Mense verwyder midde KZN-storm

Reën in KwaZulu-Natal. (Foto: Twitter/ eThekwini)

Gedeeltes van Durban het reeds Saterdagaand begin oorstroom en verskeie gebiede is ontruim nadat ʼn kouefront en reën dié provinsie die naweek getref het.

Die KwaZulu-Natalse regering het inwoners van Durban, veral dié in uMlazi, Wentworth, Isipingo, Amanzimtoti, Westbrook, asook inwoners van die noordelike dele van Durban, waaronder uMdloti en Tongaat, gewaarsku om liefs hul huise te verlaat terwyl storms wat dié provinsie Saterdag getref het, voortduur.

Teen Saterdagaand is 190 mense reeds uit ʼn ouetehuis in Tongaat na SJ Smith Hall geneem. Die weermag het ook gehelp om mense in die omgewing van Othogathi na veiligheid te bring. “Ons vra alle inwoners wat langs riviere woon om die watervlak fyn dop te hou en onmiddellik te vlug sodra hulle sien die watervlak begin styg,” het die provinsiale regering Saterdagaand in ʼn verklaring gesê. “Inwoners wat gevra word om hul huise te verlaat, moet asseblief so doen. Ons wil hê julle moet veilig wees.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Saterdag ʼn rooi vlak 10‑weerwaarskuwing vir dele van KwaZulu-Natal uitgereik, met swaar reën wat verwag word en moontlik ernstige gevolge kan hê. Dit is die hoogste waarskuwingsvlak wat die weerdiens kán uitreik. Swaar reën het teen Sondagoggend steeds hier geval.

Oorstromings Saterdag in Pinetown. (Foto: Twitter/ eThekwini)

Verskeie paaie in en om eThekwini was teen Sondagoggend onbegaanbaar. Dit sluit in Alpineweg in ʼn suidelike rigting, Cavershampad in Pinetown, Mariannhill by die Gilletspad en Keurboompad by Mariannridge. Die munisipaliteit het inwoners gewaarsku dat reën waarskynlik nog tot 20:00 Sondag sal val en plaaslike oorstromings kan veroorsaak.

“Die koue en reën sal waarskynlik teen Sondag na die Noordkus versprei en gebiede soos Richardsbaai en Empangeni raak,” lui die provinsiale regering se verklaring.

Reisigers is ook gemaan om liefs die M7 te vermy, aangesien oorstromings ook hier aangemeld is. “Nooddiensspanne en die weermag is gereed om hulp te verleen, indien nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.