Metrobeampte, veiligheidswag vas ná man se skietdood

(Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn Metropolisiebeampte en ʼn veiligheidswag van ʼn private maatskappy is in hegtenis geneem in verband met die skietdood van ʼn 41-jarige man van Vosloorus in Ekurhuleni, Gauteng.

Volgens Sontaga Seisa, waarnemende woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), is die man Sondag in sy erf doodgeskiet.

“Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie het gister die gebied gepatrolleer toe hulle glo opgemerk het dat mense by ʼn taverne drink.”

Die beamptes was op die patrollie ten einde te verseker dat daar voldoen word aan die regulasies van die tydperk van 21 dae van afsondering. Geen plekke mag in dié tyd drank verkoop nie.

“Die beamptes wou glo oortreders in hegtenis neem toe hulle glo deur lede van die gemeenskap aangeval is. Die beamptes het rubberkoeëls afgevuur.”

Die oorledene was vermoedelik een van die mans wat in die taverne was. “Daar word verder beweer die oorledene is tot by sy huis se stoep gevolg waar hy doodgeskiet is.”

Vier kinders, onderskeidelik vyf en ses jaar oud en ʼn 11-jarige tweeling, is tydens die voorval gewond en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling, het Seisa gesê.

Opod se ondersoekers was gister en vanoggend weer op die toneel vir verdere ondersoek. Twee mans is intussen geïdentifiseer as verdagtes in die saak en is in hegtenis geneem op aanklagte van moord en poging tot moord.

Volgens Seisa is die verdagtes ʼn 34-jarige metropolisiebeampte en ʼn 45-jarige veiligheidswag van ʼn private maatskappy.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Boksburg-streekhof verskyn.

Opod se ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eiervrug ·

Daarsy, dit maak mos baie sin. Ek is amper seker die mense wat so sit en kuier by die tavern (so tussen die kinders) kry ook geen salaris vir April nie, m.a.w, drink nou alles uit, dit maak totaal sin…. O ja, en dan, as hulle of die kinders môre siek is, dan blameer hulle weer iemand anders daarvoor….. Gaan groot!!

Wielspore ·

Covid19 sterfte op 20 Maart 2020 – Twee
Sterfte as gevolg van Metro be-ampte se Covid19 optrede – Een

Daar skort met die Metro polisie se opleiding.

marius ·

Roep almal van opod en die mrk op om die strate te patrolleer ….met kussings. Hul sal ongelooflike sukses bereik …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.