Metrobeampte dood gevind

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Saak van moord word ondersoek nadat ʼn lid van die Tshwane Metropolisie (TMPD) se liggaam Saterdag in die vroeë oggendure met ʼn koeëlwond in sy voorkop gevind is.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die TMPD, het gesê konst. Hlungwane se liggaam is deur ʼn veiligheidswag in Princess Park in die Pretoria-sakesentrum gevind.

“Die veiligheidswag was besig om die gebied te patrolleer, toe hy ʼn man op die grond sien lê het,” het Mahamba gesê. “By nadere ondersoek het hy gesien daar is ʼn koeëlwond in sy voorkop. Die man het geen tekens van lewe getoon nie. Die veiligheidswag het die polisie en ʼn ambulans ontbied en die man is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Mahamba is ʼn vuurwapen en ʼn beursie naby Hlungwane se liggaam gevind. Hlungwane was nie aan diens ten tyde van die voorval nie.

Volgens Mahamba is die motief vir die moord nog onbekend. “Ons doen ʼn beroep op enigiemand wat meer inligting oor die moord het om die SAPD by 082 891 8625 te kontak,” het hy gesê. Hy het gesê die TMPD sal alles in sy vermoë doen om die skuldiges vas te trek.

“Ons betuig ons innige medelye aan Hlungwane se familie, vriende en kollegas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SARIE VAN HEERDEN ·

Hoekom soek hul na ‘n moordenaar as die oorledene se beursie en ‘n vuurwapen naby hom gevind is? Soek liewer na regte egte moordenaars wat weg is met hul vuurwapen wat hul gebruik het vir die moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.