Mensehandel is ʼn werklikheid in Suid-Afrika

lize-winckler

Lize Winckler neem aan vanjaar se The Freedom Challenge deel om ‘n stem te wees vir vroue en kinders wat in die greep van mensehandel vasgevang is. Foto: Verskaf.

Lize Winckler is een van net vier vroue uit Afrika wat in September vanjaar Machu Picchu in Peru, Suid-Amerika, wil uitklim om ʼn stem vir kwesbares te wees – vroue en kinders wat in mensehandel vasgekeer is.

Wat motiveer ʼn gewone vrou en ma van Pretoria om die bergklimroete deur die Andes-plato met pieke van tussen 4 750 m en 6 280 m bo seespieël aan te pak?

“In my hart was ek maar nog altyd ʼn bietjie impulsief en avontuurlustig gewees. Toe ʼn vriendin wat in 2015 die Alpe as deel van The Freedom Challenge uitgeklim het, my uitgedaag het om dit ook te doen, het ek dadelik ingestem,” vertel Lize.

Sy het aan die begin gedink sy sal Machu Picchu as deel van ʼn dankbaarheidsklimtog aanpak om God te dank vir al die seën in haar lewe, maar die voorbereiding vir die klimtog het die ma van drie dogters op sy eie roete geneem.

“Ek het besef, ek as doodgewone vrou kan hoop in ʼn baie donker wêreld bring.”

ʼn Mens word aanvanklik oorweldig deur die donker prentjie wat die statistieke oor mensehandel skets. Só lyk dit volgens die Walk Free-stigting se jongste navorsing wat in 2016 oor 176 lande gedoen is:

  • Daar is tans sowat 45,8 miljoen mense wat wêreldwyd in ʼn moderne vorm van slawerny vasgevang is.
  • Altesaam 80% van hierdie mense is vroue.
  • Altesaam 50% van hierdie mense is kinders tussen 5 en 15 jaar oud, en die meeste is meisies tussen 12 en 15 jaar.
  • Net 2% van hierdie mense word ooit gered.
  • Ongelukkig keer tot 96% van die mense weer terug na hulle vorige omstandighede omdat hulle nie beter vooruitsigte het nie en dit al leefwyse is wat hulle ken.
machu-picchu-peru-digitalwunder-pixabay

Vanjaar se The Freedom Challenge vind by Machu Picchu in Peru, Suid-Amerika plaas. Foto: Digitalwunder/Pixabay.com

Volgens Lize, en Annelize Theunissen van Operasie Mobilisasie, wat jaarliks die Freedom Challenge-klimtog aanbied, is dit hartseer om te weet dat die suksessyfer om vroue en kinders uit hierdie omstandighede te red en te rehabiliteer inderwaarheid net sowat 1% is.

“Dit is waarom bewusmaking so ʼn belangrike been is van dit wat Operasie Mobilisasie doen. Ons wil ouers en kinders toerus met die nodige inligting oor mensehandel sodat hulle beter keuses kan maak,” verduidelik Annelize.

Volgens die amptelike beskikbare syfers is daar tans sowat 248 000 mense in Suid-Afrika vasgevang in ʼn vorm van mensehandel, maar Annelize glo die syfers mag dalk veel hoër wees.

“Dit gebeur gewoonlik agter toe deure en hou gewoonlik direk verband met molestering en misbruik in die huis. Ek glo ook nie die syfers sluit die Suid-Afrikaanse vroue en kinders in wat in hierdie soort bedrywe in die buiteland vasgevang is nie.”

Volgens Annelize is elke mens ʼn teiken vir mensehandelaars: “Ons almal smag na ʼn beter lewe vir onsself en ons kinders. Die vraag is egter: Hoe beskerm jy jouself en jou geliefdes teen mensehandel?”

Maak jouself weerbaar

“Ek dink dit is belangrik dat Suid-Afrikaners besef mensehandel is ʼn werklikheid, hier en nou in die land.

“ʼn Mens dink gewoonlik dit is mense wat kindertjies ontvoer, maar dit is maar net ʼn klein persentasie van die gevalle. In die meeste gevalle word slagoffers mislei en gelok deur ʼn aantreklike romanse, ongelooflike werksaanbod of die belofte van ʼn sportkontrak wat die geld sal laat inrol,” verduidelik Lize.

“Ek wil ouers regtig aanmoedig om ingelig te wees en hulle moet hulself en hulle kinders toerus om goeie, ingeligte besluit te neem. Ons hoef nie in vrees te lewe nie.”

Beskerm klein kindertjies só

Lize beveel aan dat jy nie jou kinders toelaat om alleen in die straat of ʼn winkelsentrum te loop nie.

“ʼn Wagwoord vir gesinslede is baie doeltreffend. Leer jou kind dat hulle nie eens saam met ʼn bekende gesinsvriend of -vriendin iewers heen mag gaan as hulle nie die spesiale wagwoord kan gee nie. Dit is ʼn baie handige hulpmiddel wat die hele gesin kan saambind.”

Lize beveel ouers ook aan om die nodige noodnommers vir hulle kinders te leer. “Die Valke het ʼn noodnommer vir slagoffers van mensehandel geskep, wat 24 uur beman word. Die nommer is 0800 222 777 – leer die nommer vir jou kinders.

