Mens se beendere op wildsplaas gekry

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Beendere van ’n mens wat vermoedelik voor sy of haar dood aan die brand gesteek is, is Donderdag op ’n wildsplaas in die Delmas-omgewing gevind.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het Vrydag bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek intussen begin is.

Mohlala sê die polisie op Delmas is Donderdag na die betrokke plaas naby die R42 (Bronkhorstspruitweg) ontbied waar die beendere langs ’n boom aangetref is. Iemand wat besig was om wild te jag het glo op die oorskot afgekom.

ʼn Voorlopige polisieondersoek dui daarop dat die persoon vermoedelik daar agtergelaat en aan die brand gesteek is. Die polisie probeer egter nog die omstandighede rondom die persoon se dood vasstel.

Dit is ook nie duidelik wanneer die persoon dood is nie.

“Die persoon se geslag en identiteit is in dié stadium nog onbekend. Die geregtelike doodsondersoek sal waarskynlik na moord verander word, aangesien voorlopige bewyse daarop dui dat die persoon aan die brand gesteek is,” het Mohlala gesê.

Die polisie doen ʼn beroep op enigeen met inligting wat die polisie in sy ondersoek kan help, om die Stop Misdaadhulplyn by 08600 10111 te skakel of inligting via MYSAPSAPP te stuur. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.