‘Mense bang om hul werk te verloor,’ sê oud-beeldpoetser

Voormalige woordvoerder vir die kabinet, Themba Maseko (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Staatsamptenare en beamptes wat onder druk geplaas is om te voldoen aan die behoeftes van die omstrede Gupta-familie sukkel om te getuig, omdat hulle bang is vir vergelding of om hul werk te verloor, het voormalige woordvoerder vir die kabinet, Themba Maseko, Woensdag aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê.

Maseko en 26 ander voormalige direkteurs-generaal het in 2016 ʼn memorandum saamgestel en versoek dat ʼn geregtelike ondersoek oor staatskaping gedoen moet word. Dit sluit ANC-veteraan Frank Chikane in, ʼn voormalige direkteur-generaal in die kantoor van oudpresident Thabo Mbeki.

Vincent Maleka van die kommissie wou weet of Maseko van enigiemand weet wat die kommissie kan bystaan met meer inligting oor die invloed van die voorvlugtige Guptas. Maseko het gesê die idee agter die memorandum was om meer staatsamptenare aan te moedig om na vore te kom.

“Ek glo daar is ʼn hele paar senior staatsamptenare en middelbestuurders wat ervarings gehad het met verskeie individue, insluitend die Gupta-familie. Dit kan moontlik ook verband hou met die optrede van hul politieke base – ministers, LUR’e en premiers – en eerder kies om nie na vore te kom nie, uit vrees vir vergelding of dat hulle hul werk sal verloor, en in die algemeen die land se onbereidwilligheid en onvermoë om diegene te ondersteun wat wel na vore wil kom.

“Ek kan dalk nie vir julle name gee nie, maar tydens die proses om die memorandum saam te stel, het verskeie direkteurs-generaal na vore gekom en oor hul ervarings met die Gupta-familie gepraat en die optrede van hul politieke hoofde,” het Maseko gesê.

Hy het gesê as die ondersoek op dieselfde tyd plaasgevind het as wat die memorandum publiek gemaak is, sou van die beamptes na vore gekom het om hul saak te stel. “Omdat daar nie in daardie stadium enige optrede was nie, het die kwessie waarskynlik net verdwyn.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het aan Maseko gesê dit wil voorkom of direkteurs-generaal dapper persone is wat bereid is om standpunt in te neem “wat in daardie stadium dalk nie gewild was nie” en dalk het hulle aanmoediging nodig om te kom getuig.

“Ek dink so, die politieke klimaat het ietwat verander. In daardie stadium was baie van hulle bereid om na vore te kom. En in daardie stadium is diegene wat wel na vore gekom het, ‘hanteer’ en hulle het die staatsdiens verlaat.”

Die memorandum is destyds gerig aan president Jacob Zuma, adjunkpresident Cyril Ramaphosa, minister van finansies Pravin Gordhan en minister van staatsdiens en administrasie Ngoako Ramatlhodi.

Ramatlhodi het later in 2017 onthul dat voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe, en voormalige raadsvoorsitter Ben Ngubane druk op hom geplaas het om die Guptas te help om Glencore se steenkoolmyn in 2016 oor te neem, terwyl hy nog die minister van minerale hulpbronne was. Hy het gesê hy het geweier. Ramatlhodi is daarna afgedank en vervang met Gupta-vriend Mosebenzi Zwane.

Maseko het gesê talle beamptes het privaat gekla dat hulle gedwing is om van aanskaffingsreëls af te wyk ten gunste van die Guptas.

Hy het ook verwys na ʼn groep intelligensiehoofde wat ʼn brief geskryf het waarin hulle besware aanteken oor die Gupta-familie se “beduidende invloed”.

Maseko het vir die eerste keer in die openbaar oor die Guptas se onbehoorlike invloed gepraat toe hy aangevoer het hy is onder druk geplaas om die advertensiebegroting van regering se kommunikasiediens na die familie se The New Age-koerant te kanaliseer.

