‘Menslike fout’ oorsaak van Christiana-hospitaal-brand

Die hospitaal het in September aan die brand geslaan. (Foto: Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa/Facebook)

ʼn Forensiese ondersoekverslag wat vroeër vandeesweek uitgereik is, het bevind dat die Christiana-hospitaal in Noordwes weens ʼn menslike fout afgebrand het.

Groot dele van dié hospitaal is in September deur ʼn brand verwoes. Hoewel geen ernstige beserings of sterftes weens die brand aangemeld is nie, is verskeie operasiesale, toerusting en pasiënte se lêers verwoes. Die hospitaal se instandhoudingswerk was ook reeds meer as 95% voltooi.

Die verwoestende brand is ook bestempel as een van die grootste rampe nóg om dié dorp te tref.

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in die provinsie, sê daar is twee belangrike bevindinge wat tydens die ondersoek na die brand aan die lig gekom het.

“Eerstens weet ons nou uit die verslag dat die brand deur ʼn menslike fout veroorsaak is,” sê hy. Hy het egter nie uitgebrei oor die stappe wat die departement teen die skuldige party gaan doen nie.

“Maar daar is ook goeie nuus. Die tweede bevinding wys dat die fisieke struktuur van die hospitaal, spesifiek die mure, steeds in takt is en dus sal dit makliker wees om die fasiliteit te herbou as wat aanvanklik gedink is.”

Sambatha sê herstelwerk aan die hospitaal sal na verwagting teen einde volgende jaar voltooi wees. Hospitaaldienste sal kort daarna weer voortgesit word. Die koste hieraan verbonde beloop die honderde miljoene.

“Die nuwe fasiliteit sal dan ʼn kapasiteit van 50 beddens hê, met twee teaters vir geringe operasies,” sê hy.

Tydelike fasiliteit

As ʼn tydelik maatreël sal die departement ʼn voorafvervaardigde struktuur oprig om dienste by hierdie hospitaal voort te sit. Pasiënte moes sedert die brand na fasiliteite in naburige dorpe gaan.

“Die doel met hierdie struktuur is om dit te gebruik vir basiese hospitaalsorg, insluitend noodgevalle – wat ʼn kapasiteit van drie beddens sal hê – en ʼn buitepasiëntafdeling met vier beddens.”

Die tydelike struktuur sal ook voorsiening maak vir obstetriese sorg, drie kraambeddens en vier beddens vir voor- en nageboortesorg.

Neonatale en pediatriese dienste sal ook hiér beskikbaar wees met bykomende kamers vir terapeutiese en rehabilitasiedienste.

Die departement beoog om ʼn totaal van 28 pasiëntbeddens en vier kantoor- en stoorkamers in die fasiliteit te hê. Dié projek sal na verwagting teen einde Maart voltooi wees.

“Sodra die hospitaal ten volle herbou is, sal die tydelik struktuur steeds die inwoners in die distrik bevoordeel, aangesien dit as ʼn kliniek gebruik kan word of ʼn bykomende fasiliteit indien die hospitaal sy kapasiteit bereik het,” sê Sambatha.

“Dit kan ook dien as ʼn voltydse rehabilitasiesentrum vir chroniese pasiënte, ernstige en akute wanvoeding asook vir serebrovaskulêre pasiënte.”

Bank borg miljoene

FNB het intussen ʼn reuseskenking aan die departement gemaak in ʼn poging om die proses om die hospitaal te herbou te bespoedig.

Altesaam 50 hidrouliese verstelbare beddens, 50 hoëdigtheidmatrasse, 50 bedkassies en 50 besoekerstoele is deur FNB geskenk. ʼn Kontantbydrae is ook gemaak wat die vervoerkoste van mediese personeel dek wat na ander fasiliteite moet pendel.

Hierdie skenkings beloop altesaam R1,3 miljoen.

Josy Sehloho, FNB se streekdirekteur vir sake en die openbare sektor, sê dat FNB toegewyd is aan die gemeenskappe wat hy dien en wanneer daar ʼn ramp van hierdie aard is, is dit belangrik dat FNB die gemeenskap bystaan ​​op enige manier moontlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.