Metropolisie help vrou geboorte skenk by taxistaanplek

Die beamptes het ʼn ambulans ontbied en intussen die vrou gehelp om haar babadogter in die lewe te bring (Foto: Verskaf)

Twee metropolisiebeamptes moes Maandag hul lyf vroedvrou hou toe hulle ʼn vrou in nood gehelp het om geboorte te skenk. Die hoogswanger vrou het by ʼn taxistaanplek in die middestad van Johannesburg geboorte geskenk aan ʼn gesonde babadogtertjie.

Volgens Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), was die beamptes Evans Lebepe en Danny Ledwaba omstreeks 13:30 in die omgewing van Lillian Ngoyi- en Pixely Ka Seme-straat in die middestad van Johannesburg besig met patrollie. Hulle is deur ʼn man genader wat gesê het dat daar ʼn vrou by die Bree-taxistaanplek in Lillian Ngoyi-straat in kraam gegaan het.

“Die beamptes is inderhaas na die taxistaanplek waar hulle die vrou wat op die punt was op geboorte te skenk, aangetref het,” sê Fihla.

“Die beamptes het ʼn ambulans ontbied en intussen die vrou gehelp om haar babadogter in die lewe te bring.”

Fihla sê die vrou en baba was ontsteld deur die skare mense wat hulle omring het.

“ʼn Onbekende vrou het met ʼn skêr en skoenveter na vore gekom om ook hand by te sit. Lebepe het die naelstring gemeet en die skoenveter en skêr gebruik om die naelstring af te sny.”

Die ambulans het ʼn ruk daarna by die staanplek aangekom en die vrou en haar baba na die Rahima Moosa Mother and Child- hospitaal in Johannesburg geneem. Hulle was albei in ʼn goeie gesonde toestand toe die ambulans hulle opgelaai het.

“Die JMPD loof die beamptes vir hul goeie werk om die stad en sy mense te dien en te help op enige manier moontlik. Dit spreek boekdele van hul toegewydheid,” het Fihla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Moeilikheid ·

Mooi as almal so saam kan staan sal dit n wonderlike land wees

Elize ·

Innoverend met daai skoenveter. Bly alles het goed afgeloop

anniekiewiet ·

Wat ‘n vreugde om ‘n kosbare wonderwerkie die lewe in te help.

Sandra ·

Regtig baie oulik dat julle geweet het om ‘n baba in die wereld te bring. Dis iets om oor trots te wees, te midde van al die negatieweteit.

Boer ·

Dit is nou bietjie positive nuus ons raak nou al moeg vir die looting, Zuma an Covid. Mooi so J.M.P.D.
Gee daai manne n bells!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.