Die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná ʼn voorval waarin ʼn man Maandag in die vroeë oggendure deur ʼn polisiebeampte in Johannesburg doodgeskiet is nadat hy glo ʼn ander man met ʼn mes gesteek het.
Lt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes was besig met patrollie in Wolmaransstraat in Braamfontein toe hulle twee mans gesien het wat oënskynlik in ʼn bakleiery betrokke was. Een van die mans het ʼn mes in sy hand gehad en die ander man het ʼn steekwond gehad.
Volgens Makhubela het die polisiebeamptes probeer om tussenbeide te tree en die gemoedere te kalmeer, maar die verdagte het gewelddadig geraak. “Die man het die polisiebeamptes met die mes gedreig. Hy is noodlottig gewond,” het hy gesê.
Die ander man met die steekwond is na ʼn hospitaal geneem waar hy tans in ʼn stabiele toestand is.
“Ons het ʼn saak van poging tot moord aanhangig gemaak en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen in verband met die dood van die verdagte. Die polisiebeampte wat hom geskiet het, is nie in hegtenis geneem nie.”
Makhubela het gesê die rede vir die twee mans se bakleiery sal deel vorm van die ondersoek.
Sondag is ʼn groot aantal polisie-njalas in Hillbrow en Braamfontein ontplooi om wet en orde te handhaaf aangesien feesvierendes naby die sakesentrum berug is daarvoor om tydens die Nuwejaarsviering bakleierig te raak en ou meubels by geboue se vensters uit te slinger.
ń Mens hoef seker nie te bespiegel hoekom Hillbrow en Braamfontein in sulke helhole ontaard het nie.
Nou hoekom die polisie man in hegtenis neem as hy sy pligte uitvoer, verstaan nie
Miskien moet julle die berig net weer baie aandagtig deurlees.
Rooikappie: ‘Hoekom dra ouma ‘n bril’?
Ouma: ‘Om beter te kan lees my kind. Veral die laaste sin van par. 5.’
Nee-nee, lees weer!