Met nuwe baadjie boer Tuks Landbou vooruit

Tuks Landbou se bestuur is (voor v.l.n.r) Marlize Grobbelaar, Juana Gouws, Anelie Joubert en (agter v.ln.r) Stefan Corbett, Kobus Hendrikz, Bernard du Preez en Jean Brink. (Foto: Verskaf)

Die organisasie Tuks Landbou, wat reeds in 1980 tot stand gekom het, is herstruktureer en word nou boonop ʼn vennoot van die familieboernetwerk Saai.

Die organisasie, wat huidige, oud- en voornemende studente verwelkom, wil op innoverende en mededingende wyse toekomstige uitdagings pak deur wetenskap en tegnologie in te span om oplossings te vind.

Tuks Landbou sê sy doel is om jong leiers te ontwikkel en aan hulle blootstelling te gee, asook om landbou- en landbouverwante studente op die toekoms voor te berei en te verseker dat hulle ’n bydrae kan lewer tot die winsgewendheid, volhoubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou in ’n snelveranderende omgewing.

Studente ontvang blootstelling in hul studieveld deur middel van plaaslike en buitelandse netwerkgeleenthede in die landbousektor.

Die organisasie, onder voorsitterskap van Bernard du Preez, sê hy het gaan kyk na wat die behoeftes, belange en aspirasies van ’n nuwe geslag landboustudente is en sy aktiwiteite diensooreenkomstig aangepas. Dit sluit in blootstelling aan werk- en studiegeleenthede, toegang tot studiebeurse sowel plaaslik as internasionaal, skakeling, sosiale geleenthede, digitale debatte en projekte wat in samewerking met buitelandse universiteite en jongboer-organisasies aangebied word.

“Die digitale era stel uitdagings én geleenthede vir kommunikasie, produksiepraktyke en bemarking, en dwing landboustudente om op die voorpunt van nuwe tegnologie te bly. In sy nuwe formaat boer Tuks Landbou in die toekoms en maak ons seker dat ons toepaslik bly vir elke nuwe landboustudent.”

Die konsul-generaal van Hongarye was tydens die bekendstelling teenwoordig om beurse vir Tuks Landbou aan te kondig.

Dosente en akademici het ook tydens die bekendstelling gepraat oor hoe universiteite studente toerus om wetenskap in die vorm van kennis oor te dra en dit prakties uit te voer. Die uitdagings vir die nuwe generasie van landboukundiges om mededingend te bly, is ook bespreek.

Verskeie landbouondernemings, borge, lede en alumni het vandeesweek die bekendstelling van die hervormde organisasie bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blomme ·

So eerbare en goeie veld.. Maar is dit nog die moeite werd in die verrotte misdaad land van ons?

KB ·

Hongarye verbaas my baie positief deesdae. Dis nou ‘n land met “guts”…’n nuwe regering met goeie basiese christelike beginsels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.