Mensehandel in Suid-Afrika

mensehandel-in-suid-afrika

Helpende Hand se “Pêrels uit as”-tak is besig met ‘n bewusmaking oor mensehandel Foto: Aan Maroela Media verskaf deur Helpende Hand se “Pêrels uit as”-tak

Volgens die Global Slavery Index is daar tans ongeveer 45,8 miljoen mense wêreldwyd in mensehandel vasgevang. In 2014 was Suid-Afrika 126ste uit 167 lande op die ranglys met ʼn beraamde 106 000 mense vasgevang in mensehandel. In 2016 is Suid-Afrika egter al 27ste op die ranglys met ʼn beraamde 248 700 slagoffers.

Maar wat is mensehandel? Mensehandel is moderne slawerny. Mensehandel behels die werwing, vervoer, oordrag, herberg of ontvangs van persone, deur middel van bedreiging of die gebruik van geweld of ander vorme van dwang, ontvoering, bedrog, misleiding, die misbruik van mag, die misbruik van kwesbaarheid met die belofte van vergoeding of betaling. Die uitsluitlike doel van mensehandel is altyd uitbuiting.

Mensehandel sluit in maar is nie beperk nie tot die volgende: Slawerny, prostitusie, kinderprostitusie, pornografie, kinderpornografie, kuberpornografie, dwangarbeid, kinderarbeid, verwydering van ledemate en organe, bevrugting van ʼn vrou met die doel om die baba te verkoop (babyfarms), kinderhuwelike, onwettige aannemings (en in sommige gevalle wettige aannemings) en ukuthwala.

Ukuthwala beteken “om te dra”. Die tradisie van ukuthwala was om uitgerekte huwelikrituele te vermy. Die man het die toekomstige bruid ontvoer om sodoende die familie te dwing om vinniger toestemmig tot die huwelik te gee. Tans het ukuthwla ʼn nuwe blaadjie gekry. Meisies so jonk as 12 word ontvoer en verkrag deur ʼn bende mans om die ouer sodoende te dwing om die meisie as ʼn bruid aan hulle te gee. Navorsing wys dat 56% van meisies wat MIV-positief getoets is tussen die ouderdomme 12 en 19, deur die tradisie van ukuthwala MIV/vigs opgedoen het en as ʼn kind in die huwelik getree het. Ongeveer 10 000 meisies is slagoffers van kinderhuwelike in Suid-Afrika.

Suid-Afrika staan bekend as ʼn bron-, transito- én eindbestemmingsland.

As bronland: Suid-Afrikaanse slagoffers is gevind in Malawi, Venezuela en Brasilië. Suid-Afrikaners word gesmokkel na Europa en die Middel-Ooste vir dwangarbeid en prostitusie.

As transitoland: OR Tambo Internasionale Lughawe en grensposte is ʼn bron van groot bekommernis. Mense word hier onwettig in Suid-Afrika ingesmokkel.

As eindbestemmmingland: die grootste aantal slagoffers in Suid-Afrika is Suid-Afrikaners self. Die grootste ander etniese groep is Taiwannese vroue.

Soveel as 80% van slagoffers in Suid-Afrika word gebruik vir prostitusie.

Mensehandel neem nie ouderdom, geslag, geloof of ras in berekening nie – almal loop die risiko om ʼn slaaf te word. Een uit elke vyf slagoffers is seuns. Seuns word gevang deur valse beloftes van sportskontrakte en goeie werk – net om ontnugter te word en as arbeiders gebruik te word of vermoor te word vir hulle ledemate en organe.

In 2013 het pres. Jacob Zuma die eerste wet teen mensehandel onderteken, die Wet op Menshandel. Voor 2013 was daar geen wet teen mensehandel in Suid-Afrika nie. Hoewel ons tans die wet het, is almal nog nie opgelei in die korrekte interpretering van die betrokke wet nie. Aanmeldings word ook bemoeilik deur korrupte polisiebeamptes en polisiebeamptes wat nie die wet ken nie en nie weet hoe om ʼn slagoffer van mensehandel te identifiseer nie.

