Drie beamptes van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) wat glo ʼn bekende joernalis doodgeskiet het, se verhoordatum is Vrydag vasgestel.
Die JMPD-beamptes, Nhlanhla Vilakazi (29), Lincon Moloyi (35) en Thozamile Mhlanga (37), staan tereg op aanklagte van moord, aanranding en dwarsboming van die gereg.
Die joernalis, Godknows Nare (40), is op 17 April 2017 in Florida, wes van Johannesburg, tydens ʼn oënskynlike skietgeveg met die polisie doodgeskiet. Die beamptes het na bewering aangevoer hulle het geglo Nare is ʼn kaper toe hulle op hom geskiet het. Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) het daarna ʼn ondersoek van stapel gestuur. Bewyse het aan die lig gekom wat teenstrydig is met die JMPD-beamptes se weergawe dat daar op hulle geskiet is. “Inteendeel, hulle het die oorledene doodgeskiet en ʼn misdaadtoneel opgestel om hul spore dood te vee,” het Moses Dlamini, Opod-woordvoerder, ná die ondersoek gesê.
Tydens die voorverhoorverrigtinge Vrydag in die Suid-Gautengse hooggeregshof het staatsaanklaer Jacob Serepo aan die hof gesê die staat is gereed vir die verhoor wat na verwagting 10 dae gaan duur.
Regter Ramarumo Monama het die saak vir 20 Augustus vanjaar op die hofrol geplaas.
Die beamptes is tans uit op borgtog van R5 000 elk. Hul borgtogvoorwaardes sluit in dat hulle elke Maandag en Vrydag by hul naaste polisiestasie moet aanmeld, glad nie kontak mag maak met enige getuies nie en nie die provinsie mag verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie.
Nare het as joernalis vir plaaslike en internasionale mediahuise gewerk, waaronder die SAUK, eNCA, BBC, Al-Jazeera en die New York Times. Volgens berigte was hy bekend vir sy grondige kennis van onwettige mynbedrywighede, smokkel van renosterhoring en die onwettige handel van sigarette.
Die publiek moet begin besef dat mense in uniform wat gewapen is ń groot gevaar inhou vir hulle. As ń mens kyk na die statistieke oor watter persentasie van hulle ongeletterd is dan is dit mos duidelik dat hulle ook nie behoorlik opgelei kan wees nie.
en daar het ons dit weer, ‘n klinkklare bewys van hoe onregverdig is die howe en regstelsel is, 3x metro beamptes skiet ‘n joernalis koelbloedig dood om hulle basse te red, en is uit op R5000.00 borg elk, maar die mans wat ‘n betreder, dief, inbreker in ‘n kis druk word nog steeds AANGEHOU, rassisme is nog lank nie dood nie
Ek sal nie verbaas wees as hierdie ‘n “hit” was nie. Renosterhoringsmokkelary en onwettige sigarethandel is van die grootste georganiseerde misdaad met miljoene of selfs biljoene op die spel en hierdie sindikate sal nie huiwer om te moor om hul basse te red nie.
Godknows was heel moontlik ‘n vlieg in die salf vir hulle.
Hoekom het hul met die toneel gepeuter, hoop die waarheid seëvier.