Hy voer aan die Guptas het hom in 2010 verskeie kere gebel en versoek om ʼn vergadering by hul huis in Saxonwold, Johannesburg, by te woon. Op die dag wat hy uiteindelik ingestem het om met die Guptas te vergader, het Zuma hom na bewering ontbied en hom aangesê om die Gupta-familie “te help”.

Toe hy klaarblyklik voete gesleep het met die kwessie, het Ajay Gupta hom gebel en gedreig “om hom uit te sorteer”. Gupta het na bewering ook gesê: “… sê vir ons waar die geld is en sê vir die departement om vir jou geld te gee. As hulle weier, sal ons hulle hanteer. As jy ʼn probleem met enige departement ondervind, sal ons die ministers hierheen ontbied.”

Maseko is daarna in 2011 met Zuma-vriend Mzwanele Manyi vervang. Maseko was een van die getuies met wie die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela ʼn onderhoud gevoer het toe sy bewerings van staatskaping ondersoek het.

Zondo het die kommissie se regspan opdrag gegee om die voormalige direkteurs-generaal te kontak en te bepaal of hulle bereid sou wees om te kom getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Paul ·

Dus is daar nog te veel korruptes in magsposisies. Te veel, asof minder avn hulle die korrupsie ligter op die tong sou laat val. Half korrup, of heeltemal korrup? Van hulle was so vroeg as einde laas jaar verkies terwyl almal vooraf gewaarsku is, maar kies sal hulle kies. En wie se skuld is dit? ……

Ander Annie ·

Die kannetjie is oop en die wurms peul uit. Wat ‘n verleentheid vir Suid Afrika. Dat die Zuptas sit so fenomenaal kon regkry om ons land so te dreineer, is ‘n totale verleentheid. Hierdie is soos ‘n sepie en waarvoor baie “popcorn” nodig is. Aan almal wat getuig – staan sterk asseblief.

Paul ·

Maar jy het beeld gepoets, plaas dat jy na die eerste dag, toe jy agterkom hoe die wind waai, jou goed gevat en geloop het.

Henk du Toit ·

“ab honesto bonum virum nihil deteret”-Seneca. Nothing deters an honest man from doing what is honorable. Wees die eerbare man en staan op vir die waarheid, laat niks jou terughou nie. Net integriteit en goeie karakter kan ons land regmaak.

jaco ·

Hierdie hele Gupta saga kom ek nog verstaan as die besigheidsfamilie wat hulleself en Zuma uit staatsgeld verryk het, se van eerder Tshabalala of Nkosi was. Maar dis Indiërs: deel van ‘n nogal ryk minderheidsgroep in SA vir wie meeste swart mense nie veel tyd het nie. Gaan kyk maar ook na Malema se lelike uitsprake teen hulle. Met werkaansoeke moet talle Indiërs ook hoor: “sorry no job for you because you are not black enough”. So iewers maak iets nie sin nie. Waarom ‘n familie uit ‘n dikwels veragte minderheidsgroep help om nog ryker te word?

Willem ·

Waarom het Maseko nie as beeldpoetser bedank en die fluitjie geblaas die oomblik toe hy agterkom daar is ongerymdheid nie?

Willem ·

Antwoord: Hy het nie ‘n fluitjie gehad nie. En waarom sou hy bedank, hy het gewag dat sy Baas hom afdank.

Snowball ·

‘n Vis begin vrot by sy kop. Hoogste vlak van die ANC kaders was betrokke, so glad nie verbasend dat die res van die ontplooides tjoepstil toegekyk het nie…

Sarel ·

Koruptes steeds in beheer en kan enigeen steeds bykom waar hulle hulself bevind. Die wat nie navore kom om te getuig nie, en selfs van die wat wel gaan getuig was totaal deel van die korrupsie selfs al was hulle geboelie om dit te doen . Moontlike amnestie moet maar oorweeg word. Dit is egter hartseer om te dink sommige gaan dan wegkom .

Daan Erasmus ·

Die nuwe Public Protector het die dag toe sy instap hul kantoor se TV op ANN7 gesit. Nou dat dit nie meer uitsaai nie, op wat het sy nou hul TV?
Kan iemand probeer uitvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.