
Sosiale afstand word in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad gehandhaaf (2 April 2020). (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)
Lede van die publiek het nou die geleentheid om hul sê te sê oor die jongste Covid-19-regulasies wat die departement van gesondheid Woensdag voorgestel het.
Dit handel oor die voorgestelde regulasies vir die bestuur van die huidige Covid-19-pandemie – en enige ander pandemie wat dalk in die toekoms kan uitbreek.
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het vroeër vandeesweek te midde van skerp kritiek daarteen, die nasionale ramptoestand opnuut verleng.
“Hierdie is deel van die regering se oorgangsplanne uit die huidige ramptoestand wat nou al meer as twee jaar in plek is,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid.
Die ramptoestand is vir die eerste keer in Maart 2020 aangekondig in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika te beperk.
Die jongste voorgestelde regulasies poog nou om ʼn aantal nuwe beheermaatreëls in te stel. Van hierdie maatreëls sluit die toesig en beheer van aanmeldbare mediese toestande in, openbaregesondheidsmaatreëls by toegangspunte, die bestuur van menslike oorskot en regulasies met betrekking tot omgewingsgesondheid.
Luidens die voorgestelde regulasies oor hawens, stel die departement voor dat enigiemand wat Suid-Afrika tydens ʼn pandemie wil binnekom of verlaat, ʼn negatiewe PCR-toetsuitslag, wat nie ouer as 72 uur is nie, moet indien as hulle nie ʼn volledige inentingsertifikaat het nie.
“Hierdie regulasie sal dus die huidige een vervang wat ʼn negatiewe PCR-toetsresultaat vereis of toeriste nou ʼn inentingsertifikaat het, al dan nie,” sê Mohale.
In ʼn poging om grootskaalse oordrag tydens byeenkomste te bestuur, stel die jongste regulasies voor dat nagwake en byeenkomste ná begrafnisse beperk word.
Binne- en buitenshuise byeenkomste sal tot 50% van die venuekapasiteit beperk word, mits geldige entstofsertifikate verskaf word, sosiale afstand van minstens een meter gehandhaaf word en die dra van maskers verplig word.
Die bywoning van binnenshuise byeenkomste sonder ʼn bewys van inenting sal beperk word tot slegs ʼn duisend mense en 2 000 vir buiteluggeleenthede. ʼn Sosiale afstand en die dra van maskers word steeds verplig.
“Alle belanghebbendes kan hul kommentaar of vertoë oor die voorgestelde regulasies binne 30 dae vandat dit gepubliseer is, indien.”
Die proses sal teen Vrydag 15 April sluit om die regering die nodige tyd te gee om al die kommentaar te oorweeg.
- Kry die voorgestelde regulasies hier.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Hoekom word almal oor dieselfde kam geskeer?
Waar kan mens vertoë rig
so! Gevolglik sal die ramptoestand outomaties verleng na 15 Mei?
Waar moet mense hul besware indien? Is daar ‘n webtuiste daarvoor?
So, verstaan ek reg, ons sal aan hierdie regulasies moet voldoen tot die oordeelsdag?