hoe wetteloos ons land geword het, selfs in die hof. Saam vir jou,’president’ Rhamaposa.

Johanna ·

My innige simpatie met julle. dis so ongelooflik hartseer.

Dassie ·

Lewenslank in SA is 15 jaar waarna jy parool kan kry as jy 2/3 straf uitgedien het. Dink julle dit beteken iets… na 10 jaar gaan daai gemors aan met sy lewe

Sputnik ·

Hoe op dees aarde kan só ‘n vent só maklik en vinnig borgtog kry? Ek het nie sie video gesien nie, maar op grond waarvan is dit toegestaan? Dit kan tog sekerlik nie wees “omdat hy nie ‘n gevaar is nie”? Tensy hy kon aanvoer dat hy uit selfverdediging opgetree het, wat vir my klink nie die geval was nie.

bokka ·

Waar kom jy daar aan? Lewenslank beteken lewenslank. Jy mag eers na 25 jaar in aanmerking kom vir parool. Dit beteken nie jy gaan na 25 jaar outomaties uit die tronk uit kom nie, net as die paroolaansoek slaag. Selfs al word jy op parool vrygelaat, is jou vonnis nie verby nie, jy sal die res van jou lewe aan die paroolvoorwaardes gebonde bly.

WeesWys ·

In Suid-Afrika kan dit enige oomblik met enige iemand gebeur. Ons moet gereed wees om God te ontmoet.

EKKE ·

My inni simpatie met die familie. Ek hoop hulle sluit hom toe, en gooi die sleutel weg!! BRING TERUG DIE DOODSTRAF!!!!!

Melanie ·

Ek het geen woorde.. jul verlies is so groot.. baie baie sterkte, veral die kinders, en mamma.. my hart breek vir julle… mag geregtigheid die een keer, regtig geskied.

Vienna ·

My innigste simpatie met die familie
Mag die Vader hulle toevou en troos
in hierdie hartseer tyd

Feite ·

Dit moet hartverskeurend wees vir sy familie en vriende om te moet sien hoe hy so trompop doodgeskiet word op die video. Mense moet kennis neem dat trompop skietery besig is om n tendens te raak in SA, hoofsaaklik tydens rooftogte, maar duidelik kan dit ook gebeur tydens n gewone onderonsie!

Gesiggie ·

Waar is ons veilig vandag?? jy sit rustig en eet en dan verloor jy jou lewe”’ my Innige meegevoel aan die man se familie, sy vrou en sy kinders… hoop die vark sit vir ewig…

Lionel ·

Onaanvaarbaar!???????????? Doodstraf moet heringestel word .

James ·

Dis verby met die land. Jy kan vermoor word enige tyd, plek en rede.

Astrid ·

Waar is die omstrede EFF dan nou? Waar is die grootbekke wat ‘n man se plaas wil gaan vat en sy familie uit hulle woning dwing omdat hy moord gepleeg het, iets wat hulle doop ‘n ‘hate crime’… Waar is die manne in hulle rooi hoedjies vandag huh?? O ja, hierdie is net weer ‘n wit man wat sy lewe verloor het agv. ‘n sinnelose daad – maar o wee, wag tot die handskoen aan die ander hand is dan hoor mens dit weer!! My innige meegevoel aan die familie en veral sy kinders, ek is jammer dat julle pa van julle weggeruk is en net nog ‘n misdaadsyfer geword het! VIVA ANC, VIVA EFF – julle sal ons afgrond wees!!

Siener ·

Die moordenaar is nou uit op R8000 bail.
Dis ‘n skande vir die regstelsel.

Bolletjie Blom ·

Mense het trigger happy geraak. Dit is nogal jammer mense wat nooit wapens behoort te hê nie het wapens. Die persoon gaan seker aanvoer dat hy bedreig gevoel het en toe geskiet het uit selfverdeiging. Miskien moet anger management toegepas word.

Agter die skerms ·

Borg – wat gaan met die land aan? Hierdie man het ‘n geweer uitgehaal en JB net geskiet en nou is hy op borg uit. Waar is die regverdigheid waar.

