Mense maak harte oop vir diereskuiling ná swaar reën

Kos en komberse geskenk (Foto: Verskaf)

Skenkings het ingestroom vir die alombekende Wollies-diereskuiling in die noorde van Pretoria nadat swaar reën Maandagaand oor die gebied uitgesak het en dié veilige hawe vir diere oorstroom is.

Wollies het Dinsdagoggend op sosiale media om hulp en skenkings gepleit en volgens Cilla Trexler, eienaar en stigter van die diereskuiling, was mense se reaksie verstommend.

“Mense van oral het hul harte oopgemaak, hulp aangebied en skenkings aangery. Ek het nie woorde om mense se goedhartigheid te beskryf nie,” sê ’n dankbare Trexler.

Sy sê tientalle vrywilligers het sedert Dinsdagmiddag by die skuiling aangemeld om te help waar daar ook al ʼn behoefte was. Hulle het moue opgerol, hande vuilgemaak en aan die werk gespring.

“Mense het gehelp om die verspoelde grond weer gelyk te maak en komberse in die hondehuisies te sit.”

Verder is skenkings soos komberse, kos, bakstene, houtpalette en sinkplate na die diereskuiling aangery.

Die verspoelde grond (Foto: Wollies Animal Shelter, Facebook)

Trexler sê ʼn vrou het al langs die pad bakstene opgetel, in haar klein motortjie gelaai en vir die diereskuiling geneem sodat skuilings onder meer daarmee gebou kan word.

Mense het ook aangebied om sommige van die honde wat sukkel om in hokke aan te pas, in pleegsorg te neem.

“Vir die honde voel dit soos Kersfees met al die skenkings.”

Dié skuiling gaan al die afgelope sewe jaar wat die skuiling op die spesifieke perseel bedryf word, bykans elke jaar onder oorstromings gebuk.

Die verspoelde hokke (Foto: Wollie Animal Shelter, Facebook)

“Omdat ons jaarliks met hierdie probleem moet worstel, weet die personeel al presies hoe om krisisbestuur toe te pas en die situasie so gou as moontlik onder beheer te bring om groot skade te vermy.”

Volgens Trexler kan hulle nie te veel geld aan ’n meer permanente oplossing bestee nie omdat hulle nie weet hoe lank hulle nog op die spesifieke perseel gaan wees nie. Wollies is vroeër deur die grondeienaar ingelig dat hy die perseel moet ontruim, of ʼn groot maandelikse huurpaaiement moet betaal. Die bedrag is nie vir die niewinsgewende organisasie haalbaar nie.

Trexler sê hulle beoog om vir eers tydelike oplossings in te stel om die probleem meer beheerbaar te maak.

“Ons beoog om orals in die hokke Wendy-huisies, wat hoër van die grond af staan, vir die honde op te rig. Dit sal help dat die honde se huisies en komberse glad nie nat word nie. Ons wil ook die seile wat bo-oor die hondehokke gespan is, met sinkplate vervang omdat die seile nie altyd so doeltreffend is om die water uit te hou nie. In hierdie geval kon die seile nie die swaar watermassa hanteer nie en het dit geskeur.”

Geen diere is beseer nie.

“Ons is ná die ramp darem al amper by die eindstreep te danke aan almal se hulp. Ons waardeer dit so baie.”

Met nóg reën wat vandeesweek verwag word, word enige verdere skenkings verwelkom.

Besoek die organisasie se Facebook hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Smurf ·

Tot dat die eff dit uitvind en gaan toi-toi en amok maak omdat hulle mense nie die kos en komberse gekry het nie.

Janee ·

En wie verdien dit meer as die diere?….Wonderlike mense met liefdevolle harte..

JM ·

Diere is so uitgelewer aan omstandighede. Baie dankie vir elkeen wat bygedra het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.