Mentor sê Gigaba was verantwoordelik vir Guptas se Indië-vlugroeteplan

Mense kyk op ‘n skerm na die getuienis van voormalige ANC-LP Vytjie Mentor voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Karen Sandison/African News Agency

Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het Maandag tydens haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê nadat sy die bevordering tot minister van openbare ondernemings van die hand gewys het en die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) se roete na Indië beëindig is, is Malusi Gigaba, tans minister van binnelandse sake, in dié pos aangestel.

Mentor het gesê die Guptas se verkose lugredery, Jet Airways, het die roete oorgeneem.

Mentor het Maandag getuig oor die bewerings wat sy in 2016 gemaak het teen voormalige pres. Jacob Zuma, die Gupta-broers en die regeringsbeamptes wat glo in hul sakke was. Dit het gelei tot omstrede kontrakte van nagenoeg R6 miljard met staatsinstellings. Ajay Gupta het glo aan haar gesê dat Barbara Hogan, toe minister van openbare ondernemings, afgedank sal word deur ʼn kabinetskommeling en dat sý die pos kan vul as sy instem om SAL se Indië-roete te beëindig.

“Ek het begin om sy kapasiteit te bevraagteken om my ʼn minister te maak en dat hy selfs geweet het daar sal ʼn kabinetskommeling wees. Hy het gesê hy sal ʼn goeie woordjie vir my doen by die president. Ek het geskok gereageer en hy het gesê ‘ons doen dit gewoonlik’.”

Mentor het glo toe vir Ajay oor SAL se Indië-roete uitgevra en hy het gesê SAL se omkeerstrategie werk nie en die lugredery verloor baie geld.

“Ek het hom gevra hoe sal al die mense wat na en van Indië reis vervoer word en hy het gesê hulle [die Guptas] het ʼn baie goeie verhouding met Jet Airways wat sal verseker die vliegroete bestaan. Hogan is toe afgedank en met Gigaba vervang. Onmiddellik daarna het SAL nie meer na Indië gevlieg nie en Jet Airways het oorgeneem.”

Mcebisi Jonas het Vrydag getuig Ajay het hom omkoopgeld van R600 miljoen aangebied om die bevordering tot minister van finansies te aanvaar en dan die omstrede familie se opdragte uit te voer. Hulle het hom glo ook R600 000 eenmalig aangebied en selfs gevra of hy ʼn sak het om die geld in te dra.

Hy het die aanbod van die hand gewys en die Gupta-woning verlaat.

Vincent Maleka, lid van die kommissie se regspan, het gesê verskeie van die regsverteenwoordigers van dié wat deur die getuies geïmpliseer word, het aansoek gedoen by die kommissie om getuies te kruisondervra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Daan Erasmus ·

Ek glo elke woord wat Mentoor sê. Veral van Gigaba. Dit is net te toevallig.
Die probleem is daar moet nou iets GEBEUR. Tot dan help alles niks

Ai ai ·

Janee. Gigaba sal seker ontken dat hy ooit enige iets verkeerde gedoen het. Groot Zuma lakei. Dis nou dieselfde Gigaba waaroor die Hooggeregshof en Appélhof uitdruklik bevind het dat hy onder eed gelieg het in die Fireblade sage. Nou ja, wat meer hoef mens te sê. As Ramaphosa die man nie vinnig fire(blade) nie wys dit jou net hoe swak sy besluite is om sulke karakters aan te hou in sy kabinet

marous ·

Die getuienis sal as vals en misleidend afgemaak word met die doel om paniek te saai . Behalwe jammer , betreurenswaardig en geskok is dit die tweede sin wat grootkop staatsamptenarre moet memoriseer

Theo ·

En met elke aanstelling wat Zuma gedoen het om die Guptas te help het hy beslis ook n fooitje gekry, wonder net hoeveel.

Rooikop ·

Ja nee, ek glo Mentoor ook ……………….. NOU MOET IETS NET GEBEUR…………

Pres Ramaphosa, die hele SA kyk nou vir jou en wat jy gaan doen …………!!!!

Louise ·

So die getuies kom onder kruisverhoor maar nie die aangeklaagdes nie?

Annamarie Olivier ·

Dit kom mos eers later, eers die klag en dan kry die aangeklaagde tyd om sy saak te stel. Wat is jou punt? Dink jy die arme Gigaba is onskuldig?

John ·

… maar Gigaba toor nog voort, nou met id’s wat sommer so per gigabyte bestel sal kan word. Onlangs is 200 nuwe burgers verwelkom deur die towenaar self. Dit gaan net lekker met die hulp van CR wat skynbaar sy kussing nat huil as een van die kaders uitgevang word. Is die voorsitter van die verhoor nie destyds deur Zuma self aangewys nie? Hierdie verhoor gaan vir 5 jaar en meer aansloer en niks maar niks gaan met enigiemand gebeur nie. Al wat nou gebeur, is dat die SA-poppekas se toutjies vanaf Indie-Dubai gespeel word…

SjN ·

Sing Vytjie, Giggelbabba het sekere dokumente geteken tgv die guptas nog voor sy middernag aanstelling, hoop geregtigheid seevier. Robbeneiland is hul voorland.

Jan Wilkens ·

Nee wat moenie asem ophou nie, niemand gaan vervolg word nie, en indien wel sal hulle beslis nie skuldig bevind word nie. Wat Jonas en Vytjie tot dusver van Zuma en die Guptas beweer het, klink vir my na niks anders as hoogverraad nie-hierdie is nie blote korrupsie en bedrog nie dis VERRAAD teen jou eie land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.