Metropolisie beveel om ‘e-tol teistering’ te staak

Herman Mashaba. Foto: http://blacklikeyou.co.za/

Herman Mashaba. Foto: http://blacklikeyou.co.za/

Herman Mashaba, die nuutverkose burgemeester van die Johannesburgse Metro, het Dinsdag gesê hy het die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) opdrag gegee om inwoners met agterstallige e-tolrekeninge nie verder te “teister” nie.

“In ons stad sal daar geen samewerking tussen die JMPD en die Nasionale Padagentskap (Sanral) oor e-tol wees nie. Die JMPD het onderneem om nie ons motoriste verder oor agterstallige e-tolrekeninge te teister nie,” het Mashaba onder luide applous tydens ʼn raadsvergadering van die metro gesê.

Mashaba het ook gesê ʼn R70 miljoen-projek, wat deur die vorige ANC-administrasie beplan is om fietsbane regoor die stad aan te bring, is gestaak. “Sodra elke pad in Johannesburg geteer is, kan ons miskien na fietsbane begin kyk,” het hy gesê.

Die EFF het vroeër Parks Tau, die voormalige burgemeester, gekap oor die fietsbane-projek terwyl inwoners geteerde paaie en huise nodig het. Julius Malema, die EFF se leier, het gesê die projek is ʼn mors van geld wat die stad se armes uitskuif.

Mashaba het Dinsdag ook belowe om korrupsie en nepotisme in die stad te beveg en “verdagte” tenders en kontrakte wat met die stad aangegaan is, te ondersoek. Hy het gesê ʼn forensiese ondersoek na al die stad se kontrakte sal binnekort begin.

“Hoor my mooi, daar sal nie net oor die vingers getik word nie, niemand sal stil-stil verdwyn of goue handdrukke ontvang nie. Diegene wat skuldig bevind word aan korrupsie en bedrog, sal direk tronk toe gaan.”

Volgens Mashaba het die stad R5 miljoen aan onreëlmatige en verkwistende uitgawes verloor tydens die ANC se ampstermyn en hy het gesê dit sal nie deur die DA geduld word nie. Hy het gesê tenderprosesse sal so oop en deursigtig as moontlik wees en groot tenders sal in kleiner dele verdeel word.

“Daar sal nie meer ʼn middelman wees wat tenders ontvang bloot om weer sub-tenders aan kleiner partye toe te ken nie. Ek is ook van plan om die tenderbeoordelingsproses oop te stel aan die publiek en die media om enige oortredings te voorkom.” Hy het gesê ʼn deursigtige tenderproses sal die groei en ontwikkeling van klein ondernemings bevorder omdat hulle voorheen nie ʼn kans gehad het as hulle nie deel van die “polities-verbinde elite” was nie.

Mashaba het gesê die gebruik van openbare fondse vir “uitgebreide bemarking, uitspattige partytjies en selfdienende bevordering” sal ook tot ʼn einde kom.

“Ons nuwe administrasie is hier te danke aan die ondersteuning van verskeie politieke partye. Ons sê dankie aan ons koalisievennote wat by ons gestaan het. Ek wil ook die EFF bedank wat in die beste belang van ons stad se mense gestem het. Ek glo dat ons saam oor die volgende vyf jaar kan voortgaan om die belange van ons inwoners eerste te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Jakes ·

Is Mnr Mashaba familie van Thuli Modensela?!
Die man het die regte benadering en visie, en dit lyk hy skroom nie om sy regruk beloftes deur te voel. Ek hoop ALMAL, ongeag agtergrond en party steun hom, dit sal net ten gunste van almal wees.

Loeis ·

Mooi woorde – daar kan vooruitgang wees as dit in dade omgesit word. Kiessers gee raadslede hulle mag, en ons moet ons raadslede verantwoordelik hou.

Die voordeel van koalisies is dat daar altyd iemand is wie oor die grootste party se skouer loer.

Mashaba maak die regte geluide, laat die DA, VF+, COPE, almal wie deelneem hom en sy bestuur daarby hou.

Liesl ·

Met sulke mense sal ek beslis vir die 1ste keer in jare stem. Die DA het eerlike mense wat my stem verdien

Tubby ·

Daarsy met sulke manne voor kan JHB en Thwane net n beter plek word !!

Grap ·

Ek ondersteun hom ten volle. Kan nie glo iemand het die fietsbane voorgestel nie, hoeveel mense in Jhb ry fiets? Gaan hulle skielik begin fietsry as daar bane is? Onthou ander stede oorsee het van die begin af vir fietsbane voorsiening gemaak. Ek wonder of ek 4 mense op ‘n fiets per dag sien, ek praat nie van diegene wat oefen (vir ‘n sport) nie. Wees ook bewus daarvan dat mense wat taxi, busse en treine ry baie ver uit die stede bly en BESLIS nie met ‘n fiets tot daar kan ry en dan verder in die stad rondry nie. Weer tipies iemand wat gaan kers opsteek het oorsee en gesien het almal ry fiets daar en besluit het dis ‘n goeie idee . lol . wonder hoeveel fietse gaan teen die einde van die week nog daar staan, sou hulle staanplek vir hulle ook nog moes bou. Die voorstel was belaglik om by te begin.

