Metrobeampte, polisiesersant vas oor beweerde geslagsgeweld

(Argieffoto)

Suid-Afrika verloor gaandeweg die stryd teen geslagsgeweld.

Dít is die standpunt van die #NotInMyName-beweging ná twee wetstoepassers die naweek in KwaZulu-Natal aangekla en in hegtenis geneem is op aanklagte wat verband hou met geslagsgeweld teenoor hul lewensmaats.

In die jongste voorval is ʼn 39-jarige polisiesersant Dinsdag aangekeer nadat hy glo sy vriendin Sondag ernstig aangerand en in die gesig geslaan het. Op dieselfde dag is ʼn metropolisielid van moord aangekla ná hy glo sy vriendin doodgesteek, haar lewelose liggaam verfilm en die video’s rondgestuur het.

Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het bevestig die sersant én die metrobeampte is aangekla. Aanklagte van onderskeidelik aanranding met die doel om ernstig te beseer en moord staar hulle in die gesig.

Thandeka P Ngcongo, die polisiesersant se vriendin, het foto’s van die beweerde aanranding op haar Facebook-blad geplaas.

Yesterday, I was brutally Beaten by my boyfriend, who is a police officer who works at Mpumalanga police station in Hammardale, I didn't get help to open a case. Please help. I need justice for myself.

Posted by Thandeka P. Ngcongo on Monday, April 1, 2024

Ngcongo, ʼn digitale inhoudskepper, voer aan die sersant het haar aangerand en dat sy aanvanklik hulp geweier is om ʼn saak teen hom aanhangig te maak. Die sersant is glo verbonde aan die Hammarsdale-polisiekantoor in Mpumalanga.

Saam met die plasing het sy foto’s gedeel wat die aanranding na bewering staaf.

Netshiunda het bevestig dat ʼn klag aanhangig gemaak is en dat die polisiesersant op sy beurt ook teenklagte van gewone aanranding en opsetlike saakbeskadiging teen Ngcongo aanhangig gemaak het.

Die paartjie sal na verwagting Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn, het Netshiunda bevestig. Hy het nie die naam van die sersant bekend gemaak nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag kon nie dadelik bevestig of die sersant reeds in die hof verskyn het nie.

Intussen het die metropolisiebeampte, Sizwe Ngema (27), Dinsdag vir die eerste keer in die Durban-landdroshof verskyn ná hy glo sy vriendin – wat ook ʼn medebeampte is – doodgesteek het.

Netshiunda het bevestig Ngema was Sondag glo saam met Yolanda Khuzwayo in haar woonstel in Joseph Nduli-straat. Daar word berig die paartjie het glo saam gedrink en dat Khuzwayo in die vroeë oggendure van Sondag gesteek is. Van die gru-video’s van haar laaste oomblikke is na bewering aan verskeie mense gestuur en glo ook op sosiale media gedeel.

Netshiunda het egter benadruk dat die omstandighede rakende die voorval nog onderhewig is aan ʼn deeglike ondersoek.

In ʼn verklaring het die #NotInMyName-beweging sy kommer te kenne gegee oor dié voorval. Volgens die beweging is dit duidelik dat die land die stryd teen geslagsgeweld verloor, ondanks die nasionale strategiese plan om geslagsgeweld die hoof te bied.

“Geslagsgeweld is ʼn plaag en het ʼn kwessie van lewe en dood geword. Ons almal moet ons rol speel om te verseker dat Suid-Afrikaners veilig is en teen alle vorme van geweld beskerm word,” sê die beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

En dan verwag die korrupte regering dat ons as landsburgers moet staatmaak op hierdie tipe lede in tye van nood!!! Daar is hopeloos TE VEEL lede in die polisiediens wat self kriminele is!! Dink nie daar is nog so ‘n korrupte spul polisielede in ander lande soos hier nie.

Marous ·

Dis nie net geslags geweld nie . Die hool is deurtrek van besetenes.

Ore ·

Sal dalk goed wees as Cele minder hofsake bywoon en aandag aan die probleme gee.

domheks ·

As die kameras daar is MOET cele & kie ook daar wees. So bang ons vergeet hoe hy lyk. Maar nie meer vir lank nie … … …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.