Metropolisie met klippe bestook

Argieffoto

Die Stad Kaapstad het ʼn voorval veroordeel waartydens metropolisiebeamptes deur gemeenskapslede van Khayelitsha met klippe bestook is. Dit het gebeur toe die beamptes ‘n dwelmverwante inhegtenisneming wou uitvoer.

Volgens ʼn verklaring het twee metropolisiebeamptes Sondagmiddag tydens ‘n stop-en-deursoekpatrollie in Khayelitsha ‘n verdagte voorgekeer vir die besit van die dwelmmiddel tik. Die verdagte het die inhegtenisneming probeer vryspring en gemeenskapslede om hulp gevra. Dié het toe die beamptes met klippe begin bestook. Albei beamptes het ligte beserings opgedoen en die patrollievoertuig is beskadig.

Die beamptes het die verdagte uiteindelik in hegtenis geneem en hom na die Harare-polisiekantoor geneem waar hy aangekla is van die besit van dwelmmiddels en ‘n gevaarlike wapen, oproerige gedrag, kwaadwillige saakbeskadiging en dwarsboming van die gereg.

“Die toenemende vyandigheid en geweld wat op die wetstoepassingsbeamptes gerig word, is ‘n groot kommer vir die stad,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

“Die mense wat betrokke was by hierdie jongste aanval, van wie sommige die rusie verfilm en gedreig het om dit op sosiale media te plaas, is mense wat later weer hulp gaan benodig. Dit is ook dieselfde mense wat kla oor misdaad. Tog sien hulle niks fout met die aanval en vervreemding van beamptes wat daagliks hul lewens waag om ‘n veiliger omgewing vir ons gemeenskappe te skep nie.”

Die betrokke inhegtenisneming is een van 99 wat die stad se wettoepassingsagentskappe die afgelope week uitgevoer het.

Die stad se metropolisie het altesaam 55 inhegtenisnemings gemaak met betrekking tot aanklagte van die besit van dwelms, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en verskeie kontakmisdade. Hulle het ook 4 263 boetes uitgereik.

Verder het beamptes Sondagmiddag in Rocklands in Mitchells Plain ‘n Star-pistool en agt patrone in ʼn verdagte se slingersak gevind.

Die metropolisie het ook die afgelope week op drie vuurwapens beslag gelê, insluitend een nagemaakte vuurwapen.

Misdaad het die Wes-Kaapse polisie se honde-eenheid ook die afgelope week besig gehou met die hond Savage wat Vrydag in Goodwood dwelms uitgesnuffel het. Die dwelms was in ʼn klanksisteem van ʼn motor versteek. Die 35-jarige motoris is in hegtenis geneem.

ʼn Ander polisiehond, Khalesi, het 46 sakkies dagga in Parow en 28 daggastoppe in Kraaifontein uitgesnuffel. Nog geen verdagte is met dié dwelmvonds verbind nie.

Vyf mense is in hegtenis geneem vir onder meer roekelose of nalatige bestuur.

“Die aantal dronkbestuurvoorvalle het wel beduidend afgeneem. Ons verkeersbeamptes het die afgelope week nie een só voorval aangemeld nie, terwyl ons metropolisie twee verdagtes aangekeer het. Die daling is direk gekoppel aan die huidige alkoholverbod,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Hulle kla oor bebdegeweld gedrewe misdade en beweer die polisie doen nie hul werk nie.Bende geweld stap hand aan hand met dwelmhandel.Hulle kinders word verkrag en vermoor en hulle gooi die polisie met klippe.SAPS take no prisoners

Eltan ·

Ja als goed en waar…maar ek verstaan ook hoekom die mense meer en meer vyhandig raak teenoor die wetstoepassers..want hulle self is selfs groter krimenele met hul korrupsie, ens…
Jammer om te sê maar in my oë is hulle almal krimenele…totdat hul anders kan bewys…
Jammer aan die wat wel nog hul werk eerlik doen..maar julle is so min en wyd gesaai dat geen mens van die publiek die risiko kan waag nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.