Mense se ‘inkoop’ in Voortrekkermonument verstom

Die Voortrekkermonument (Foto: FAK Verskaf)

Die Voortrekkermonument kry mense van tot Australië, Nieu-Seeland, Nederland, België, Duitsland, Swede en Saoedi-Arabië wat dele van dié monument virtueel koop as deel van die “Herbou die monument”-projek.

Sowat 15 000 sertifikate is reeds aan kopers uitgereik en R1,4 miljoen ingesamel vir die voortbestaan van dié historiese monument.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê die meeste van die groot dele van die monument is reeds opgeraap. Dít sluit in al vier hoekfigure teen R15 000 stuk, asook die koepel en die opening vir R20 000 en R10 000 onderskeidelik.

Die VF Plus-Jeug in Gauteng is nou ook die virtuele eienaar van die senotaaf in die monument nadat hy dit teen R50 000 opgeraap het. Dié senotaaf is van rooi graniet uit die Parys-distrik in die Vrystaat gemaak.

“Die VF Plus-Jeug het die senotaaf gekies omdat dit die sentrale fokuspunt van die monument is wat die rusplek van die Voortrekkerleier Piet Retief en al die Voortrekkers wat tydens die Groot Trek gesterf het, simboliseer,” verduidelik die party se jeugafdeling in ’n verklaring.

Wat Bloedrivier betref, is alles verkoop behalwe die Granietwa, die driehoekmonument en een van die kanonne.

“Die mense se onvoorwaardelike ondersteuning is wonderlik,” sê Kruger. “Almal weet dit is maar ’n simboliese ding waarvoor jy bloot ’n stukkie papier (sertifikaat) kry.”

Tog is dit juis dié simboliek daaraan verbonde wat dit vir sommige die perfekte Kersgeskenk of verjaardaggeskenk aan ’n geliefde maak. ’n Matriekklas van die Zoutpansberg het selfs ’n deel van die monument as nalatenskap vir hul skool gekoop.

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: VTM)

“Dit het ’n platform geword vir mense om geliefdes op ’n spesiale manier met ’n blywende en simboliese geskenk te kan bedank,” sê Kruger.

Dermate dat die verkoop van sommige dele van die monument byna in die spreekwoordelike vuisgeveg ontaard het, word daar geskerts.

Die vier honde wat op die monument se friespanele uitgebeeld word, het soos soetkoek verkoop nadat verskeie vroue belangstelling getoon het en sommige moes toe maar met van die ander items soos die skaaplam en kitaar op die friespanele tevrede wees.

Die swartwildebeeste van die monument het ook vinnig teen R5 000 elk verkoop en al 320 trappies van die monument is teen verlede maand reeds uitverkoop.

Tog is daar nóg dele van die historiese Voortrekkermonument virtueel te koop beskikbaar. Dít sluit in die monument se granietstene teen R100 stuk. Slegs 2 888 van die 60 000 granietstene is reeds verkoop.

Slegs een van die monument se 27 marmerfriese is in dié stadium teen R100 000 verkoop terwyl twee ander aan weldoeners toegeken is wat ’n groot bydrae tot die projek gemaak het.

Van die 15 tapisserieë is daar 12 oor teen R10 000 stuk.

Maroela Media het vroeër berig die “Herbou die monument”-projek is vroeër vanjaar van stapel gestuur om die Voortrekkermonument uit geldelike verknorsing te help weens die Covid-19-pandemie se invloed op erfenis- en toeristeaantreklikhede. Lede van die publiek is gevolglik gevra om ere-eienaars van die monument te word en hul eie stukkie van dié bouwerk te koop.

Deur ’n gedeelte van die Voortrekkermonument te koop kry elke koper ’n sertifikaat wat aandui watter gedeelte van die monument hy of sy gekoop het en so word elke koper ʼn ere-eienaar van dié stuk erfenis.

Kruger doen ’n beroep op die sowat 50 mense wat reg aan die begin van die projek dele van die monument virtueel gekoop het, maar nie hul kontakbesonderhede deurgegee het en dus nog geen sertifikaat ontvang het nie, om met Geraldine by [email protected] kontak te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Liefde, Liefde!!!!

Fritz

Groot genade! Baie dankie aan almal wat ‘n bydrae gemaak het. Ons Boere kan tog saamwerk as dit saak maak!

Kokkie

Wonderlik ! Dit maak my hart so bly. Dankie, trotse Afrikaners.

Wakkerslaper

Trots om deel te wees van ‘n volk wat vir homself sorg, die goeie uit die verlede neem, daarop bou en vooruit streef. Anders as ander volke wat brand en afbreek en heeldag bakhand staan…. en dan nog bonop ander blammeer vir hulle agterstand…

Dries

Wonderlike nuus. Dankie aan almal wat bygedra het