Menslike oorskot in Krugerwildtuin gevind

Argieffoto

Menslike oorskot is in die suide van die Krugerwildtuin gevind. Die oorskot is vermoedelik dié van die vermiste wildbewaarder Checker Mashego wat verlede maand vermis geraak het terwyl hy met ʼn roetinepatrollie besig was.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, sê ’n soekgeselskap het Woensdagmiddag op wat blyk menslike oorskot te wees en SANParke-toerusting wat deur Mashego gebruik is, in die omgewing van die Nsikazi-rivier in die Stolsnek-omgewing afgekom.

Mashego het op 17 November in dié omgewing vermis geraak.

Die gebied is intussen afgesper en gefynkam terwyl die oorskot vir forensiese DNS-ontleding gestuur is. Mashego se familie is in kennis gestel van die vonds.

“Ons kan die publiek daarvan verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om die Suid-Afrikaanse Polisiediens in sy ondersoek by te staan om sin te maak van ​​wat gebeur het, en om die Mashego-familie te help om berusting te vind,” sê Phaahla.

Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, en Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het intussen albei hul medelye met die vermiste wilbewaarder se familie betuig. Die publiek word versoek om steeds enige inligting rakende Mashego se verdwyning by die Skukuza-polisiestasie of SANParke se noodnommer by 013 735 0197/076 801 9679 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.