Merkwaardige Cornelle laat swemrekords spat

Cornelle Leach spog met haar medalje by die wêreldkampioenskap. Foto: Verskaf.

Elke mens het ’n storie. Tog is Cornelle Leach se lewensverhaal reeds gevul met hoofstukke van deursettingsvermoë, hoop en ’n hele paar swemhoogtepunte.

Die 23-jarige swemmer het omtrent vir jou die Afrika-rekords by die onlangse wêreldkampioenskap vir paraplegiese swemmers in Portugal laat spat.

“Ek is ongelooflik trots op my rekords! Ek het die voorreg om my land te verteenwoordig – vir my is dit ’n groot ding, want ek het nooit gedink dat ek internasionaal sou deelneem nie; en kyk nou! Dit gee my ’n rede om selfs harder te oefen,” het sy Donderdag in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Leach is op ’n jong ouderdom met Stargardt se siekte gediagnoseer, ’n toestand wat nie net haar sentrale visie beïnvloed nie, maar ook haar vermoë om detail te sien. Dit het vererger en in die afgelope paar jaar het sy die meeste van haar visie verloor.

Swem laat haar beslis glimlag! Foto: Verskaf.

Hoewel sy nog tussen lig en donker kan onderskei en groot voorwerpe kan sien, herken sy dikwels eers mense wanneer sy hulle stem hoor. En natuurlik het dit ’n invloed op haar swemloopbaan.

“Ons moet noodgedwonge stadiger draai, want ons weet nie altyd waar die muur is nie. Ons weet ook nie altyd mooi waar ons trek nie en dit maak dit baie moeilik om strategies te swem. Ek sukkel ook met tye om die korrekte baan te identifiseer en iemand moet saam met my loop om te help.”

Tog is sy baie lief vir die sport en haar stem word selfs vroliker wanneer sy oor swem praat.

“Swem put my nie uit nie; dit voel nie vir my soos werk nie. Jy word natuurlik moeg, maar dit is ’n lekker moeg; ’n produktiewe moeg. Dit is net jy en jou gedagtes vir die hele sessie en dit gee ’n mens tyd om oor dinge te dink.”

Een van die dinge waaroor sy waarskynlik gereeld dink, is oor wat sy nog alles in haar loopbaan wil bereik. En die grootste droom is ongetwyfeld die Paralimpiese Spele.

Sy sou verlede jaar in Tokio geswem het, maar haar klassifikasie het verval en weens die wêreldwye Covid-19-pandemie kon sy nie internasionaal deelneem nie.

“As jy na my tye gekyk het, sou dit goed genoeg vir die brons medalje in die eindronde gewees het. Sjoe, daardie tydperk was omtrent ’n emosionele tuimeltreinrit gewees, maar ek was nou bevoorreg genoeg om deel van die aksie by die wêreldkampioenskap te wees.”

Met die Statebondspele om die draai word daar nou baie op kondisioneringswerk gefokus – afstande en fiksheid is die twee wagwoorde. Namate die kompetisie naderkruip, sal daar meer aan spoedwerk geskaaf word.

Saam met haar afrigter, Theo Verster. Foto: Verskaf.

Andersins oefen sy tot ses dae per week en tot 10 km kan per dag geswem word.

“My gunstelingslag is beslis borsslag. Hoe meer doeltreffend jy met jou slae is, hoe vinniger gly jy deur die water. Dit is eintlik baie strategies, jy kry genoeg asem en ek geniet die uitdaging.”

Wie is haar grootste ondersteuners?

“Beslis my kêrel en my tannie. My kêrel laai my by elke gala op en af en hy ondersteun my in alles wat ek moet doen – van diëte tot rehabilitasiewerk. Dan sou my tannie ongetwyfeld die voorsitter van my ondersteuningsklub gewees het as ek so iets sou gehad het!”

Sy meen dat Suid-Afrikaanse swemmers hulself ’n klop op die skouer kan gee.

“Ons swem omdat dit ons passie is. Dit is nie noodwendig ons beroep nie, maar ons doen dit omdat ons lief is daarvoor. As jy kyk hoe ons land se swemmers met ander lande se voltydse swemmers vergelyk, is dit eintlik net asemrowend.”

En Suid-Afrika mag maar trots wees op Cornelle Leach.

  • Haar rekords by die wêreldkampioenskap:

50 m-vryslag: 31,31 sekondes en 30,62 sekondes

100 m-borsslag: 1:28.60 sekondes

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cathy ·

Hoe wonderlik inspirerend. Welgedaan liewe Cornelle Leach. Jy maak ons Suid-Afrikaners trots, en jy kan ook met reg trots wees op jou pragtige prestasies. Kan nie wag om meer van jou te hoor nie. Doen so voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.