Mensehandel floreer weens korrupsie

Argieffoto

“Korrupsie skep ’n kultuur waarin mensehandel floreer. Dit is juis waarom Suid-Afrika tans ’n sagte teiken is vir sindikate wat in ‘n hedendaagse soort slawerny handeldryf,” meen Marcel van der Watt, ’n oudpolisieman en kenner op die gebied van mensehandel.

Hy was onlangs ’n spreker by die internasionale MeCAHT (Media Campaign Against Human Trafficking) -konferensie in Johannesburg waar mensehandel van nader bekyk is.

Mensehandel is tans, wêreldwyd, een van die mees winsgewende bedrywe, en is ’n beraamde R 2 000-miljard werd. In sommige studies word daar na Suider-Afrika (wat Suid-Afrika insluit) as een van die toptien-mensehandelbestemmings in die wêreld verwys.

“Alhoewel mensehandel deur verskeie sosio-ekonomiese faktore aangehelp word, is die korrupsie van die regering een van die hoofredes wat dit makliker maak vir misdadigers om hul netwerke te vestig,” het Van der Watt gesê.

“’n Sindikaat sal ’n buurt infiltreer deur invloedryke rolspelers (soos polisiemanne, sakelui en plaaslike politieke leiers) in die gebied te nader. Eers word daar ’n vriendskap gesmee en die rolspelers word genooi om, byvoorbeeld, saam dwelms te gebruik, waarna dié rolspelers wat gewillig is dan deelneem in ander onderduimse dade. Dit los dan ’n deur oop vir die sindikaat om met sy bedrywighede in die gebied aan te gaan, met die veronderstelling dat die rolspelers hul beskerming sal bied waar nodig.”

Hy meen dit is dan maklik vir die sindikaat om verdere voelers uit te steek en dan aan te sluit by ’n netwerk van misdadigers wat landwyd en selfs internasionaal met mense handeldryf.

“Dié sindikate se besigheid sluit nie net jong meisies in nie, maar dwelms, organe en selfs kinders.”

Van der Watt glo die gebruik van sosiale media het ook ’n negatiewe impak op die heersende kultuur.

“Mense raak meer geïsoleerd en afgestomp teenoor gebeure, wat dit makliker maak vir misdadigers om onder ons neuse met hul bedrywighede weg te kom. Dit is juis wanneer ons nie ons bure ken nie, en ook nie optree as ons iets verdag opmerk nie, wat aan sindikate beskerming bied. Hulle kruip weg agter ons onwilligheid om betrokke te raak in ons gemeenskap.”

Volgens Van der Watt is dit moeilik om die omvang van die probleem met data te staaf weens die manier wat statistieke aangeteken word.

“Die meeste slagoffers van mensehandel rapporteer ander verwante misdade soos verkragting of aanranding of die polisiemanne teken dit in onkunde so aan. Dit gebeur ook dat die sake verdwyn weens korrupsie of dat die slagoffers eenvoudig net te bang is vir verandering of die gevolge van hul eie dade (soos prostitusie of dwelmgebruik) sodat hulle eerder stilbly. Dit is hartseer, maar dit is die realiteit vir mense wat al vir jare deur hul ‘eienaars’ gemanipuleer word.”

Hy glo dit is ook Suid-Afrikaners se verantwoordelikheid om die regering aanspreeklik te hou vir korrupsie.

“Mensehandel is ’n uitdagende, komplekse probleem wat op verskeie vlakke die hoof gebied kan word, maar ons moet ook bereid wees om op te staan teen enige ongerymdhede en dit nie net daar laat nie.”

Hy daag die regering uit om so gou moontlik ’n sterk teenkorrupsiestrategie te ontwikkel om sulke misdade te bekamp.

Helen Sworn, direkteur van die Chab Dai-koalisie wat mensehandel in Kambodja beveg, meen die samelewing moet hande vat en op verskeie vlakke dringende aandag aan die probleem gee.

“Die sindikate oorleef weens hul komplekse nasionale en internasionale netwerke – dit is tyd dat ons die sindikate op hul eie speelgrond wen, en ook sterk netwerke vorm. Rolspelers uit verskeie bedrywe met waardevolle vaardighede asook die publiek moet hande vat om die sindikate se netwerke op te breek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marie MALAN ·

DIS hartseer ,mens Moet maar net versigtig wees maak NIE SAAK WAAR met Wie, AI mense Hou jou oe Oop, kyk ooral????????????????????????

Danie ·

Slawerny is slawerny. Al noem jy dit nou skielik mensehandel. Mensehandel is niks anders as slawerny nie. Dit volg nog steeds dieselfde patroon as eeue gelede. In Suid-Afrika het dit baie makliker geword die afgelope dekade of twee om dit te bedryf. Solank die duister bak handjies gevul word word die kop weggedraai.

Pampoen ·

Ek dink daar is baie mense wat die mensehandel en ontvoering aandik. Dit bring groot ongeloofwaardigheid en mense keer dan hulle rug op die saak. Ek sê so want as jy die statistieke nagaan vind jy dat die meeste ‘ontvoerings’ bloot geskeide pa’s is wat hulle eie kinders ontvoer of dat die syfers oorheers word deur kinders van 16 wat wegloop uit die huis uit. Maroela Media het voorheen ‘n baie insiggewende berig hieroor geskryf.

Slaaf ·

Die kolonialiste is beskuldig van slawehandel, nou is dit mense van Afrika wat mensehandel op groot skaal beoefen. Al die duisende vlugtelinge wat bereid is om te sterf, eerder as om in hul eie land te bly, wys maar net hoe sleg dit werklik in sommige Afrikalande gaan!

Kobus ·

Pampoen??? Jy klink nou soos Politikus. Mensehsndel is geweldige groot probleem veral in SA. Maak vreeslik lawaai in openbaar oor die geweld teen vrouens en kinders masr in praktyk is die probleem, sois ander misdaad,reeds te groot om te hanteer . Indien mense gearresterr word lag hulle vir die SA Regstelsel van Borg en sake wat jaee duur terwyl voirtgegaan word met die misdaad.

Jaco ·

Die mense wat sulke onmenslike lang ure in winkels werk is ook slawerny. Meeste van die tyd mag hul nie eers sit nie. Mens doendit nie eers aan ‘ n dier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.