Merkbare verbetering in Marno se toestand

Marno en sy ma, Helga Muller, in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Klein Marno Muller se toestand het die afgelope paar dae merkbaar verbeter, soveel so dat hy die kleure van verskillende vetkryte akkuraat kon identifiseer terwyl hy sy hospitaalbed lê.

“Ons is regtig so dankbaar vir die vordering in sy toestand en die verskil van ʼn paar dae terug tot gister,” het sy ma, Helga Muller, in ʼn plasing by ʼn video op Facebook geskryf. In die video wys sy vir hom verskillende kleure kryte en hy antwoord haar sonder huiwering oor wat die kleur van elkeen is.

“Marno weier steeds om te eet en te sluk en hy raak histeries [as hy dit moet doen]. Hy vra wel vir vla en sap.”

Maroela Media het vroeër berig Marno (5) is Sondag uit sy koma gebring en het nog erge onttrekkingsimptome gekry weens die medikasie waarmee hy die afgelope ruk in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel is. Hy is hier opgeneem nadat hy amper drie weke gelede op ʼn glyplank by sy kleuterskool aan die toutjies van sy baadjie gewurg het.

Volgens Nadia Minnie, Marno se tannie, herken hy sy ma en sê “mamma” en herken hy ook sy tannie, maar praat baie sag. Sy sê die rede dat hy nie sluk nie, is waarskynlik omdat sy keel seer is weens die voedingsbuis wat van sy neus na sy maag loop. Sy sê haar suster oorweeg nie in dié stadium enige stappe teen die skool nie en wil net fokus op haar kind se herstel.

Luidens die mees onlangse plasing kan Marno nog nie self regop sit nie en sprake van self loop is daar ook nie op dié stadium nie.

“Die verskeie terapeute wil albei ouers Maandagmiddag sien om die pad vorentoe te bespreek. Ons wag ook op ʼn datum vir die MRI iewers in volgende week.”

Verskeie fondsinsamelings is intussen vir Marno begin. Minnie sê die familie het nou begin om rekeninge te ontvang en sê die bedrae is “skrikwekkend”.

Sy ma het elke persoon wat tot dusver ʼn donasie gemaak het, ʼn oproep na die gesin gemaak het of ʼn gebed opgesê het, bedank.

Kyk die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nettie ·

Sulke goeie nuus! Asseblief hou aan om ons op hoogte te hou. Klein Marno bly in ons gebede intussen. Daar’s nou soveel hoop. Ek prys ons liewe Heer, en hoop die ouers en familie en kleuterskool kan weer asemhaal, nagte begin deurslaap en van hul eie trauma begin herstel.

JL ·

Hoe dankbaar. Ag my hart gaan uit na elkeen wat hierdeur geraak word.

Luzanne ·

Wonderlik! Prys die Hemelse Vader. Alle eer aan die Here en dankie vir Marno se volle genesing Vader. Dankbaar saam met die ouers.

Johanna ·

Dankie Here vir soveel Genade en Gebede wat beantwoord is. Dit was beslis n frats ongeluk en kon enige plek gebeur het. Die Mamma moes nooit toegelaat het dat haar seuntjie n baadjue met toutjies om die nek dra nie. Dit klink vreeslik, maar dit was n eye opener vir alle mammas. Skole moet dit verbied dat baadjues of topples met toutjies aan by skole gedra word. Dit sal ook interessant wees om te sien hoeveel Genade die Mamma met die skool.gaan hê. GOD het baie Genade vir Mamma en Seuntjie gehad. n GROOT GETUIENIS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.