  • Helpende Hand se “Pêrels uit as”-tak hou gereeld bewusmakingpraatjies oor mensehandel en wat die publiek kan doen. Die tak het ook ʼn rentevrye studielening gestig spesifiek vir slagoffers van mensehandel. Hierdie rentevrye studielening is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en die tweede ter wêreld. Die tak staan onder leiding van Elize Bezuidenhout, ʼn funksionele terapeut. Om betrokke te raak of om ʼn bewusmakingpraatjie te reël kan Elize gekontak word by 082 772 181 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Lalla ·

Dit was voorheen ook nie nodig vir so ‘n tipe wet nie, want ons grense was gepatrolleer en mense moes volgens die wet leef. Nou is dit mos ‘n “free for all” land, almal kan mos kom en gaan soos hulle wil. Maar dis nog ‘n goeie storie vir ou zumpie om te vertel. He-he-he

Francie ·

Watter gruwelike praktyk! Ek weet nie hoe ‘n mens jou kinders werklik 100% kan beskerm nie. Sonder om hulle aan die Here se alomteenwoordige beskerming op te dra en om dan die kinders bedag te maak op sulke mense kan hulle heelhuids van hierdie gewetenlose mense beskermd wees. Ek ys altyd wanneer ek ouers sien hulle kinders in trollies alleen laat by winkels, net ‘n baie kort rukkie kan nog te lank wees.

Theresa ·

Afgryslike bedryf. Daar hoort ‘n spesiale taakmag te wees wat hierdie vieslikheid uitroei – wortel en tak. Dryf dié wat aan die hoof is daarvan, land uit. Hul hoort nie hier nie. Mnr die President: Kan jy asb jou bril regstoot en begin kyk na ELKE wettige inwoner in die land se veiligheid asb. Of besef jy glad nie dat dit deel van jou prioriteite is nie!!!!!

Wouter ·

Ons is almal deel van dit. Ons land is in 94 al gekaap en ons word gedwing om ons hard verdiende geld aan Zuma en sy trawante oor te handig. In die vorm van al die soorte belastings ens. Ons is vasgevang in n web van bedrog diefstal en selfverryking oj en magsbehepteid.

Marinda ·

Absoluut barbaars!! Dit is verskriklik! (As kind is ons geleer om nooit te sê “verskriklik lekker” byvoorbeeld nie.) Want verskriklik is iets wat jou tot in jou murg toe skok, traumatiseer en ontredder. Hiérdie praktyke is is waaragtig VERSKRIKLIK!

Cherokee ·

Jy mag nie sê ‘verskriklik lekker’ nie maar weet jy hoe glimlag ek wanneer die kommentators ‘bitter bly’ is. :-)

Gertman ·

Moenie verbaas wees wie eintlik agter al hierdie walglike gemors sit, self weet ek nie, maar deesdae is enige iets moontlik, want Geld en geldgierigheid ken geen grense dit het ons nou al hoeveel keer gesien.

Peet J ·

Waarom moet daar nou ‘n bohaai gemaak word oor die aangeleentheid. Die vrouens wat bereid is om deel te neem het seker nie ‘n ander keuse nie.
Indien jy besig is om van ellende te krepeer moet jy mos ‘n ander uitweg soek. Die onderskeie regerings betrokke moet aangespreek word omtrent hulle wanbestuur. Die persone in die mensehandel kan mos nie die saak beredder nie. Ek wonder waarom daar so baie aandag verleen word aan orgaan skenkings heelwaarskynlik ook ‘n manier om geld te maak.

Elize ·

Peet J.
Die vroue doen dit nie vrywillig nie. Hulle word gedwing tot dit. Mensehandel sluit ook in dwang arbeid en die uitbuiting van arbeid. ‘n Bohaai is dus nodig

Cherokee ·

Maroela, ‘n nuuskierige vraag, is dit werklik nodig om ‘n foto van ‘n wit kind in ‘n ‘for sale’ boks te vertoon? Is dit weer soos destyds wat julle sonder ophou wit hande deur tralies gewys het by berigte oor swart kriminaliteite en daarmee opgehou het na besware of is dit realisties om ‘n wit meisie onder ‘n ‘For Sale’ bordjie te wys? Of is dit steeds deel van jul vrese vir enigiets wat swart is?

Sune van Heerden ·

Dagsê Cherokee

Die betrokke foto is tydens Helpende Hand se “Pêrels uit as”-tak se bewusmakingsveldtog oor mensehandel geneem. Die tak het die foto aan Maroela Media verskaf.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Elize ·

Cherokee.

