Mensehandelaar, verkragter gaan swaar vonnisse gelyk uitdien

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: ANA)

’n Nigeriese man wat aan drie aanklagte van mensehandel, twee van verkragting en een van aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind is, is tot vyf keer lewenslange tronkstraf met ʼn addisionele vyf jaar gevonnis.

Peter Akadoronge (37) sal dié vonnisse gelyklopend uitdien, wat beteken dat hy een lewenslange vonnis agter tralies sal deurbring. Hy het dié misdade glo vier jaar gelede gepleeg.

Akadoronge het Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn waar dié vonnisse opgelê is.

Akadoronge en twee vermeende medepligtiges wie se name nie genoem word nie het glo op 26 November 2017 drie vroue in Thohoyandou in Limpopo bedwelm en na ʼn onbekende perseel in Rosettenville, Johannesburg, vervoer.

Die vroue het die drie mans glo by ʼn nagklub ontmoet om ʼn werksgeleentheid te bespreek.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, het die vroue getuig dat hulle op dié perseel saam met twee onbekende vroue in ’n kamer met een matras aangehou is.

Die vroue is glo later aangerand, bedwelm, verkrag en gedwing om hul liggame vir seks te verkoop.

“Verskeie mans is ingebring om seks met die vroue te hê. Die beskuldigde en sy medepligtiges het na afloop daarvan betaling van die mans ontvang. Wanner die vroue geweier het om seks met die mans te hê, is hulle aangerand en van kos ontneem.”

Volgens Mjonondwane het die vroue se gevangenemers hulle mettertyd begin vertrou en sonder toesig buite op die erf gelaat.

Só het die vroue toe eindelik op 9 Mei 2018 ontsnap en ’n motor voorgekeer wat hulle na die Moffatview-polisiestasie geneem het.

Vandaar is die vroue na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings na ’n krisissentrum geneem waar hulle berading ontvang het. Hulle is ook deur dokters ondersoek en vir dwelmverslawing behandel.

Die verdagtes is die volgende dag met behulp van die slagoffers in Rosettenville opgespoor.

Hoewel al drie mans in hegtenis geneem is, is twee later vrygelaat. Akadoronge het egter tot sy skuldigbevinding en vonnisoplegging in aanhouding gebly.

“Staatsadvokaat Colleen Ryan het aangevoer dat Akadoronge as ’n besoeker na Suid-Afrika gekom het en gekies het om die wette van die land te verontagsaam.”

Landdros Simon Radasi het opgemerk dat die regering verskeie wetgewing gepromulgeer het in ’n poging om geslagsgebaseerde geweld hok te slaan, maar dat hierdie misdade onverpoos voortgegaan het.  “Vroue het ’n wettige aanspraak om vrylik in ons strate te loop sonder vrese om ontvoer te word.  “Die howe moet mense wat ’n gevaar vir die samelewing inhou vir baie lang tydperke uit sirkulasie verwyder om ’n duidelike boodskap te stuur dat ons regstelsel nie sulke dade duld nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Perdeby ·

En hoe lank is lewenslank in SA ??? 25 jaar ??? en dan sit hy net die helfte of was hy gevonnis lewenslank sonder parool?

ES ·

Want SA laat mos allerhande drek van Nigerie toe om vrylik hier in te kom.

Richard ·

Ek kon nog nooit verstaan hoe vonnisse gelyklopend uitgedien kan word nie. Bv, pleeg 5 moorde, kry 5 lewenslange vonnisse, en dien hulle gelyklopend uit. Dan kry mens mos eintlik 4 moorde gratis. Mens boet net vir die eerste een. Hoe absoluut belaglik!

Willempie ·

As ek 3 verkeersoortredings begaan moet ek vir die totale aantal oortredings betaal. Nou hoekom kan die drek net vir 1 uit 3 oortredings gestraf word. Ons regstelsek moet hersirn word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.