Bring die doodstraf terug niks anders gaan ons red nie.

Onnie ·

Ek het nou die video gaan kyk. Dis skokkend. Dit blyk uit die video dat die een vrou in die geselskap iets vir die man met die pistool sê, waarna hy onmiddelik sy hand oplig en die ander man 2 keer, vinnig na mekaar, skiet. Daar was nie eers n waarskuwing nie. Wat gaan met die ou aan?! Dis mos nie die movies nie! Jy kan mos nie net skiet soos jy wil en dink dis niks nie! Eks sommer nou naar na ek die video gekyk het.

Leon Dormehl ·

Almal wat skerpsinnig oor borgtog is: borgtog het NIKS met skuldig of onskuldig te doen nie. Verder is was daar nog nie hofsaak met skuldigbevinding nie. Hoogstens kan na ‘n persoon verwys word as “beweerde” moordenaar. Nie een van julle het die reg om so n persoon te veroordeel nie, net n hof kan dit doen. Tot dan is die man onskuldig al lyk dit ook hoe op video opnames.

Werner ·

Wed jou as die ou blank is as het hy nie borg gekry nie en dit is nonsens dat hy borg gekry het gegewe die bewyse teen hom hy het geen rede gehaad om JB te skiet nie hoop nie hy verdwyn nie kom ons kyk wat gebeur

Leon Dormehl ·

Doodstraf met ‘n regstelsel soos dit nou is? Hoeveel onskuldige mense, en dalk nog rasgekoppel gaan ons teregstel? Nee, ag kom nou.

Pit ·

Ek is tengunste van die doodstraf, maar jy is so reg. Nie soos die regstelsel nou is nie. Korrupsie en die gewin seevier

Juis ·

Ja, Onnie, die realiteit is nié die movies nie. Skynbaar is ons hedendaagse samelewing egter in só ‘n mate deur rolprente, tv en rekenaarspeletjies gekondisioneer dat die onderskeid tussen realiteit en vermaak al moeiliker raak. Nou het daar ‘n kosbare man gesterf. ‘n Koue, harde feit. Nie speletjies met die dood soos op rekenaarspeletjies waar jy telkens skielik kan herlewe nie. Of soos op tv waar mense so maklik soos ‘n oogknip doodgeskiet word en moordenaars daarmee wegkom nie. Die werklikheid van dood is yskoud. Nou kom die klipharde werklikheid na vore, vir beide die slagoffer se familie sowel as vir die beskuldigde. Droomwêrelde van speletjies en verslawing maak dat die kosbare lewe van ‘n seun, pa, broer en vriend deesdae in die realiteit as nikswerd geag word. Die prioriteite van ons samelewing kom uit in harde gebeure soos dié. Dalk moet ons dit vinnig begin hersien.

Anne ·

My innige meegevoel met sy familie. Om ‘n stap te neem om te emigreer is baie emosioneel. Jy verlaat jou familie, vriende en in sy geval, sy onderneming. Die trauma waardeur sy vrou en kinders moet gaan kan ek nie indink nie. My hart is so seer, so jammer dit het gebeur.

emily ·

Wanneer gaan dit stop. Die verdomde regering doen niks om onskuldige mense te help nie, maar gee hulle n krimineel en die vuilgoed kry alles wat sy vuil hart begeer.
Meeste mense n deesdae trigger happy.
Dis om van siek te word.

AK ·

My innige simpatie aan d familie. Is dit net ek of is d beeldmateriaal en foto gebied v voorval totaal verskillend?

Miemie ·

R8000 bortog omdat hy glo siek is hoë bloeddruk, asma, en nier infeksie. KAN dit nie glo nie. EN dan se hy dat Hy onskuldig gaan pleit as hy hof toe gaan in Maart 2020.
Sterkte vir die familie kan net bid vir die Vader se vertroosting in hierdie droewige tyd. ‘n Tyd wat vreugde moes wees is nou n hartseer tyd en dit omdat n man skiethappy was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.