Regter Mmonoa Teffo het Lloyd Morutse Maleswena (29) se bewering dat sy vriendin, Claudia Rapudi, se dood ʼn “ongeluk” was, verwerp en gesê hy het die bedoeling gehad om haar dood te maak.
Maleswena en Rapudi was albei metropolisiebeamptes en het saam gewerk. Haar verkoolde lyk is in November 2011 in die kattebak van haar motor gevind in ʼn veld in Cullinan, oos van Pretoria. Die polisie moes DNS-toetse doen om haar identiteit te bevestig.
Rapudi se motor is die laaste keer by Maleswena se huis in Lotus Gardens gesien, ure voor haar liggaam gevind is. Maleswena is in hegtenis geneem nadat hy aan ʼn priester bely het oor die moord.
Maleswena het erken dat hy Rapudi na ʼn argument gewurg het. Hy het haar daarvan beskuldig dat sy ʼn verhouding met ʼn ander man gehad het. Sy het dit ontken. Hy het in ʼn verklaring gesê dat hy Rapudi gewurg het tot sy haar bewussyn verloor het. Hy het haar hierna in die huis toegesluit en werk toe gegaan. Hy het later teruggekeer en Rapudi se liggaam in haar motor se kattebak gesit. Hy het tot by ʼn afgeleë plek gery waar hy die motor aan die brand gesteek het.
ʼn Patoloog het getuig dat Rapudi dood is nadat sy derdegraadse brandwonde aan haar liggaam opgedoen het. Maleswena se regsverteenwoordiger het aangevoer dat sy kliënt berou getoon het en nie langer as 12 jaar tronkstraf moet kry nie. Die staat het gevra vir ʼn vonnis van langer as 15 jaar tronkstraf.
Vermoor iemand en gaan dan sommer dood luiters werk toe asof niks gebeur het nie? Hierdie ou is siek in sy kop! Gee hom lewenslank, nog beter, hang hom!