Metrobeampte-video: EMPD soek inligting

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) het lede van die publiek, wat Woensdag ʼn onderonsie tussen ʼn metropolisiebeampte en ʼn motoris op die R24 in Edenvale sien afspeel het, versoek om na vore te kom.

Maroela Media het vroeër berig Diederick Stopforth en sy vriendin is gisteroggend deur die beampte afgetrek. Stopforth beweer die beampte het aggressief teenoor hom en sy vriendin opgetree en onregmatiglik sy bestuurslisensie afgeneem.

Stopforth het ook ʼn video op sosiale media gedeel waarin daar gehoor kan word hoe hy die beampte vir sy naam en rang vra, voordat die beampte skynbaar die selfoon uit Stopforth se hand klap. Hy beweer die beampte het ook sy vriendin se selfoon uit haar hand gegryp en dit stukkend gegooi. Haar vingers is in die proses gesny.

Volgens Stopforth het hy hulp van die SAPD op 10111 ontbied, waarna die EMPD-beampte en sy kollegas glo in hul voertuie geklim en weggery het. Hy het daarna ʼn saak van diefstal, aanranding en opsetlike saakbeskadiging by die polisie aanhangig gemaak.

Lt.kol. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die EMPD, het gesê die metropolisie sien die voorval in ʼn baie ernstige lig. “Die klaer het ʼn klag by die Edenvale-polisiestasie aanhangig gemaak en met die EMPD se Integriteit- en Standaarde-eenheid vergader. Die EMPD het onmiddellik met die ondersoek begin,” het hy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op enigiemand wat ons met die ondersoek kan bystaan om na vore te kom. Die uitkoms van die ondersoek sal bepaal watter stappe gedoen sal word.”

Stopforth het vroeër aan Maroela Media gesê sedert hy die video op sosiale media gedeel het, het ʼn paar mense gesê hulle ken die beampte in die video en het al voorheen ʼn onderonsie met hom gehad.

Kgasago het gesê indien ʼn lid van die publiek in ʼn soortgelyke situasie beland, kan hulle die voorval direk by hom by 083 652 9914 of [email protected] aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alida ·

Wat is daar om te ondersoek? Sy gesig is duidelik sigbaar en die video wys die voorval.

pieterdp ·

Pragtig. Mense kom nou na vore die pad is geteer. Lê jul klagte dat die man van die pad af kom. Sy soort hoort nie op die pad om met pebliek te werk nie.

Afrikaans ·

Tweede paragraaf verwys. Die woord ‘onregmatiglik’ is amper soos die vieslike woord ‘huidiglik’. Wat van net ‘onregmatig’?

Regso ·

Dis reg so, die publiek moet opstaan teen hierdie klas kriminele. Hulle dink omdat hul daai uniform dra, hulle is bo die wet en jy kan hulle nie terugklap nie. Stuur daai video rond dat almal hom sien. Dis nie aldag wat mens ‘n video geneem kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.