Metrobeamptes van dienspistole beroof

Argieffoto

Drie Tshwane-metropolisiebeamptes (TMPD) is Sondag deur twee onbekende aanvallers van hul dienspistole beroof.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die TMPD, het gesê die beamptes was by die perseel van die Mabopane Inkomstediens in die noorde van Pretoria ontplooi ten tyde van die voorval.

“Twee aanvallers, glo tussen 25 en 30 jaar oud, het na bewering van die drade geknip om toegang tot die perseel te verkry,” het Mahamba gesê. Volgens Mahamba het die boosdoeners die beamptes oorval, vuurwapens op hulle gerig en hulle van hul dienspistole beroof.

“Die aanvallers het van die toneel gevlug in ʼn maroenkleurige Toyota Avanza met ʼn onbekende nommerplaat. Die beamptes is nie tydens die voorval beseer nie,” het Mahamba gesê.

Die metropolisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat hulle kan bystaan met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei. “Ons versoek lede van die publiek om dié inligting by die naaste polisiestasie aan te meld of deur 012 358 7095/6 te skakel.”

Dié voorval kom op dieselfde dag wat ʼn beampte van die Johannesburgse metropolisie Sondag deur oproerige kerkgangers in Hillbrow aangeval en ook van sy diensvuurwapen beroof is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

G ·

Sjoe, drie gewapende polisiemanne teen twee aanvallers, en hul kom weg. Dis omdat die manne en maninne nie meer behoorlike opleiding kry nie. Dis hartseer om te hoor waardeur die ou garde moes gegaan het om aangestel te word deur die polisiediens, en vandag word elke Jan Rap en sy maat aangestel, krimineel of nie.

Willie ·

In die ou dae as jy jou vuurwapen verloor het, was daar GROOT moeilikheid vir jou….

SjN ·

Duidelik onbevoeg om n vuurwapen te hanteer, verskaf eerder aan hulle skokstokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.