Metrobeamptes vas oor omkoopgeld

Lede van die Tshwane-metropolisie. Argieffoto: tshwane.gov.za

Lede van die Tshwane-metropolisie. Argieffoto: tshwane.gov.za

Twee Tshwane-metropolisiebeamptes is in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld van Yusuf Abramjee, hoof van die teenmisdaadveldtog Crime Line, geëis het.

Sr. supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê Abramjee het Maandag die owerhede in kennis gestel dat die twee beamptes hom van die pad af getrek het en omkoopgeld geëis het. Hy het geweier om te betaal en die beamptes het hom laat gaan.

Mahamba het gesê daar is Dinsdag ʼn lokval vir die beamptes gestel. Die twee beamptes is in beheer van ʼn spoedkamera in Centurion. Hulle is nie veronderstel om motoriste van die pad af te trek nie maar slegs met die kamera spoedoortreders af te neem en van die kantoor af boetes uit te reik.

“Die beamptes het egter motoriste van die pad af getrek en aan motoriste gesê hulle moet omkoopgeld betaal sodat hulle nie later ʼn boete ontvang nie,” het Mahamba gesê. ʼn Ondersoeker het hom as ʼn haastige motoris voorgedoen en die twee beamptes het hom van die pad af getrek en R200 omkoopgeld van hom geëis.

Mahamba het gesê die twee beamptes is onmiddellik in hegtenis geneem. Volgens Mahamba is daar R1 200 by een van die beamptes gevind en R710 by die ander beampte. “Hulle kon nie rekenskap gee van die geld nie.” Daar word vermoed dat dit omkoopgeld is wat hulle van motoriste geëis het.

Die beamptes is in aanhouding by die Wierdabrug-polisiestasie en sal binnekort in die Centurion-landdroshof verskyn. Volgens Mahamba sal die beamptes kennisgewings van skorsing ontvang. Hulle sal sewe dae hê om daarop te antwoord voor ʼn besluit geneem sal word oor of hulle geskors moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GIDEON NEL ·

AS DIE REGERING EN SY PRESIDENT KORRUP IS, HOEVEEL TE MEER HULLE ONDERDANE

HERMAN ·

LEKKA STUPID OM DIE BERIG OOR DIE SPEEDCOPS OP TE SIT NOU IS HULLE ALMAL GEWAARSKU

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.