Metrobus kan groot verlies ly weens staking

Argieffoto.

Die voortslepende staking van lede van die Democratic Municipal and Allied Workers Union (Demawusa) kan tot miljoene rande se verlies vir Metrobus lei.

Goodwill Shivuri, woordvoerder van Metrobus, het Donderdagoggend gesê die opskorting van busdienste kom Metrobus duur te staan aangesien hy steeds busbestuurders se salarisse moet betaal.

“Meer as 30 000 passasiers moet gebruik maak van alternatiewe vervoer weens die staking. Die meeste van ons passasiers gebruik die voorafbetaalde stelsel, so as hul busritte verval, sal ons hulle geld moet terugbetaal,” sê Shivuri.

Maroela Media het vroeër berig Metrobus het Dinsdag sy dienste in die Goudstad opgeskort nadat werknemers Maandag begin staak het. Demawusa, ʼn minderheidsvakbond, dring aan op kantoorruimte by drie Metrobus-depots en salarisse wat verband hou met die aantal jare wat die lede in diens is.

Dion Makhura, woordvoerder van Demawusa, het Woensdag gesê Metrobus en die vakbond kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Demawusa het besluit om dus die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA) te nader.

Metrobus en Demawusa sou vanoggend vergader om moontlik tot ’n ooreenkoms te kom, maar Metrobus het op die nippertjie gekanselleer.

Volgens Shiburi het Metrobus ’n hofaansoek gebring aangesien 80% van die werkers bereid is om te werk, maar deur die betogende minderheid geïntimideer word.

Die aansoek word later vanmiddag aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goed so ·

Ek hoop hulle verloor hulle gereelde passasiers op n permanente basis. Dat daar geen nut meer vir hulle is nie. Want hulle doen die publiek wat op hulle staatmaak n helse onreg en ongerief aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.