Mense moet na ander provinsies trek as hulle werk wil hê

provinsies

Vanaf: Chapter 2, The Epidemiology of Cutaneous Melanoma in the White and Black African Population Groups in South Africa/Creative Commons

Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke (SBA) het Vrydag die vakbond se kommentaar op minister Mildred Oliphant se omstrede konsep-diensbillikheidskodes by die departement van arbeid ingedien. Dirk Groenewald, hoof van die SBA, sê Solidariteit is oortuig dat swak raad deur die Kommissie vir Diensbillikheid (CEE), op wie se advies minister Oliphant die kodes gepubliseer het, tot die skadelike inhoud van die kodes bygedra het.

Groenewald sê dat, indien die voorgestelde maatreëls wat in die kodes vervat is toegepas sou word, dit tot noodgedwonge verhuisings sal lei. “Mense sal op grond van hul ras na streke in die land, waar hulle nie ‘oorverteenwoordig’ is nie, moet trek, indien hulle werk wil hê.”

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wys al sedert 2007 op die ernstige gebreke in die CEE se jaarlikse verslag oor rasseverspreiding in die arbeidsmark. By die vrystelling van die SNI se ontleding van die CEE se 2013-verslag op 15 Mei verlede jaar, het Paul Joubert, senior navorser, juis gewaarsku oor die absolute rasseverteenwoordigendheidsvertrekpunte van die CEE.

“Die rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking word weereens as die enigste en finale maatstaf vir die vordering van regstellende aksie gebruik,” het Joubert toe gesê. “Dit lyk asof die kommissie slegs tevrede sal wees wanneer die Suid-Afrikaanse arbeidsmark wat ras betref presies dieselfde lyk op elke posvlak, by elke werkgewer en op elke plek in die land.”

Volgens Groenewald is dit in die lig daarvan dat die minister op die advies en inligting van die CEE steun dus nou nie verbasend dat sy diensbillikheidskodes voorstel wat ook daarna streef om ’n rasseherverspreiding in Suid-Afrika te weeg te bring nie.

Minister Oliphant se kodes volg te midde van meer as 30 regsgedinge waarin Solidariteit walgooi teen ’n rigiede, rasgebaseerde toepassing van regstellende aksie. Solidariteit wys reeds ’n geruime tyd daarop dat die onbuigsame afdwinging van die nasionale rassedemografie geen keuse aan mense, wat op ’n streeksbasis “oorverteenwoordig” is, laat nie as om na ander streke, waar hulle “onderverteenwoordig” is, te verhuis.

Kyk hier vir Solidariteit se mediaverklaring oor die CEE se 2013-verslag.
Kyk hier vir die Solidariteit Navorsingsinstituut se ontleding van die CEE se 2013-verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.