Menslike oorskot op plaas gevind

Die geraamte is in die veld op Hekpoort-plaas gevind (Foto: SAPD)

Menslike oorskot is Donderdag in ’n veld op ’n plaas in die Delmas-omgewing in Mpumalanga gevind.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, was ’n persoon besig om hout in die veld op die plaas Hekpoort naby Delmas op te tel toe die persoon op die menslike oorskot afgekom het. Die polisie is omstreeks 18:00 na die plaas ontbied.

“Met polisiebeamptes se aankoms op die plaas is vasgestel dat die oorskot dié van ’n mens is. Daar was twee klein gaatjies in die skedel, wat daarop kan dui dat die persoon geskiet is,” het Mohlala bevestig.

“Die beamptes het ook twee kabelbinders gevind wat aan die beendere vasgemaak was. Dit kan daarop dui dat die persoon moontlik vasgebind was.”

Ander items wat by die beendere gevind is, sluit in ’n geskeurde swart baadjie en ʼn swart broek.

Die geslag van die persoon is nog nie bepaal nie, sê Mohlala.

“Hangende verdere ondersoek kan die polisie dalk ’n saak van moord aanhangig maak.”

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting rakende die betrokke menslike oorskot om die Stop Misdaad‑nommer by 08600 10111 te skakel.

Lt.genl. Daphney Manamela, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het aangedui dat hierdie aangeleentheid ondersoek sal word met die hoop om vas te stel wat tot die dood van die oorledene gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Die sa polisie is nie bevoeg om so ‘n saak te hanteer nie ,die forensiese afdeling het ‘n 100 jaar agterstand en die speurders wat so ‘n saak kon ondersoek is by sekuriteits maatskappye of is op vroeë pensioen.

Frank John ·

So soek ons polisie mense wat vermis is en perongeluk word beendere gevind. Waar en hoe kyk hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.