Klong ·

Dit is n goeie voorbeeld wat in die ander provinsies onder die Rowers gebeur

Johan ·

Met ys en hy moet Dubbel wees.
Met sulke mense aan being kan ons weer die glories reik land word en dit is nou die tyd dat ons moet saam staan en hom ondersteen, en asb geen getou trek in ander rifting nie!!!!

Karma ·

Ek is baie bly vir die mense van Tshwane, met dié ou aan die stuur. Maar onthou net: ‘n nuwe besem vee skoon ….

Loeis ·

Ja, en die stad waarvan Karma praat se amptelike naam is Pretoria.

Well done ·

Well done Herman! Keep up the good work! I think there is hope when we have someone like you that wants to implement tender transparacy…I totally agree with you!

hans brits ·

Die DA moet versigtig wees.As hulle nie se wat hulle belowe het nie gaan hulle vou en gou ook.

Gerda ·

Alles goed en wel kriminele kry tronkstraf en dit plaas n swaar las op ons taxpayers se sakke. Ek dink die kriminele moet maar begin klippe kap en hulle families moet voorsien in hulle behoeftes

Koos1 ·

Dis ‘n baie goeie begin DA, in Pretoria en JHB. Julle is besig om die sweep te klap. Hou dit asb so. Daar was baie kiesers wat vir julle en die kleiner partye gestem het, en hulle het dit gedoen om nie vir Zuma te stem nie. Wys asb vir hulle wat julle kan doen om hulle steun te behou, veral in 2019.
Onthou ook net asb dat julle pogings in die wiele gery wil word deur die ANC, hulle sal uit hulle pad gaan om julle nie sukses te gun nie. Julle werk nou teen twee pole, die kiesers wat sukses wil he en die ANC wat julle wil sien onder gaan.
Bie sterkte, Kaapstad is op die regte pad, ek hoop om Pta, PE en Jhb binnekort ook daar te sien!

Leon ·

Die fiets bane is eintlik bedoel vir die taxi’s gaan kyk maar wat gebeur op die William Nicol hahaha

Speedguard ·

Dankie Leon , ek se al lankal dat die naam fiets baan net ander naam is vir ‘n-Taxi baan om dit goed gekeur te kry !

Adeline ·

Dis goeie nuus vir ons Johannesburgers! Ek het nog nooit my etoll rekening betaal nie?

Ampie ·

Dalk kan die dikke Metro poliesmanne nou fokus op taxi’s: daardie spesie wat geen verkeersreels in ag neem nie en enige rit in Pretoria en Johannesburg in ‘n mini woede-aanval reduseer.

Sputnik ·

Nou moet die nuwe burgemeester in Ptia nog net ook die Munitoria werkers kry om ‘n telefoon te beantwoord en na ‘n foon deur te sit wat beantwoord word. Dan moet daardie persoon jou ook met jou navraag kan help – baie groot uitdaging. Enigiemand wat al die Waltloo Toetsterrein kon skakel? Hul nommer word nie eers volledig op die webblad gegee nie. Die laaste syfers is weggelaat sodat niemand hulle kan skakel nie.

Georgie ·

Ek stem nie vir die DA nie maar dinge in Pretoria en Jhb beweeg beslis nou in die regte rigting.

Uitgewekene ·

Dankie tog daar was genoeg mense wat wel die moeite gedoen het om te stem. Dis hoe mens ‘n verskil maak in ‘n demokratiese bestel. Hopelik sal mense begin stem vir politieke partye wat werk eerder as volgens ras of ideologie.

Sally ·

Mense daai fietsbane is weer vir n klomp van die ANC wat gevra het wat hulle kan doen om geld te maak uit die belasting uit…toe stel iemand sommer fietsbane voor. Dis weer om n kurupte spul toe te smeer met die konsuise fietsbane.

Jos ·

Die fietsbane is moontlik weer een van daai geldskep projekte.
Die e-tol storie maak nie sin nie, die metro polisie sal nie so ‘n ooreenkoms met SANRAL aangaan nie tensy dit bevestig is deur die betrokke partye. Is dit nie moontlik ‘n aksie deur sekere metro polisie lede om omkoopgeld te probeer inwin nie? Die metro polisie het ook juis nie’n goeie reputasie nie t.o.v. korrupsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.