Metrobeampte ontvoer, geskiet toe hy motor laat stilhou

Argieffoto

Die polisie in Limpopo is steeds op soek na ʼn groep verdagtes wat Sondagoggend ʼn metropolisiebeampte ontvoer, beroof, geskiet en toe vir dood agtergelaat het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die metropolisiebeampte was alleen aan diens toe hy ʼn Toyota Corolla omstreeks 09:00 in die Makonde-nedersetting beveel het om van die pad af te trek.

Die insittendes het glo ʼn vuurwapen op die beampte gerig, hom in die motor geboender en toe met hom in die rigting van Thathe-plantasies in die provinsie gery.

Met hul aankoms by die plantasies het die verdagtes glo die beampte beveel om sy uniform uit te trek, sy dienspistool gesteel en hom toe geskiet voordat hulle van die toneel af gevlug het. Ngoepe sê die beampte is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Hy sê ʼn grootskaalse soektog is onmiddellik van stapel gestuur. Die polisie het intussen die verdagte se Toyota in die Phiphidi-nedersetting aangetref. Ngoepe sê die motor het steeds geluier – ʼn waarskynlike teken dat die verdagtes byna vasgetrek is.

Die polisie het beslag gelê op ʼn vuurwapen wat vermoedelik aan die verdagtes behoort, selfone, die beampte se uniform en ander gesteelde goedere. Ngoepe sê die beampte se dienspistool word steeds vermis.

“Die verdagtes word steeds vermis, maar die polisie is op hulle spoor en die soektog duur voort,” sê hy.

Enigiemand met meer inligting word versoek om met brig. James Espach in verbinding te tree deur hom by 082 576 0743 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Geen ·

GEEN ordentlike mens, hetsy swart, wit, geel, pienk, blou ens. is meer veilig in hierdie land.
ANARGIE: “Toestand van regeringloosheid, volslae wanorde waarin geen gesag erken word nie.” Anargie kan ook aagehits word. Voorgaande definisie het betrekking.
Die Amerikaanse wilde weste se ‘skop, skiet en stoelegooi’ was ‘n vulletjie teenoor dit wat hier aangaan.

Jef ·

laaste woord in paragraaf 3 moet wees ‘gery’en nie gekry.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Jef
O, gits! Jy is heeltemal reg – ons vra om verskoning vir die flater. Die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

JM ·

Soos ek dit kan onthou moet jy nie man alleen probeer om voertuie af te trek nie, dit is moeilikheid soek.

Gestremde ·

Innige simpatie met die slagoffer as hy onskuldig was. Maar wat soek hy alleen in die voertuig en trek mense af. Dus definitief nie vir boetes nie en eerder vir “bribes”. Daar is baie mense wat siek en sat is vir die korrupte metropolisie lede wat so alleen of saam met een langs die pad staan en hulle “bonusse” by ongeskuldige bestuurders ontvang. Moet ‘n bietjie ‘n audit op die metropolisiebeamptes doen wat in luukse dubbelverdieping huise woon, langs die pad staan en piekniek hoe en onder die bome sit en niks doen nie en sommer ook die wat in die oggend aanmeld en dan die res van die dag by die huis spandeer of by vriende kuier om net weer in die aand af te teken. En dan is daar ook die vroulike lede wat betaal word om in die dag inkopies te gaan doen. Dus vir my geen wonder dat mense regte in hul eie hande begin neem nie. Voel rerig jammer vir die druppel opregte lede wat daar is om hul werk te doen.

Gerrit ·

Ek het geweet dit is net n kwessie van tyd voor die kriminele op die sogenaamde wetstoepassers begin konsentreer wat 1) Hulle het geen vrees of respek vir die uniformdraers nie 2)Die sogenaamde wetstoepassers is of te bang of te lui om hierdie kriminele op hulle plek te sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.