Metro teken beswaar aan teen Gqeberha-naamsverandering

Argieffoto (Foto: DA)

Die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap gaan ’n formele voorlegging by die minister van sport, kuns en kultuur indien waarin beswaar aangeteken word teen die naamsverandering van Port Elizabeth na Gqeberha.

Uitenhage se naamsverandering na Kariega word ook teengestaan.

Dít nadat die metro meer as 66 000 klagtes rakende die naamsveranderinge ontvang het.

Nqaba Bhanga, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, het Maandagaand tydens ’n stadsraadsvergadering gesê dit is dus nie net hy of ’n sekere groep mense wat gekant is teen die naam Gqeberha nie, maar inwoners van alle rasse.

Die metro is nie gekant teen ’n naamsverandering nie, maar wel teen die name wat die departement van sport, kuns en kultuur goedgekeur het.

Die politieke kommentator prof. Mcebisi Ndletyana het tydens die vergadering gesê baie inwoners kla dat behoorlike openbare deelname nie tydens die proses plaasgevind het nie.

Daar was agt vergaderings in November waartydens die publiek hul sê oor die voorgestelde naamsveranderinge kon sê. Slegs 393 mense uit ’n bevolking van 1,4 miljoen het egter die vergaderings bygewoon.

Volgens Ndletyana het diegene teenwoordig self aangedui dat die vergaderings nie teenwoordigend genoeg is nie. Dít nadat slegs 10 gemeenskapslede in Motherwell, ’n gemeenskap met meer as 140 000 inwoners, vir die vergaderings opgedaag het.

In Uitenhage, nou Kariega, het maar 70 gemeenskapslede die vergaderings bygewoon.

Ndletyana meen daar is hopeloos te min gedoen om die publiek van die proses van openbare deelname in kennis te stel.

Walmer is boonop heeltemal uitgesluit van die proses. “Sou daar vergaderings [in dié gemeenskap] gehou is, sou die regering agtergekom het dat die naam Gqeberha meer van toepassing is op Walmer as die res van die metro,” het Ndletyana gesê.

Hy het verduidelik dat sommige inwoners na Walmer as Gqeberha verwys en dat sommige openbare entiteite in Walmer selfs na Gqeberha vernoem is, soos die Gqeberha-biblioteek.

Ndletyana het daarop gewys dat daar boonop omstredenheid is oor die oorsprong en spelling van die naam, aangesien dit glo van Khoi- en San-stamme afkomstig is en volgens die Xhosas geen betekenis in dié taal het nie.

Ndletyana verwys ook na die handboek van naamsveranderinge, wat bepaal dat historiese name wat herstel word, in hul oorspronklike taalkundige vorm herstel behoort te word. Die naam Gqeberha moet dus in sy oorspronklike Khoi- en San-alfabette gespel word indien dit gebruik word.

Ndletyana sê daar is wyd steun vir ’n naamsverandering hoewel inwoners gekant is teen die gebruik van Gqeberha aangesien dit nie sosiale kohesie nie, maar in werklikheid verdere verdeeldheid veroorsaak.

“Dit maak nie sin om aan te dring op naam waar daar geen duidelikheid oor sy betekenis is nie.”

Ndletyana meen Nelson Mandela City is dalk ’n beter keuse as naam vir Port Elizabeth. Dié naam dateer terug na 2007 toe die plaaslike munisipaliteit hom ter voorbereiding van 2010 se Fifa-Sokker-Wêreldbeker na oudpres. Nelson Mandela vernoem het – ’n ikoniese figuur wat wêreldwyd onder toeriste bekend is.

Die naam is reeds deel van die metro se handelsmerk en sal nou ook toerisme bevorder, meen Ndletyana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Waar kan ons beswaar aanteken teen die regime politieke gekkery?

Mariana ·

Maak nie saak hoe mens daarna kyk nie, naamsveranderinge is onnodig en geldmors. Wend liewer daai geld aan om dienste te verbeter en skole te bou ens. Die regering moet begin dink. En buitendien Nelson Mandela het nou al meer as genoeg goed wat na hom vernoem is, hy was nie die alfa en omega in hierdie land nie.

Persheks Adri ·

Wat vir my nie sin maak nie is dat die “slim” minister dínk daar’s geld vir sulke stupid goed met die WETE dat daar nie geld in die land is nie pffft magtag! Vermorsing van ons geld vir snert tsssk

Johan ·

Volgens hulle kan die geld nie opraak nie, want dit is belasting geld (wat seker waar is nè). ..maar eintlik gee die ANC-EFF net nie n vlenter om nie, want hul sal NOOIT by n verkiesing verloor nie.

Misky ·

Verander soveel julle wil en gooi geld in die water, maar almal sal nou en 10 jaar van nou na PE verwys

Stefaan ·

Die voorstel aan die anc regering is: skep iets en bou iets en dan noem julle dit net wat julle wil.
Julle wil nou die Blankes wys wie is in beheer.

Michal ·

Hoekom, Metro. Ek dog dan ons is besig om die politiese korrekte ding te doen. Nuwe geskiedenis moet gemaak word. Metro, wat worry julle oor 66000 besware.

Alet ·

Seker kan die metro se mense die naam ook nie uitspreek soos die res van die 99% bevolking in SA nie.

Johan ·

Ek wens hul van die dorpe wat so sleg lyk vernoem na hul “helde”… Begin by Standerton.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.