Mense maak harte oop ná hond peuter byt

Klein Hendré se wonde begin genees (Foto: Verskaf)

Slegs ’n week nadat ’n geldinsameling van stapel gestuur is vir klein Hendré du Plessis se peperduur kakebeenoperasie is genoeg geld ingesamel dat hy wel die operasie kan ondergaan.

Hy sal na verwagting Donderdagoggend in die Peglerae Life-hospitaal in Rustenburg geopereer word.

Hendré is op 26 Junie deur ’n hond aan sy gesig beetgekry toe hy die dag by familielede op ’n kleinhoewe buite Rustenburg, Noordwes, deurgebring het. Hy was 19 maande oud ten tyde van die voorval en kan nou ná meer as twee maande eindelik die noodsaaklike operasie ondergaan.

Volgens Hendré se ma, Nadesna du Plessis, het wildvreemdelinge van heinde en ver geld in haar rekening betaal vir die operasie. Sedert Maroela Media verlede Woensdag oor die geldinsameling berig het, is R70 000 ingesamel. Die operasie beloop ’n geraamde R99 029.

“Ons versekering gaan die uitstaande bedrag vir die operasie betaal. Hulle gee ook ’n bietjie ekstra vir wanneer Hendré dalk krone vir sy tande moet kry. Dit is ook deur die byt beskadig.”

Die Du Plessis’s se hospitaalplan is reeds met Hendré se eerste operasie uitgeput, en hulle het nie genoeg geld gehad om vir sy operasie uit hul eie sak te betaal nie.

Weldoeners vanuit Swaziland, Australië, Engeland en selfs Nederland het vir hulle geldskenkings gegee. “Een persoon het sommer eensklaps R10 000 in my rekening betaal.”

Nadesna en haar man, Casper, is dankbaar en sprakeloos oor die goedhartigheid van mense wat hulle van geen kant af ken nie. “Ons is stomgeslaan en kan nie glo dat mense ondanks die Covid-19-uitdagings steeds hul harte só vir ander oopmaak nie.”

Hendré in die hospitaal in Junie (Foto; Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Hendré se ouma het hom die dag in ’n karretjie rondgestoot toe ’n wiel aan ’n klip vasgehaak en die karretjie omgeslaan het. Hendré het uit die karretjie geval en begin huil. Sy ouma het hom opgetel en onder die arm vasgehou. Dit is toe dat een van die honde op die erf sonder waarskuwing Hendré se gesig van onder af gegryp het.

Die hond het aanhou byt en sy bek het oor Hendré se gesig gesluit. Die ander familielede het saam met die ouma onverpoos gestoei om die hond van Hendré af te kry. Hulle het genadiglik later daarin geslaag.

Die dokters het in die hospitaal x-strale van Hendré se gesig geneem en aanvanklik gesê sy kakebeen is nie gebreek nie. Hy is later in die teater ingestoot om steke vir sy wonde te kry. Hier het die dokter besef sy kakebeen is wel gebreek en hy sal ’n operasie moet ondergaan.

Nadesna het vroeër gesê sy kan nie meer sit en toekyk hoe haar seuntjie swaarkry nie. “Sy kakebeen en mond hang. Hy kan nie harde kos eet nie. Hy het nie beheer oor die spoeg wat gedurig uit sy mond loop nie.”

Sy kan nie glo die nagmerrie is amper verby nie. “Ons het onophoudelik gebid vir die geldjie en nooit opgehou glo nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Heilet ·

Ek is nou al so moeg vir mense wat nie wil luister nie. Orals word honde toegelaat om los rond te loop en hulself aan jou op te dwing. In winkels steur mense hul nie aan die geen diere bordjies nie.. op strande, strate en parke trap jy in hul gemors. Geen troeteldier is MAK nie.

Francois Le Cochon ·

Ek stem 100% met jou saam. Ek het nog nooit gehoor van ‘n “wilde hond” wat ‘n mens gebyt of verskeur het nie. Al die berigte wat ek al gelees het van honde wat mense byt en verskeur, het eienaars, en is mak troeteldiere.

Janine ·

Honde val nie net aan nie. Hulle skrik, reageer. Is dalk bang, en reageer. Is dalk mishandel/verwaarloos, en reageer. MENSE moet honderasse navors, en seker maak hulle het die tyd/energie/lus om spesifieke rasse op te lei, te laat oefen, te sosialiseer ens.

Elizma ·

So volgens jou moet daar geen troeteldiere wees nie? Dalk het die hond net sy eienaar beskerm, nie besef dat die kind dalk net opgetel is deur Ouma nie. Ongelukkig was die kind op die hond se tuisgrond en ‘n ONGELUK het gebeur. Volgende keer op die strande, strate en parke, kyk waar jy loop en trap die gemors mis.

Genis ·

Jy het darem maar n afgunstige geaartheid teenoor diere? Troetel diere beskerk mense, gee soveel vreugde, is soms beter as mense.. Dit was n vrats ongeluk, en ja dis nie lekker om te lees of te hoor nie.. Mens kennie die omstandighede nie.. My eie kleinking klap na diere, en raas met hom, maar iemand laat dit toe.. En ek het al gewaarsku… Nietemin, bly daar is soveel weldoeners, en hoop vir n spoedige herstel.. Heilet kry maar eerder n varing vir jou, dis beter so. Ek ruil my honde kinders vir niks..

Minette ·

Ek hoop julle wat so oordeel kom nooit iets leliks oor nie. My ouma woon by my ouers op die kleinhoewe. Ten tye van die voorval was daar ander grootmense ook en my ouers was dus albei by die werk. Ouma is dus hierdie seuntjie se ouma grootjie. Dis my neef se seuntjie. Die hond het aan my ouers behoort. Dit was ‘n ONGELUK en nie my neef of sy vrou oordeel my ouers of enige iemand vir wat gebeur het. So wie is jy om te oordeel? Ons almal se harte is so bitter seer oor wat met hom gebeur het. En julle kan julle nie voorstel hoe my sleg my ouers voel nie! Hoe getraumatiseerd ons almal is. En hoe dankbaar ons is dat klein Hendré nou kan gesond word! So asb. Voor julle oordeel. Neem die mense wat hierdeur geraak is in ag. Want dis vir niemand maklik nie!

Engela ·

Sterkte vir julle almal wat betrokke is. Ignoreer die ou suurvye.

Pandora ·

Ongelukke gebeur en ek is nie ‘n dierekenner nie, maar dit klink of die situasie heeltemal vreemd was en dus kan mens aflei dat die woef ook geskrik het en toe so gereageer het. Hoe sal mens nou weet? Julle moet dalk almal by ‘n berader uitkom om net die las af te laai. Soos jy sê dit was ‘n ongeluk.

Baie sterkte met die seun se herstelpad en ek hoop dat die mental trauma ook hanteer word.

Adeline ·

Alle voorspoed en seën aan die gesin met dit wat voorlê.. is ‘n moeilike pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.