Menslike oorskot in mielieland gekry

Argieffoto

Argieffoto

Die oorskot van ʼn persoon wat vermoedelik agt maande gelede dood is, is Maandag in ʼn mielieland op die Bamboesbergplaas naby Ficksburg in die Vrystaat gevind.

Kapt. Phumelelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die persoon se liggaam is omstreeks 15:00 opgespoor toe werkers besig was om mielies te oes. “’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die persoon ongeveer sewe of agt maande gelede gesterf het,” het Dlamini gesê. “Ons vermoed dit is ʼn man tussen 30 en 35 jaar oud. Die liggaam het ʼn grys sweetpakbaadjie, groen denimbroek en swart hardloopskoene met die woord “Qez” daarop, aangehad.”

Die persoon se oorskot is na die staatslykshuis in Bethlehem geneem vir ʼn forensiese nadoodse ondersoek. Die polisie versoek enigiemand met inligting, of enigiemand wat die persoon moontlik kan identifiseer, om met die polisie in Ficksburg in verbinding te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Sjoe dis erg. Maar hopelik sal een familie nou berusting kan kry en nie meer in onserkerheid hoef te leef oor wat van hul geliefde geword het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.