“Dit is ook belangrik dat jou kinders moet weet hulle lyfies is kosbaar. Niemand mag daaraan vat of iets daaraan doen wat nie vir hulle lekker is nie.

“Leer hulle om ‘nee’ te sê, leer hulle om dit sommer uit te skree indien hulle hoegenaamd by ʼn persoon ongemaklik voel.”

hand-hulp-swart-en-wit-fotografie

Daar word gereken sowat 248 000 mense is tans slagoffers van mensehandel in Suid-Afrika. Foto: Lalesh Aldarwish/Pexels.com

Jou tienerdogter

Sorg dat jou tienerdogter se selfoon altyd gelaai is en leer hulle om waaksaam en bewus te wees van hulle eie omgewing. Hulle moet weet dat hulle verdagtes kan aanmeld indien hulle ongemaklik voel. Hierdie kinders moet ook die verskillende noodnommers ken.

“ʼn Romantiese verhouding is dikwels die lokaas wat mensehandelaars gebruik om meisies en jong vroue vas te vang. Leer jou kind om hierdie wolf in skaapsklere vinnig raak te sien.”

Volgens Lize is die handelaars gewoonlik ʼn ouer persoon wat die jong mens met allerlei geskenke bederf en aanmoedig om niemand van hulle verhouding te vertel nie.

“Hy deel gewoonlik min van sy eie agtergrond en sal in ʼn stadium die meisie aanmoedig om saam met hom weg te loop. Dikwels is die storie dat hy ʼn werksgeleentheid elders gekry het en vir haar ʼn nuwe lewe kan bied sonder dat die familie daarvan hoef te weet.

“Hierdie handelaars is uiters slim en slinks. Hulle weet presies watter jong meisie is vatbaar vir hulle leuens en het ʼn soeke na aanvaarding en liefde. Hierdie mense weet presies hoe om ʼn tiener se naïwiteit te misbruik.”

Lize beklemtoon ook dat oop tweerigting-kommunikasie tussen ʼn ouer en tiener onontbeerlik is om jou tiener te beskerm.

“Ons weet ons moet ons kleiner kindertjies se emosionele tenke volhou, maar hierdie reël is net so belangrik vir jou tieners. Leer jou kind se liefdestaal ken en hou hulle gekoester en geliefd.

“Druk jou tieners dit deurentyd op die hart dat hulle na God se beeld geskape is, en kosbaar en uniek is. Niemand het die reg om hulle te dwing om iets te doen wat nie reg voel nie.”

ʼn Ongelooflike werksgeleentheid

Dit is so dat werksgeleenthede vir jong mense in Suid-Afrika skaarser word en daarom lyk geleenthede oorsee dikwels na só ʼn aantreklike opsie. Annelize verduidelik hoe ouers en jong mense die werklike aanbod van ʼn mensehandelaar se lokval kan onderskei.

Sy sê dit is belangrik dat ouers betrokke sal bly deur die hele proses: “Doen die nodige navorsing, anders is die kanse byna 90% dat die werk wat jy aanvaar nie noodwendig dit is wat jy verwag nie.”

Maak seker jy kry die nodige dokumente en ken jou regte, waarsku Annelize: “Moenie net aanvaar die nuwe werkgewer sal verantwoordelikheid neem vir jou vliegtuigkaartjies, visums en paspoorte nie. Niemand kan aansoek doen vir jou visum en paspoorte behalwe jyself nie.

“Vra soveel vrae moontlik. Vra vir kontrakte, amptelike webblaaie en verwysings sodat jy seker kan maak dit wat aangebied word, is dit wat jy gaan kry.”

Annelize sê ʼn mensehandelaar sal gou groener weivelde gaan soek, indien hulle voel ʼn potensiële slagoffer raak te veel moeite. Die handelaar verloor dan dikwels belangstelling en verdwyn soos mis voor die son.

“Mensehandelaars vra gewoonlik vir anonimiteit en vertroulikheid tussen hulle en die potensiële slagoffer en vra dikwels dat die werksoeker nie vir hulle ouers en maats moet sê van hulle werksaanbod nie. Hulle vertel gewoonlik vir die werksoeker hierdie is ʼn geleentheid wat net een keer oor hulle pad sal kom, en hulle wil nie hê ʼn ander persoon moet hom of haar die geleentheid ontneem nie. Sulke praatjies moet rooi waarskuwingsligte by jong werksoekers en hulle ouers laat flikker.”

Annelize herinner ouers en jong werksoekers dat hulle die reg het op ʼn goeie werk. “Jy as ouer mag aanspraak maak op die beste vir jou kind. Onthou, as ʼn geleentheid te goed klink om waar te wees, is dit heel moontlik net dit – ʼn leuen.”

Sy beveel ouers en skole aan om die Traffic Proof-kursus van Traffick Wise te ondergaan.

“Dit is wonderlik om te sien hoe die liggies in kinders se oë aangaan. Eers is hulle oorweldig deur die donker wêreld van mensehandel, maar die program help elke kind om te besef hy of sy is uniek en spesiaal.

“In hierdie kitswêreld is dit belangrik om die geleentheid te skep waar kinders en jong mense kan besef drome kan waar word, maar dit vat dikwels tyd en toewyding,” voeg Annelize by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.