Niemand is uitgesluit by mensehandel nie, dit het niks emt raqs te doen nie. Almal is egter onder ‘n wanindruk dat wit mense nie slagoffers is nie en dat wit mense ook nie skuldig is aan mensehandel nie. Hierdie verbreek dis miskonsepsie oor dit.

Cherokee ·

Elize, jy hoef nie eens tussen die lyne te lees om agter te kom dat my skrywe nie ‘n beskuldiging was nie maar ‘n eerlike vraag want ek het gewonder of witmense ook en indien wel, in watter mate, betrokke is. Die antwoord het egter nie daarop gedui nie. Indien witmense wel be mensehandel betrokke is maar persentasie gewyse in ‘n kleiner mate as swartes, sou dit steeds daarop dui dat my redenasie sinvol is. Terloops, misvatting, ewanopvatting of mistasting sou ‘n meer eg Afrikaanse woord gewees het as ‘miskonsepsie’.

Elize ·

Cherokee
Ek het jou regtig van niks beskuldig nie . Wit kinders en mense maak ‘n groot persentasie uit van slagoffers sowel as die oortreders, en ongelukkig raak dit by die dag erger. Die wit kind in die uitbeelding is dus realisties. Dankie vir die taalles !

Cherokee ·

‘Lize, ek het nie regtig gedink jy het my beskuldig nie maar net lus gevoel om te verduidelik dat dit ‘n eerlike vraag was. Die taalles is ‘n plesier en met ‘n oogknip en skewe glimlag gedoen (en dankie dat jy my nie uitgetrap het vir onnodige ‘e’ voor wanopvatting nie – lees dit nou eers raak :-)

Cherokee ·

Dankie vir die verduideliking Sunè. Ek weet jy verstaan my vraag.
En terloops, askies vir die anderster-om klemteken op die è maar ek weet nie wat die altkode is vir die ander een en dit blyk dat julle die forum geprogrammeer het dat die muis se regterknoppie nie gebruik kan word nie. Dankie weer ‘n keer vir jou vinnige terugvoering.

Libtard ·

Mensehandel is geborg deur die “liberales” se beleid om kosbare mensehandelaars nie seer te maak nie.

John ·

Almal het so te kere gegaan oor die toon van geboortesertifikate vir toeriste met kinders in die groep. Toerisme sal skade ly is aangevoer, maar niemand het die rede daaragter ondersteun nie. Nou kla almal dat ons grense nie genoeg doen om mensehandel te verhoed nie.

Elize ·

John, jy is 100% korrek. Waar ons gejuig het oor die nuwe reels het ander gekla. Mense moet dalk eerder die rede agter wetgewing navors voordat hulle kla oor die wet.

Nakkie ·

Puik werk! In 2010 het ek betrokke geraak by ‘n groep wat skoolkinders bewus gemaak het van die gevare van mensehandel. Dit het gevolg na kinders so jonk as 4 in bordele gevind is na die vorige wêreldbeker in Duitsland. Dit was kinders van elke ras en kleur. Ons eie regering was blind daarvoor, en het eers met die wêreldbeker se bohaai rondom die prostitusiewet begin bewus word daarvan. Toe kom daar flieks uit soos “Taken”. Mense dink dis net ‘n storie. In Pretoria se strate het ek sulke meisies ontmoet. Wit en swart. Ek is baie dankbaar dat daar uiteindelik klem gelê word op die gevare van mensehandel in ons land. Wat dink mense wil die boewe doen wat kinders by winkelsentrums probeer steel? Hulle vat vir ‘n fliek? Kom by, mense! Hulle gaan verkoop word – of dit nou is vir slawe of aan kinderloses of aan bordele, dis nogsteeds mensehandel. Ek lees baie meer van blonde blou-oog dogtertjies wat in gevaar is as enigiets anders. So sit ‘n wit kind in ‘n boks. Dalk skok dit iemand wakker.

Barend ·

Terloops, ‘n police officer is in Afrikaans ‘n polisiebeampte, nie ‘n polisieoffisier nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Barend

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Ons het die dokument verwerk van ‘n persverklaring en het nie die oorspronklike fout opgemerk nie.
Dankie, die berig is nou gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.