Merke, gereed, Nampo!

Die hekke het Dinsdag amptelik vir die 56ste Nampo Oesdag buite Bothaville in die Vrystaat geopen. (Foto: Janice du Plessis / Maroela Media)

Die hekke het Dinsdag amptelik vir die 56ste Nampo Oesdag buite Bothaville in die Vrystaat geopen en tot en met Vrydag behoort duisende besoekers die skou by te woon.

Dié landbouskou, ʼn inisiatief van Graan SA, is een van die grootste privaat georganiseerde uitstallings ter wêreld en die grootste handelskou van landboumasjinerie en vee in die Suidelike Halfrond.

Namate die wêreld al meer digitaal word, staan die landbousektor in Suid-Afrika op die rand van ʼn transformerende reis. Daarom is vanjaar se tema vir die geleentheid “landbou in ʼn digitale era”.

Danie Minnaar, voorsitter van Graan SA Nampo Oesdag, sê met tegnologie wat vinnig in elke faset van ons lewens geïntegreer word, kan die relevansie van landbou in ʼn digitale era nie oorskat word nie.

Die hekke het Dinsdag amptelik vir die 56ste Nampo Oesdag buite Bothaville in die Vrystaat geopen. (Foto: Janice du Plessis / Maroela Media)

“Die Nampo Oesdag stel produsente in staat om die jongste tegnologie en produkte in die landboubedryf eerstehands op een terrein te ervaar.

“Met altesaam 865 uitstallers kan besoekers na vier volgepakte, opwindende dae uitsien,” sê hy.

Nampo bied ook aan besoekers die geleentheid om deur middel van debat- en gespreksforums kennis op verskeie terreine van die landbousektor in te win.

“Dit is ʼn voorreg om besoekers met egte boeregrasvryheid by dié unieke landbou-handelskou te verwelkom.”

Minnaar sê Graan SA se oesdagkomitee en personeel het skouer aan wiel gesit om te verseker dat die Nampo-park vanjaar van die hoogste gehalte is en dat almal wat die geleentheid bywoon veilig voel.

Bykomende ruimtes is vanjaar vir uitstallers voor die Omnia-standplaas opgerig, wat die land se grootste skou selfs groter maak.

Die hekke het Dinsdag amptelik vir die 56ste Nampo Oesdag buite Bothaville in die Vrystaat geopen. (Foto: Janice du Plessis / Maroela Media)

ʼn Splinternuwe saal, die Midas-saal wat uitstalruimtes vir 60 bykomende stalletjies bied, verkoop alles – van landbouprodukte tot meubels en produkte vir vroue.

Verskeie paaie het ook plaveisel gekry sodat besoekers die uitstalruimtes maklik kan bereik.

Maroela Media het vroeër berig soveel as 400 vliegtuie land jaarliks by dié skou.

“Ons het hande gevat met Absolute Aviation, wat vliegtuigverkope, vlugdienste, vliegtuigonderdele en -enjins en ʼn dienssentrum insluit,” sê Minnaar.

Dit is die vierde jaar dat vliegtuigdienste en -verkope deel is van die oesdag. Hommeltuie wat vir bespuiting gebruik word, is nog ʼn produk wat vanjaar uitgestal sal word.

“Ek hoop vanjaar se besoekers voel sommer dadelik tuis en sien hoe ongelooflik lewenskragtig en aanpasbaar die landbou-bedryf in ʼn digitale era is.”

Byna 82 000 mense het verlede jaar die Nampo-oesdag bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronél ·

Die enigste fout met NAMPO is dat ek nog nooit daar was nie :)

Republikein in die Wes Kaap ·

Die 4x4s en duur Duitse motors wat daar parkeer staan is seker ‘n belewenis om te aanskou. Om nie eers van die vliegtuie te praat nie.

SjN ·

Het die afgelope 30 jaar elke jaar besoek en soms nog n dag ekstra aangesien dit te groot is om in een dag deur te loop, net n vriendelike voorstel aan die Nampo bestuur, kan dit nie eers eindig op die Saterdag nie, daar is soveel mense wat werk gedurende die week en uitmis.

Barry ·

Gaan more vir my 2de keer. Julle mis baie. Een dag is ook te kort om alles te sien.

Lourina ·

Dit sal my 3de keer wees, was 6 jaar terug daar, dit is ‘n ongelooflike ervaring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.