Metale glo oorsaak van voëlvrektes by Kamfersdam  

(Foto: Stuart Dunlop/Facebook)

Hoë konsentrasie yster is een van die moontlike oorsake vir die voëlvrektes by die Kamfersdam naby Kimberley in die Noord-Kaap.

Talle watervoëls het sedert die begin van die jaar hier gevrek waarna die provinsiale departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling met ʼn ondersoek begin het. Monsters is van die karkasse geneem en na ʼn laboratorium gestuur om die oorsaak van die vrektes te probeer vasstel.

Daar is aanvanklik vermoed dat botulisme, oftewel lamsiekte, moontlik die vrektes veroorsaak het. Volgens Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement, is dit egter nie die geval nie en word daar nou vermoed dat hoë konsentrasies van metale soos yster en sink die vrektes veroorsaak.

“Omgewingsmineraalvlakke en interaksies is ingewikkelde begrippe wat afhanklik is van ʼn aantal faktore, maar die hoë ystervlakke word as kommerwekkend beskou.

“Yster is bekend daarvoor dat dit koper en selenium bind en dit kan tot gevolg hê dat die minerale nie beskikbaar gestel word vir diere soos watervoëls nie. Hierdie minerale is noodsaaklik vir ʼn gesonde immuunstelsel en wanneer daar ʼn tekort aan die minerale is, kan dit diere se immuunstelsels onderdruk en kan hulle vatbaar wees vir sekondêre infeksies.”

Daar is aanbeveel dat ʼn omgewingstoksikoloog ʼn diepgaande evaluering van die hele watersisteem moet doen, insluitend die impak van rou en gedeeltelik behandelde rioolwater van die Homevale-afvalwaterbehandelingswerke, om die betekenis en gevolge van die hoë ystervlakke te bepaal.

Kamfersdam is een van die 11 belangrike voël- en biodiversiteitsareas in die Noord-Kaap. Daarbenewens kom moontlik die grootste permanente bevolking van kleinflaminke in Suider-Afrika asook minstens 63 watervoëlspesies hier voor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eclectus ·

Geseënd is die wat nooit iets goed verwag nie, hulle word nooit telleurgestel nie.

LD ·

Sjoe, Mnr. Mike Bolhuis het so ruk terug ook ñ groot klomp van die baba flaminke daar weg en hulle versorg tot hulle sterk genoeg was on weer vrygelaat te word. Dít het hom vreeslik emosioneel gemaak dat die watervoëls so vrek! Hyt selfs met ñ sekere myn daar gaan praat en hulle het nogal ekstra “damme” gemaak juis vir die voëls as daar weer ñ droogte of so is, kon hulle darem daarheen gaan om te oorleef.
Wonder of hy al weet van die nuutste nuus oor die einste dam en sy voëls…. Hy sal beslis weer reël vir vlugte om die voëltjies te gaan haal en hulle versorg! Hyt baie liefde vir diere en veral vir die flaminke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.